Om sexy te wees, hoef jy nie ’n ragfyn korset met kousbande en spykerhakke aan te skaf nie (hoewel dit tog by manlief punte sal tel). Té veel vroue dink dat hulle te oud, oorgewig, preuts, arm of realisties is om vir hul mans sexy te wees, maar die waarheid is dat elke vrou haarself seksueel aantreklik kan maak…

So, hoe lyk die tipiese warm, sexy vrou? Die samelewing is só geneig om die begrip “sexy te koppel aan beelde van platinumblonde hare, ’n groot borsmate, swart leer, eina-bikini’s, baie grimering en sonverslawing. As jy jou moet voorstel hoe die gemiddelde man “sexy sou skets, sal jy waarskynlik ’n superwese met die volgende eienskappe in jou kop optower: Claudia Schiffer se hare, Caprice Bourret se boesem, Angelina Jolie se lippe, Heidi Klum se lengte en Penélope Cruz se stem… en so kan jy aangaan. Buite jou bereik, nê? Wel, die goeie nuus is dat die meeste mans nie sulke hoë standaarde het nie en dat dit dikwels vroue is wat, te wyte aan die media, onrealistiese eise aan hulself stel.

In ’n studie deur msn.com het meer as 75% van die meer as 10 600 Amerikaners wat ondervra is, gesê dat sexy meer met houding as perfekte voorkoms te doen het. Meer as 76% het gesê ʼn vrou kan sexy wees, selfs al dra sy ’n nommer 14, of groter. Suid-Afrika is vol sexy, warmbloedige vroue wat mans – veral hul eie – laat swymel. Jý kan een van hulle wees. Selfs al is jy aan die verkeerde kant van 40 met breë heupe, drie kinders en ’n klerekas wat saamgestel word uit kettingwinkel-uitverkopings.

Om te glo dat uiterlike voorkoms niks tel nie, is naïef. Die msn-studie het gewys dat vroue (84%) baie meer geneig is as mans (63%) om te sê dat sexyness van ’n persoonlikheidseienskap afhang, eerder as voorkoms. Dit is immers nie ’n vrou se humorsin wat die man op straat sy kop sal laat draai nie. Onthou egter, jou teikenmark is nie die man op straat nie, maar die een wat snags langs jou lê. In die studie was dit die enkellopendes eerder as die getroudes wat klem gelê het op uiterlike voorkoms en hoe ouer die deelnemers was, hoe swaarder het innerlike eienskappe vir hulle geweeg.

Warmbloedige sexyness hét baie te doen met jou houding, jou ingesteldheid en wie jy is. Dit is iets wat jy na buite uitstraal en wat uiteindelik aan jou voorkoms kleef sodat die man in jou lewe die donker kringe onder jou oë en die ouderdomsproete op jou hande miskyk…

Hoe lyk ʼn ware sexy vrou?

Soms sien jy ’n vrou met ’n gemiddelde voorkoms saam met ʼn uiters aantreklike man en wonder hoe sy dié boerpot geslaan het! Ná vyf minute in haar geselskap, dink jy egter: “Hy kan sy sterre dank!” ’n Ander vrou straal vanuit die staanspoor ’n onweerstaanbare aantreklikheid uit, ten spyte van ’n volronde sitvlak of oë wat dalk té naby aan mekaar sit. Jy wens miskien jy kan soos sy wees, maar jy kan nie jou vinger lê op wat haar so besonders maak nie… daarom doen ons dit vir jou:

’n Ware sexy vrou . . .

