Rituele tussen jou en jou maat kan die verskil beteken tussen ’n bla-huwelik en een waarin jou en manlief se intimiteit seëvier.
Die dag toe jy voor die kansel gestaan het, het jou en jou maat se liefde op die heel boonste trappie getriomfeer. Niks sou ooit weer só belangrik wees nie, het jy geglo. Julle geluk het voorrang geniet en jy sou alles in jou vermoë doen om seker te maak dat dinge so bly.
Ná die wittebrood het jy elke oggend vir hom ontbyt in die bed geneem, daarna het julle seks gehad, saam koerant gelees en mekaar in die badkamer geterg terwyl julle tande geborsel het en mekaar met ’n lang soen voor werk totsiens gesê. Elke Vrydagoggend het jy ’n skelpienk Gerbera in jou ruitveër gekry, elke Saterdagoggend het julle lank met jul twee worshonde gaan stap en elke Saterdagaand kon jý die chick fliek kies. Sondagoggende was julle saam kerk toe en Sondagaande het julle voor die televisie aan die slaap geraak.
Julle liefde was prioriteit en terwyl lank getroude vriende laggend gesê het dat julle naïef is om te glo dat dinge vir altyd so gaan bly, was jy veilig toegenestel in die kokon wat om julle gespin was. Een waarin julle vir lank en gelukkig tevrede sou kon bly…
Maar toe word daar ernstig besnoei by jou man se werk en is hy, in sy junior posisie, die trekpas gegee. Soggens, terwyl jy nog geslaap het, was hy op die Internet, op soek na ander werk. Die nuwe seisoen het aangebreek en Gerberas was nie so geredelik beskikbaar nie… Daar was nie geld vir fliek nie en toe jy eindelik ’n beter werk losslaan wat die spanning effens kon verlig, moes jy vroeg op ’n Sondagaand bed toe om vir Maandagoggende se vroeë tog op die N1 voorsiening te maak.
In slegs ’n paar maande se tyd het jul liefde drie trappies teruggeskuif.
Toe gaan een van die worshonde aan bosluiskoors dood. Jou suster-hulle trek Nieu-Seeland toe en jy word Kaap toe verplaas. Nog ’n trappie laer. Die volgende maand het jy ontdek dat jou maandstonde laat is. Veertien weke later het julle die nuus gekry dat dit ’n tweeling is en 30 maande later het jy nie meer geweet of julle huwelik enigsins meer op die prioriteitsleer staan nie. Vandag, ses jaar later, piksoen julle mekaar in die verbygaan… op goeie dae.
Wanneer die alledaagse met romanse inmeng
Die besonderhede verskil, maar elkeen van ons se storie lyk min of meer só, nie waar nie? “Kon die huwelik maar ’n ewige wittebrood bly? Hoe het dinge so onder ons hande uitgegly?” vra paartjies elke dag. “Ons is tevrede in ons huwelik, maar nie ekstaties gelukkig nie…” Dit gebeur as jy nie kyk nie, ómdat jy nie kyk nie. “Daar word gesê dat die grootste bedreiging vir die moderne huwelik, die alledaagse is,” skryf Geoff Steurer in sy artikel, Rituals in Marriage. Geoff is ’n huweliks- en gesinsterapeut van St George, wat daarin spesialiseer om vertroebelde huwelike te help red.
“Die meeste paartjies begin hul huwelik met die opregte voorneme om vir die res van hul lewens emosioneel verbind te bly. Baie paartjies ontdek egter dat hulle mettertyd fisiek en emosioneel uit mekaar begin dryf.” Die meeste van ons tyd word daaraan bestee om ander mense tevrede te stel, meen Geoff. Almal weet dat gestruktureerde tyd saam met elkeen van jou kinders broodnodig is. Dit is egter ewe nodig vir ’n huwelikspaar, meen Geoff. “As ’n huwelik as afsonderlik as ‘n entiteit beskou word, is dit meer geneig om gekoester te word.”
Gaan jou huwelik vir ewig lou wees?
