Ja, dit is lekker om getroud te wees. Maar is “lekker” ‘n goed genoeg rede vir jou om hierdie stap in jou lewe te neem? Hoekom het ons werklik die huwelik nodig en watter waarde kan dit tot jou lewe toevoeg?

Promosie

Danie en Janine vier vanjaar hul dertiende huweliksherdenking. Hulle is “gelukkig genoeg” en het geleer hoe om te komunikeer, konflik te hanteer en kinders te dissiplineer. Maar vra jy hulle hoekom hulle besluit het om te trou, antwoord Danie: “Dit was die volgende stap, die regte ding om te doen. Dis mos maar hoe dit werk: ‘n Paartjie ontmoet mekaar, gaan ‘n paar jaar uit, en dan begin almal om ‘n mens trou.”

Janine voeg by: “Dit is ook wanneer ‘n mens se ouers jou begin druk en vra wanneer daar ‘n ring kom … in ons geval was dit nie anders nie.” Hoewel Danie en Janine van die gelukkige paartjies is wat dit laat werk het, was die redes waarom hulle die besluit geneem het, nie goeie redes nie. Daar is talle paartjies wat trou omdat hulle glo dit gaan verhoudingsprobleme uitsorteer, omdat hulle glo hulle het die “jackpot” getref met ‘n maat wat hot en ryk is! En omdat hulle bang is vir eensaamheid.

Ons word ook aangepor om te trou en getroud te bly, omdat egskeiding ‘n rits nadele vir jou as individu kan inhou. Ons word gewaarsku dat kinders wat buite huwelike grootword, ‘n groter kans het op armoede, kindermishandeling, dwelmverslawing, swak prestasie op skool, selfmoord en ongehude swangerskap. Die bangmaak-taktiek motiveer ons om dié dinge te vermy deur eerder getroud te bly. Maar alle negatiwiteit opsygeskuif – om te trou en getroud te bly, hou verskeie voordele in!

Promosie

Maggie Gallagher het navorsing gedoen oor wetenskaplike bewyse van die effek wat die huwelik op volwassenes het vir haar boek The Case for Marriage. Op city-journal.org skryf sy: “Wat ek gevind het, het my verras. Stilweg, sonder veel van’n ophef, is ‘n breë en diep massa van wetenskaplike literatuur bymekaargemaak wat bevestig wat Genesis ons leer: Dat dit nie goed is vir ‘n man om alleen te wees nie – ook nie vir ‘n vrou nie. Op moontlik elke manier wat sosiale wetenskaplikes dit kán meet, doen getroude mense baie beter as ongetroude of geskeide mense: Hulle leef langer, gelukkiger, gesonder, sexier en meer gegoede lewens.”

TROU EN BLY GETROUD WANT

… jou huwelikskontrak is nie net ‘n stukkie papier nie. Natuurlik is dit nie. ‘n Inkopielysie, ‘n R200-noot, ‘n huis-akte, ‘n skei-dokument, ‘n testament en ‘n laaste brief aan ‘n geliefde word tog alles op “’n stuk papier” gedruk en tog verskil die emosionele waarde van elkeen van hierdie stukkies papier radikaal. Deur jou huwelik amptelik te maak, gee jy waarde daaraan wat jul verhouding sterker en meer betekenisvol kan laat voel. Getroude mense is ook verantwoordelik teenoor en verantwoordelik vir ‘n ander mens. Beide die helftes van daardie dinamiek, lei tot meer verantwoordelike, vrugtevolle en bevredigende lewens. “Die huwelik is ‘n transformerende daad wat verander hoe twee mense na mekaar, die toekoms en hul rolle in die gemeenskap kyk.”

… die huwelik sal jou veiliger laat voel en veiliger laat wees. Wanneer jy en jou maat trou, vorm ‘n onsigbare dop wat julle beskerm teen uitdagings. Julle sal mekaar ondersteun – deur dik en dun. Dit kan angs en jaloesie uit ‘n verhouding verwyder en jou soveel veiliger laat voel. Maar dit is nie nét ‘n gevoel nie. Die huwelik hou jou ook veiliger op ‘n fisieke vlak en navorsing toon dat enkellopende en geskeide vroue vier tot vyf keer meer geneig is om slagoffers van geweldsmisdaad te wees as getroude vroue.

… dit maak jou deel van ‘n span. Wanneer jy en jou maat trou, is julle ‘n permanente span wat saamwerk as ‘n familie. Getroude mense het die selfvertroue om belangrike lewenstake te onderneem, want dit gee aan hulle twee keer die talent, twee keer die tyd, en twee keer die werksmag as wat enkellopendes het. Sielkundiges gebruik die term ‘transformering van motivering’ om mense te beskryf wat getroud is. Dit beteken dat ‘n paartjie saamwerk om die beste uitkoms vir albei te kry en nie meer uit ‘n perspektief van self-belang funksioneer nie. Pshycology Today beskryf dit soos volg: “Dit vereis die vermoë om langtermyn-doelwitte van die verhouding in gedagte te hou. Met motivering getransformeer is maats meer geneig om ‘n oomblik te neem om te oorweeg hoe om te reageer, eerder as om reflektief in die hitte van die oomblik te reageer.” Maggie meen ook dat omdat die huwelik ‘n vennootskap is wat gerugsteun word deur familie, gemeenskap en geloofswaardes, dit kan doen wat ekonomiese venootskappe nie kan doen nie: Dit gee ‘n groter sin van betekenis aan die lewe…