  • . . . is ’n goeie mens. Sy is die soort mens wat jy, ten spyte van haar skoonheid, alleen saam met jou man in die kombuis sal los. ’n Ware sexy vrou is nie net onweerstaanbaar vir mans nie, maar sy is ook elke vrou se beste vriendin.
  • . . . is natuurlik. Sy kan nie haar sexy voorkoms aan- en afskakel nie en dit is deel van wie sy is. Of sy nou voor die televisie lê met dik sokkies, ’n kamerjas en ’n verkoue en of sy ’n liefdadigheidsgeleentheid in ’n balrok bywoon – sy is bloot aantreklik.
  • . . . wakker haar man se nuuskierigheid aan. ’n Man hou van die vroulike argetipe wat ’n vrou se sensualiteit en seksualiteit met die onskuld en eindelose energie van jeugdigheid kombineer. Dink aan Marilyn Monroe – haar volronde lyf, delikate gelaatstrekke en uitnodigende stem het al die eienskappe van ’n verleidelike jong meisie en ’n vrou met ervaring gekombineer.
  • . . . hoef nie vlees te wys om sexy te wees nie. Sy lyk sexy, ongeag of sy van kop tot tone bedek is in ’n trui, denim, serp en stewels. Dit is omdat haar bekoring eerder in haar kyk en haar woorde as in haar borsgleufie lê.
  • . . . maak die beste van wat sy het. Sy ken haar goeie eienskappe en beklemtoon hulle. As sy uitsonderlike oë het, belê sy in oogomlyner en maskara en as haar hande haar beste bate is, tooi sy hulle met ringe.
  • . . . is ’n gelowige vrou wat weet dat God haar uniek geskape het. Sy is egter nie só selfvoldaan dat sy nie geloof in haar lewe nodig het nie en dien die Here met selfs meer passie en energie as wat sy alles anders in haar lewe aanpak.
  • . . . laat nie toe dat minder perfekte liggaamsdele haar lewe miserabel maak nie. Daarom steek sy dit nie weg nie. ’n Ware sexy vrou sien ’n moesie as haar unieke stempel en beklemtoon dit. Sy probeer nie haar groot neus wegsteek nie, maar haar glimlag is só breed dat haar neus haar mooiste gelaatstrek word.
  • . . . gee aandag aan besonderhede. Sy dra sexy onderklere, al sien niemand dit raak nie. Sy dra gehalte-parfuum, selfs al werk sy in haar eie tuin. Haar skoene is skoon, haar handsak is netjies en sy gee baie aandag aan persoonlike higiëne.
  • . . . raak gereeld aan haarself op ’n verleidelike manier. Sy speel met haar hare en vleg haar vingers ineen. Maar ’n sexy vrou is nooit selfbewus nie, en as sy is, wys sy dit nie deur haar hande senuagtig te klem of kort-kort lipstiffie aan te wend nie.
  • . . . inspireer haar man. Volgens die Griekse mitologie was die Muse nege godinne wat kunstenaars en wetenskaplikes geïnspireer het om uit te styg. Elke man wil ’n inspirerende vrou hê om sy godin te wees. Inspirasie kan baie vorme aanneem. ’n Vrou kan haar man aanmoedig en hom só die energie gee om deur te druk met ’n taak. Sy kan die regte woorde op die regte tyd gebruik, sy klankbord wees of ’n goeie brainstorming partner wees.
  • . . . is nie gemeen of arrogant nie. Sy voel nie bedreig nie en is tevrede met wie sy is – sonder om heeltyd daarmee te koop te loop. Sy is ook nie jaloers of besitlik nie, want sy wéét sy is haar man se nommer een keuse.
  • . . . weet dat sy haar man kan verlei deur soms subtiel haar nek, polse en enkels ten toon te stel. Sy begryp dat té veel ontbloting nie veel aan die verbeelding oorlaat nie en jaag daarom soms haar man se bloeddruk op deur net hier en daar ’n stukkie delikate vlees te wys… in die slaapkamer is dit natuurlik ’n ander storie!
  • . . . gee nie om of sy te kort of te lank is nie. Sy dra haarself altyd trots. Sy loop met ’n regop houding, haar kop omhoog en skouers terug. Haar houding is altyd elegant.
  • . . . is nie bekommerd dat haar hare nat word wanneer sy saam met haar man na die Victoria-valle kyk nie. Sy bekommer haarself ook nie dat sy haar grimering sal smeer wanneer hy haar hartstogtelik vashou en soen nie. Sy leef vir die oomblik en omhels passie.
  • . . . is bekoorlik, begeerlik en pret om mee tyd saam deur te bring. Sy is avontuurlustig en sal haar eie grense versit om haar man gelukkig te maak. As hy met ’n opblaasbootjie op wit waters wil vaar en sy het ’n vrees vir water, onthou sy dat dit ʼn herinnering is wat sy saam met hom sal skep – een wat nie gekoop kan word nie. Sy is ’n bok vir sports en ’n goeie vriendin.
  • . . . hoef nie baie klere te hê nie, maar dit wat sy het, moet in ’n goeie toestand wees en goed pas. Sy het minstens een klassieke uitrusting vir elke soort geleentheid en al het haar klere ’n appel en ’n ei gekos, kan sy altyd deur ’n ring getrek word.