Geoff meen dat ’n gesonde huwelik nie net prakties is nie, maar ook diep persoonlik. ’n Praktiese huwelik bestaan uit twee maats wat saam woon, die kinders versorg, die huishouding bestuur en solo-aktiwiteite, soos televisie kyk, beoefen. Daarenteen sorg ’n persoonlike huwelik vir ’n gevoel van nabyheid en verbintenis. Dit is moontlik om jou huwelik weer die trapleer te laat klim. Een manier om ’n praktiese huwelik in ’n persoonlike huwelik te verander, is om huweliksrituele te vestig. Die definisie van ’n ritueel is ’n sosiale interaksie wat herhaal word, gekoördineer word en uitsonderlik is.
In die huwelik is herhaling soms nie so prakties nie! Dít wat julle eens op ’n tyd baie geniet het om saam te doen, is skielik deur meer noodsaaklike take vervang, daarom verg rituele beplanning. ’n Eenvoudige gesprek oor wat, waar en hoe julle jul tyd saam gaan deurbring, kan wense en drome na jou kalender verplaas, meen Geoff. Derdens hou rituele betekenis vir albei partye in. Daar is waarskynlik baie dinge wat julle gereeld en herhaaldelik in jul huwelik doen, maar wat min spesiale betekenis vir julle inhou. As jy kan vasstel wat die verskil tussen herhaling en rituele is, kan jy laasgenoemde gebruik om ’n merkwaardige verskil in jou huwelik te maak!
Rituele in jou huwelik kan maklik, prettig en speels wees. Dit moet privaat wees en dit is dikwels roerend en betekenisvol. Elke paartjie se rituele verskil, maar dit is daardie klein dingetjies wat julle twee op ’n gereelde basis herhaal (daagliks, maandeliks of jaarliks) wat ’n verskil maak. Dit is ’n manier om weer met mekaar in voeling te kom en jul liefde vir mekaar te bevestig.
Maak rituele werklik ’n verskil?
Dr. Carol Bruess, outeur van What Happy Couples Do, sê dat rituele jou ’n sin van geskiedenis, voorspelbaarheid, speelsheid en ook iets gee om na uit te sien. “Ons belê energie in soveel dinge, behalwe in ons huwelike. ’n Huwelik is in die klein dingetjies. Liefde is regtig ’n werkwoord. Jy moet net uitvind wat vir jou huwelik werk en dit doen.”
Carol het geïnteresseerd geraak in die idee van private rituele nadat sy ’n ouer paartjie dopgehou het wat vroeg in hul huwelik as mentors vir haar en haar man gedien het. “Hy sou sy vrou dikwels aanspreek as: ‘O, beautiful wife of mine’. Ek het opgemerk hoe, net deur dit te sê, die hele toonaard en nuanse van hul interaksie verander het.” In 2001 is ’n interessante bevinding deur die Openbare Sakekantoor van die Amerikaanse Sielkundige Vereniging gemaak. Daar is bewys dat paartjies wat deelneem en betekenis in geestelike vakansiedag-rituele vind, soos om die huis vir Kersfees te versier of adventkerse aan te steek, se huwelike hierdeur versterk word. Dit is bewys na aanleiding van ’n studie wat bevind het dat paartjies meer tevrede met hul huwelike is as hulle betekenis in gedeelde geestelike vakansiedag-rituele kon vind.
“Die paartjie se private wêreld van intieme bande en verbintenisse word dikwels deur die uitoefening van geestelike rituele in die ope gebring,” meen die outeurs. “En die paartjie kan hul verbintenis en intimiteit deur die uitoefening van betekenisvolle rituele herbevestig.”
Hoekom is rituele vir ons belangrik?
Die behoefte om aan iemand verbind te voel, begin by jou geboorte en in jou kindertyd wanneer daar ’n behoefte aan binding met ’n versorgende figuur is. Wanneer paartjies inkom vir hulp, is die grootste probleem ’n gevoel van diskonneksie en ’n gevoel dat hy of sy nie vir die ander persoon saak maak nie. Die vraag word dan gevra: “Hoe laat ek my maat verstaan dat hy of sy regtig vir my belangrik is?” sê Karen Sherman, ’n praktiserende sielkundige in verhoudings en leefstylkwessies.