… dit kan jou lewe red. Getroude mense leef langer en gesonder lewens as ongetroudes – veral in hul laat-middeljare. Daar is gevind dat nege uit tien getroude mans wat op 48 leef, die ouderdom van 65 sal haal – teenoor slegs ses uit tien enkellopende mans. Nege uit tien vroue wat op 48 leef en getroud is, sal senior burgers word – teenoor slegs agt uit tien geskeide en enkellopende vroue. Stastistici Bernard Cohen en I-Sing Lee, wat ‘n katalogus met relatiewe mortaliteits-risiko’s saamgestel het, meen dat om ongetroud te wees, een van die grootste risiko’s is waaraan mense hulself kan blootstel. As jy hartsiekte het, verlaag dit ‘n getroude man se lewensverwagting met sowat ses jaar, maar ‘n ongetroude man s’n met tien jaar. Om ‘n maat te hê, verlaag ‘n kankerpasiënt se risiko om aan die siekte te sterf. Om ‘n maat te hê, verlaag jou kans om in die hospitaal te sterf. Wetenskaplikes het selfs gevind dat gelukkig getroude paartjies beter funksionerende immuunstelsels het! Geskeide mense het selfs tien jaar ná die egskeiding nog laer vlakke van immuunfunksionering.

… dit het ‘n positiewe effek op jou beursie.  Nee, dit is nooit ‘n goeie idee om te trou om finansiële redes nie! Maar die huwelik hou wel finansiële voordeel in. Daar word geskat dat getroude mans tot sowat 40% meer geld verdien as hul ongetroude eweknieë! By vroue geld dieselfde statistiek (tot hul kinders kry). Getroude pare maak ook meer bates bymekaar as enkellopende mense wat meer lewenskostes het. Getroude paartjies bespaar nie slegs op monetêre onkostes nie, maar ook op nie-monetêre onkostes soos tyd en energie. Hulle deel ‘n huis en kan daarom in sekere take spesialiseer en werk verdeel sodat hulle hoë produksie, met minder moeite toon.

… dit hou jou en jou maat seksueel meer getrou. Nee, om te trou is nie ‘n waarborg dat jy seksuele ontrouheid deur jou maat sal vryspring nie, maar mans wat saam met hul maats bly, is vier keer meer geneig om te verkul as getroude mans. En vroue wat saam met lewensmaats woon is agt keer meer geneig om hul maats te verkul as wat getroude vroue hul mans sal verkul! Getroud-wees is ‘n belofte van ewigheid. Slegs een uit tien saamwoon-paartjies woon steeds saam ná vyf jaar – teenoor 80% paartjies wat ná ‘n huwelik van vyf jaar steeds getroud is (by eerste huwelike). In Maggie se woorde: “Die huwelik beteken dalk ‘n hoër risiko as voorheen, maar as dit kom daarby om die liefde te laat hou, is daar steeds geen beter weddenskap nie.”

… die seks is lekkerder en meer gereeld. Getroude mense is meer geneig as enkellopendes of saamwoon-paartjies om uitsonderlik bevredigende sekslewens te rapporteer! Ja, Sex and the City en Tinder laat dit dalk lyk asof enkellopendheid met baie seks gepaard gaan, maar statistiek wys die teendeel. Nie net het getroudes méér seks nie, maar hulle is ook meer geneig om dit as hoogs bevredigend te ervaar.

… dit is goed vir jou gees. Getroude mans en vroue is minder depressief, minder angstig en beleef minder spanning as enkellopende mense, geskeides en wewenaars/weduwees. Egskeiding verswak beide mans en vroue se geestesgesondheid. Dit verlaag die selfbeeld en ‘n mens se lewensdoelwit. Wanneer mense skei, is hulle baie meer geneig om hul eie lewens te neem en getroude is ook baie minder geneig tot selfmoord as ongetroude vroue. Altesaam 40% van getroudes verklaar dat hulle “baie gelukkig” met die lewe oor die algemeen is, teenoor slegs ‘n kwart van enkellopende mense. Net 18% van geskiede mense sê dieselfde…

So, is dit waarlik net ‘n nuttelose stuk papier? Of is die huwelik baie meer as dit? Maggie sê “… iets oor die huwelik as ‘n sosiale instelling – ‘n gedeelde aspirasie en ‘n openbare, wettige belofte – gee die huwelik die mag om individue se lewens te verander.”

Hoekom sal jy dié geleentheid van die hand wou wys…?

Addisionele bronne: www.hackspirit.com; www.city-journal.org

Artikel deur Annelize Steyn

***

Indien jy meer sulke artikels soek en nie ‘n enkele stukkie raad van INTIEM wil mis nie KLIEK HIER en maak seker jy ontvang ons weeklikse nuusbrief!