  • . . . se verleidelikheid word gebore vanuit haar vermoë om op die persoonlike en emosionele welstand van ander te fokus. Sy is belangstellend teenoor ander en praat nie net oor haarself nie.
  • . . . gedra haarself soos ’n vroulike wese. Sy is nie destruktief nie, sy beskou haar liggaam as ’n tempel en daarom rook sy nie en is sy ook nie ’n voorstander van tatoeëermerke nie. Sy is positief en gebruik daarom ook nie kragwoorde, kras taal en vloekwoorde nie.
  • . . . praat met charisma, selfs al voel sy die dag ’n bietjie vaal. Sy klink nooit geïntimideerd nie. Sy sê haar sê met ’n sterk stem en mense weet hulle kan nie oor haar loop nie.
  • . . . dwing gesag af en daarom weet sy iets van alles. Sy is nie noodwendig ’n breinchirurg nie, maar sy kan haarself handhaaf in elke gesprek. En wanneer sy wel oningelig is oor ’n onderwerp, probeer sy nie voorgee dat sy wel iets weet nie, maar vra sy belangstellend uit en luister aandagtig.
  • . . . is só selfversekerd dat dit ander nie bedreig nie, maar hul vertroue in haar bemoedig. Sy weet wat sy wil hê en wat sy het om te bied sonder om te probeer beïndruk of te probeer tevrede stel. Haar selfvertroue sluit ander in.
  • . . . weier om toneel te speel. Sy onderwerp haar nie aan enige reëls wat die samestelling daarstel nie en speel ook nie die rol van die verleidelike nimf nie, maar het eerder ’n seksuele instink wat natuurlik van binne af gedryf word.
  • . . . is nie afbrekend en afhanklik nie. ’n Sexy vrou kan so aantreklik, intelligent of sosiaal charismaties wees soos sy wil, maar as haar seksuele self klouerig, bitter, swak of baasspelerig is, sal haar outentieke seksuele intensiteit daardeur teruggehou word.
  • . . . wys reguit dat sy ’n man waardeer. Sy is speels, uitgesproke, onkonvensioneel en snaaks. Mans sukkel om haar reguit houding en selfvertroue te weerstaan. Daardie vrou word versinnebeeld deur Mae West met haar onvergeetlike stoute reël: “Is that a pistol in your pocket, or are you just happy to see me?” Sy is ’n kopdraaier wat baie manlike aandag kry en sy reageer vol geesdrif daarop.
  • . . . geniet die waardering van ander mans en waardeer ʼn mooi kompliment, maar het slegs oë vir haar eie man. Dit is net teenoor hom wat sy seksuele suggesties maak en met hom wie sy openlik flankeer.
  • . . . is nie bang om haar man te verlei nie. Sy geniet haar seksuele energie en maak die beste van haar lewe. Sy leef die lewe ten volle en is nie bang om kanse te waag en innerlik te groei nie. Sy is sensueel. Sy hou van seks en is eroties.
  • . . . is veranderlik. Dit beteken nie sy is ’n verkleurmannetjie wat elke paar dae haar haarstyl en persoonlikheid verander nie, maar wel dat sy vars is in wat sy sê en dink. Sy is ’n aanpasbare, buigbare, innoverende en kreatief ewig-veranderlike wese – iets wat aan haar ’n sweem van misterie gee.
  • . . . lei haar eie lewe en is nie afhanklik van haar man of kinders om haar gelukkig te maak nie. Sy doen dinge wat sy geniet en het nie ander mense nodig om te bevestig of sy die regte ding doen en of sy dit reg doen nie – sy weet self.
  • . . . is nie kompeterend met haar man nie. Sy weet wanneer om hom op sy beste te laat lyk. Sy lag vir sy grappe voor ander mense, staan vir hom op in ’n geselskap en bly aan sy sy wanneer die wêreld vir hom warm raak. Sy laat die kollig op hom val wanneer dit nodig is en haar sexy man doen natuurlik dieselfde vir haar.
  • . . . kan met grasie vir haarself lag. As haar skoen se hak by ’n sosiale geleentheid breek en sy plat op haar neus drie trappe ver val, staan sy op sonder ’n tranedal, pluk haar skouers en haar rompie reg, glimlag breed en sê iets wat haar menslikheid beklemtoon. Dit laat almal onmiddellik lag en vergeet wat pas gebeur het.
  • . . . staan op vir haar regte. Sy laat nie toe dat haar man of enigiemand met haar mors nie. Sy weet sy is meer werd as dit en dít is wat haar sexy maak.
  • . . . skeep nie haar voorkoms af nie. Die feit dat sexyness hoofsaaklik van binne af straal, is gerusstellend, maar dit gee nie aan ’n man oogklappe nie. Hy gaan dit steeds raaksien as sy vrou dag in en dag uit met ’n oorgroot T-hemp en vuil hare rondloop of met stukkende onderklere bed toe gaan en met afgedopte pienk naellak uitgaan. Om innerlik sexy te wees, gee nie aan ’n vrou ’n lisensie om haarself uiterlik af te skeep nie. ’n Man wil voel sy vrou doen moeite vir hom.