“Daar is soveel klein dingetjies wat jy in jou huwelik kan doen wat jou maat kan laat verstaan hoe lief jy hom het,” verduidelik sy. Dit kan by die erkenning van verjaardae en huweliksherdenkings begin, sodat jou maat nooit hoef te voel jy het hom of haar vergeet nie.”
’n Intensionele huwelik
William Doherty, ’n huweliks- en gesinsterapeut en sielkundige, skryf: “’n Intensionele huwelik is een waarin die maats bewus, doelbewus en berekenend daaroor is om oor die jare heen ’n verbintenis op te bou, want as ons, in hierdie era, nie intensioneel is nie, sal ons automatic pilot paartjies word.” Hiermee bedoel hy dat die natuurlike vloei van huweliksverhoudings in die moderne lewe, met volgepakte skedules, eindelose take, kinders om te versorg en die ewig teenwoordige televisie en ander media, waar die fokus al hoe minder op die huweliksverhouding val, met swakker verbintenisse, minder vonk en minder intimiteit gepaard gaan. “Die teenvoeter van die pad na ’n automatic pilot paartjie, is om ’n intensionele paartjie te wees wat oor die jare rituele kultiveer.”
WAARUIT BESTAAN RITUELE?
Rituele kan een keer per jaar of daagliks geskied. Die geheim is dat dit herhaal word. Die verskil tussen ’n ritueel en ’n roetine is die uitsonderlikheid daarvan. Rituele kan so onromanties klink soos om saam inkopies te doen. Enigiets kan in ’n bindingsritueel verander word.
William verdeel rituele in drie afdelings: rituele van verbintenis, rituele van intimiteit en rituele van gemeenskap. Rituele van verbintenis is om mekaar in die oggende te soengroet, om saam te gaan koffie drink en te gesels. Om saam in die tuin te werk, is ’n bindingsritueel. Intimiteitsrituele sluit afsprake in waar julle spesiale tyd saam deurbring en sekere patrone van seksuele intimiteit vestig, byvoorbeeld tydens ’n spesiale geleentheid soos Valentynsdag.
Gemeenskapsrituele is aktiwiteite waar paartjies die groter wêreld betrek deur betrokkenheid by ’n geestelike gemeenskap, buurtaktiwiteite en kuier saam met vriende.
William vertel hoe hul groetritueel gou ná die geboorte van hul kinders in iets soos die volgende ontaard het: “Haai, Eric het opgegooi en Beth was stout,” of “Het jy onthou om die garagedeur toe te maak?” Hulle het gou agtergekom dat hierdie groetroetine nie meer vir hulle werk nie en besluit om ’n radikale verandering te maak deur elke keer wanneer hulle mekaar groet te sê: “Hallo, Liefling. Hoe gaan dit?” Met ’n soen en ’n drukkie.
William vertel hoe een paartjie by ’n werksessie van hul groetritueel vertel het. Hulle het agtergekom hoe ongelooflik entoesiasties hul Golden Retriever is as een van hulle by die huis kom en hulle het besluit om hul hond ore aan te sit! Wat hulle nou doen, is om na mekaar toe te hardloop, in die lug te spring met hul hande waaiend en skreeuend van genot! Dit klink dalk laf, maar dit is speels en ’n vreugde vir hul kinders om te aanskou.
Toe hul jongste kind vier jaar oud was, het William en sy vrou, Leah, ook ’n praatritueel gevestig. “Ná ete sal ons opruim, vir die kinders nagereg gee, een van ons sal begin koffie maak en dan sal ons ons kinders aansê om te gaan speel. Ons het hulle geleer om ons in vrede te laat terwyl ons ons koffie geniet, sodat ons kan gesels. Ons het vir hulle gesê om ons nie te onderbreek nie, tensy die huis afbrand of iets soortgelyks, in welke geval hulle altyd 911 kan bel, en ons dán kan onderbreek. Só het ons ongeveer 15 minute per dag om as paartjie te gesels.” Hierdie ritueel verg baie beplanning. Daar is nie bloot gesê dat hulle sal kyk wanneer hulle 15 minute ingepas kry nie, daardie tyd is bepaal.
