Hier is 3 benaderinge wat jy kan volg as hy bang is vir trou…
- Tough love (vir die man wat nie tot trou kan kom nie)
In haar boek ‘Getting to I Do’ (HarperCollins Publishers) stel Patricia Allen voor dat jy aan jou kêrel iets soos die volgende sê: “Ek verstaan dat jy nie wil trou nie en dit is jou reg, maar ek het dit nodig. So, as jy voel dat jy nie met my kan trou nie, kan ons nie saam wees nie.” As jy dit doen, moet jy egter besluit of jy bereid is om die verhouding te sien eindig, want die kans is daar dat hy uit jou lewe kan stap. Sy beweer dat dit ’n man minstens agt weke neem om te besluit. As hy jou binne agt weke nie terugbel nie, moet jy aanvaar dat die verhouding verby is.
’n Vrou moet ’n man soek wat haar behoeftes vervul, en nie haar behoeftes onderdruk om sy eie te vervul nie; daarom moet sy vir haarself liewer wees as vir die man wat nie haar drome wil verwesenlik nie.
Patricia meen dat dit nie ’n ultimatum is nie, maar ’n blote besluit om nie met minder tevrede te wees as wat sy in ’n verhouding nodig het nie. As ’n meisie wil trou, moet die man in haar lewe dit verstaan en sy moet hom toelaat om ’n besluit te neem. Die ultimatum-opsie is egter slegs veilig as jy wil trou en jy vermoed (of hy sê) dat hy nie van plan is om ooit met jou te trou nie, of dat trouplanne nie deel van sy denkraamwerk vorm nie.
- Nugterheid (oor die man wat jou gaan los en met ’n ander vrou gaan trou)
In ’n navorsingsverslag van Steven Carte en Julia Sokol toon hulle aan dat mans wat ongeneeslik aan toewydings-angs ly, dikwels sekere kenmerke openbaar. Hulle het ’n geskiedenis van kort verhoudings en die verskoning dat hulle nog nie die regte vrou ontmoet het nie. Hulle sê gewoonlik dat daar nog genoeg tyd is om te settle, en hul gunstelingwoord is: “Eendag …”. Hulle vorder vinnig met verhoudings en gooi nie tou op voordat hulle die vrou wat hulle op daardie tydstip begeer, verower het nie. Hulle is sjarmant en romanties en wys hulle liefde – hulle kán, want hulle weet dat die verhouding nie lank gaan duur nie.
Hulle speel gewoonlik die verleiding-/verwerpingspel. Hulle gee nie hulself in die verhouding nie, maar kan ook nie daarvan wegstap nie. Albei opsies laat hulle vasgevang voel. Hulle hou van die jagtog, maar het nie veel erg aan die prooi nie. Versoeke om respek word as eise gesien en maak hulle rebels. Hulle plaas hul werk, vriende en familie in verskillende kompartemente en dink verskonings uit hoekom die vrou in hul lewe nie hierdie mense behoort te ontmoet nie. Hulle hou nie van beplanning nie, want dit verg toewyding, en hulle is onbetroubaar.
Die navorsers stel voor dat jy nie dadelik met ’n man in die bed moet spring wat aan toewydings-angs ly nie (en ook nie met enige ander tipe nie!). Kyk na sy geskiedenis en los hom sodra jy hierdie gedrag herken. As jy reeds by hom betrokke is, sorg dat jý die pas aangee – nie hy nie. Bly onafhanklik en weet dat jou liefde hom nie gaan verander nie. Deur hom ruimte te gee, het jy miskien ’n kans. Moenie verskonings vir sy gedrag soek nie, en stel vas of hy in staat is, of wil verander.
- Geduld (met die man wat wil trou, maar net nie nóú nie!)
Gillian Reynolds skryf op www.ezinearticles.com dat jy ’n man wat toewyding vrees, versigtig moet benader. Dit maak nie saak wat hy sê nie, die kanse is goed dat hy op ’n stadium in sy lewe sal wil trou. As jy hom liefhet en wil hê dat hy jou sy lewensmaat moet maak, moet jy troupraatjies vermy. As jy een keer gesê het dat jy wil trou, is dit genoeg. Moenie skimp, of vertel hoe gelukkig jou getroude vriendinne is nie. Hoe meer jy hom in daardie rigting gaan druk, hoe meer gaan hy wegbeur.
Kliek hier vir die volledige artikel: As hy nie aan die trou-gedagte wil byt nie