Moenie dat hierdie lys jou moed tot in jou skoene laat sak nie. Jy het nie ál hierdie eienskappe nodig om ’n sexy vrou te wees nie, maar as jy hier lees, is die meeste van hulle waarskynlik reeds op jou van toepassing.

Oorkoepelend is mans mal oor vroue wat lief is daarvoor om vrou te wees, sê Ryan Howes (PhD), Richard Rupp (MFT) en Stephen W. Simpson (PhD) in hul boek What Wives Wish Their Husbands Knew about Sex. Volgens dié skrywers hang jou aantreklikheid nie af van hoeveel vlees jy wys of hoe gereeld jou hande na sy ritssluiter beweeg nie (hoewel die meeste mans definitief nie hierteen beswaar sal hê nie!), maar: “Die sexyste vroue is húlle wat selfversekerd voel oor hul eie identiteit, opinies, drome en doelwitte. Moenie jou lewe of identiteit in hom verloor nie: Groei in jou eie.”

Die skrywers sê ook dat selfvertroue jou sal help om seks met jou man meer te geniet. Veral vroue wat soms leiding neem op seksuele gebied is vir mans onweerstaanbaar. Selfs die Bybel moedig vroue aan om hul seksualiteit te geniet in die boek Rut, waar Naomi haar geleer het hoe om vir Boas te verlei. Om seksueel leiding te neem, moet jy goed oor jouself voel. En om goed oor jouself te voel, is die sexyste geskenk wat jy aan jou man kan gee, meen die skrywers. Onthou, God het bedóél vir Christenvroue om goeie minnaresse te wees. So, omhels jou seksualiteit en gebruik dit tot jou én manlief se voordeel om jul huwelik te laat uitstyg!