Natuurlik werk dit nie altyd so uit nie. Wanneer William of Leah direk na ete moet ry, sal hulle dit altyd noem dat hulle die ritueel gaan misloop. “Een van die maniere waarop jy weet dat jy ’n soliede ritueel het, is dat jy dit agterkom as jy dit om die een of die ander rede nie kan doen nie. As jy dit slegs oorslaan, kommunikeer jy die boodskap dat dit nie belangrik is nie.”
So, die eerste fase van enige ritueel, is die oorskakeling na rituele ruimte. Die tweede is die uitvoering daarvan. Jy moet byvoorbeeld ’n paar reëls hê, meen William, soos dat praatrituele nie uit gesprekke oor die elektrisiteitsrekening mag bestaan nie. Geen probleemoplossinggesprekke en geen konflik nie. Dit gaan daaroor dat julle op ’n persoonlike vlak verbind. Die derde fase van ’n ritueel is ’n uitgangstadium, ’n manier om die ritueel te beëindig. As jy dit nie vasstel nie, kan die een dalk net opgewarm raak, terwyl die ander een besig is om af te skakel.
In William en Leah se geval werk dit so – sodra die koffiekoppies leeg is, hou hulle op met gesels. Hulle hoef nie daaroor te onderhandel nie, anders skep dit weer ruimte vir konflik. William meen dat rituele maklik bedreig word. Wanneer jy uit jou daaglikse roetine beweeg, soos wanneer jy met vakansie, is ’n paartjie maklik geneig om ’n daaglikse ritueel agterweë te laat. Dit is eers wanneer hulle huis toe kom en nie die ritueel herinstel nie, dat so ’n paartjie agterkom dat hulle dit mis.
Paartjies by een van William se werksessies het die volgende rituele gedeel:
- Een van die paartjies is op Kersdag getroud en een van hul kinders is ook op Kersdag gebore, wat beteken dat hul herdenking deur die jare tussen Kersdag en hul kind se verjaardag verlore geraak het. Hul herdenking is deur ’n “ontvoering” gered. “Elke jaar ontvoer my man my en neem my iewers heen. Al wat hy my vertel, is watter soort klere om te neem, soos byvoorbeeld ’n jas of ’n swemkostuum, en dan neem hy my weg.”
- Nog ’n paartjie het ’n jaar en ’n half gelede begin om elke Woensdagaand vir ’n uur en ’n half baldansklasse te neem.
- ’n Ander paartjie is op die 22 Augustus getroud en vier elke maand hul maandelikse huweliksherdenking op die 22ste. Soms gaan hulle uiteet, ander kere is dit ’n telefoonoproep om vir die ander een te sê: “Ek is lief vir jou” en soms is dit sommer ’n besoek aan die supermark om ’n nuwe houtlepel te koop, maar die gedagte is dat dit ’n “ek is lief vir jou” en ’n spesiale dag is.
- ’n Paartjie wat al 32 jaar getroud is, vertel dat hulle geskenke vir mekaar in die huis los. Haar man gee vir haar ’n roos (dit kan enige kleur wees) en soms is dit elke ses maande, ander kere elke paar weke. Hy sê niks en plaas dit net iewers in die huis waar sy dit later kry. Hy weer, is baie lief vir pasteie. Sy bak vir hom pasteie en as hy tuiskom en ’n pastei kry, weet hy dit is van haar.
- Nog ’n paartjie het tot dusver vir die 25 jaar van hul getroude lewe daagliks ’n liefdesbrief aan mekaar geskryf. Hulle het nog nooit ’n dag oorgeslaan nie, selfs nie toe die man opehartchirurgie ondergaan het nie. Daar is seker nou 18000-19 000 briewe in die kas en die kinders gaan dit lees wanneer hul ouers dood is.
- Jim en Sharon stort elke aand saam. Hul stort het twee afsonderlike stortkoppe en hulle het ’n ritueel binne ’n ritueel, want elke keer wat sy die seep laat val, wat gereeld gebeur, tel hy dit vir haar op. Daar is voordele aan verbonde om die seep op te tel, waarop hy eerder nie sal ingaan nie!
- ’n Ander paartjie stel hul wekker vir 20 minute voor opstaantyd elke oggend sodat hulle kan cuddle. Selfs al kom hulle nie later die dag by mekaar uit nie, weet hulle hulle het daardie tyd gehad. Die vrou vertel van een van haar ouers se rituele. Elke aand wanneer haar ma skottelgoed gewas het, het haar pa by haar gestaan en vir haar uit ’n boek voorgelees.
- Martha en Dana Flemming hou al vir die 22 jaar wat hulle getroud is, ’n dagboek van hul huweliksherdenkings. Op hul huweliksherdenking, nadat die kinders in die bed is, haal hulle die boek uit, steek die kers aan wat by die altaar gebrand het toe hulle getroud is en lees saam die dagboek. Hulle skryf neer wat hulle gedoen het om die dag te herdenk, hoogtepunte van die vorige jaar en veranderinge wat plaasgevind het (soos die geboorte van hul kinders).
- ’n Ander paartjie wat 23 jaar lank getroud is, het hul eie ritueel. Elke oggend staan die man om 05:30 op, maak gereed vir werk en gaan af om sy koffie en ontbyt te maak. Om 06:15 gaan haar alarm af om hom by die ontbyttafel te ontmoet. Daar sit hy met sy ontbyt en twee kerse. “So, vir 20 minute elke oggend, is dit net die twee van ons wat ’n ontbyt by kerslig geniet. Dit is veral romanties in die winter as alles donker is en ons alleen by die kerslig gesels. Wat ’n wonderlike manier om die dag te begin!”
Toewyding aan rituele kan die gom voorsien wat ons nodig het om aan mekaar te kleef in tye van spanning en seisoene van wanhoop, vertel William. Hy het eenkeer ’n paartjie ontmoet wie se deursettingsvermoë vir hom ’n inspirasie was. Eindelik het hulle mekaar weer gevind en toe hy vra hoe hulle daardie donker dae deurstaan het, het hulle geantwoord dat hulle vasgehou het aan hul Vrydag-Sabbatsmaal (die religieuse ritueel in hul Joodse tradisie) – selfs al het hulle nie met mekaar gepraat nie. Dit maak nie saak hoe erg dinge geraak nie, wanneer hulle nie saam geslaap het of met mekaar gepraat het nie, het hulle nooit hierdie ritueel opsygeskuif nie. “Jy kan nie bind wat nie kleef nie,” sê William. “En so kleef ons aan mekaar deur ons huweliksrituele; dit maak ons vry. Vry om die onsekerhede van pyn of konflik te waag, vry om die ontsaglike emosionele intimiteit wat slegs die huwelik ons kan bied, te ontdek, met die wete dat as ons altyd kleef, ons vry is om saam te vlieg.”
Skep jul eie huweliksrituele:
- Doen iets wanneer julle mekaar hallo of totsiens sê – selfs al gaan julle vir kort rukkies weg. Dit kan ’n stywe druk, ’n soen op die voorkop of ’n knipoog wees.
- Erken mekaar aan die begin en einde van die dag deur middel van ’n ritueel. Sê vir mekaar goeiemôre deur ’n rukkie in mekaar se arms te lê en gaan haal manlief by die kar as hy by die huis kom.
- Maak deur die dag ’n punt daarvan om met mekaar te bind – hetsy deur ’n e-pos, ’n teksboodskap of ’n telefoonoproep.
- Hou dinge vars in julle verhouding. Deel elke nou en dan ’n avontuur, dit is ook goed vir ’n konneksie.
- Geniet elke oggend ’n koppie koffie of tee saam in die bed.
- Sorg dat julle ’n geheime kode het om te gebruik as een van julle lus is vir bedpret.
- Hou hande vas wanneer julle deur ’n tonnel ry.
- Kyk saam deur die ruit na die eerste somerstorm.
- Gee mekaar se hande ’n drukkie voordat julle saans aan die slaap raak.
- Stel elke aand ’n heildronk op mekaar in.
- Skep ’n spesiale troetelnaam vir jou maat.
