Sommige vroue skram weg daarvan, sommige vroue kan nie daar wegbly nie en die meeste brand van nuuskierigheid. As jy nie seker is van wat jy alles met jou mond kan doen nie, lees hier. Ons vertel jou alles oor orale seks.
Die woorde “sleg” en “orale seks” kom nooit in dieselfde sin voor nie, het ’n 37-jarige man eendag aan die sekskenner en outeur Lou Paget gesê. Jy kan waarskynlik daarvan getuig. Enige vrou wat al met haar lippe suidwaarts beweeg het, weet dat indien jy hierdie tegniek toepas, jou man jou énigiets sal vergewe – selfs daardie dag toe jy uit blinde woede sy skootrekenaar by jul kamervenster uitgegooi en daarna sy kredietkaart allerlei toertjies in Sandton winkelsentrum laat uitvoer het!
“Dit is die ultimate geskenk. Ek kan maar met elke verjaardag, Valentynsdag en Kersfees net 20 minute se tongterapie kry en ek sal as ’n gelukkige man sterf…” laat ’n kennis onlangs hoor toe orale seks die onderwerp van bespreking word. Dit is geen geheim dat mans mál is hieroor nie. En hoewel jy dit eintlik as ’n liefdesdaad sonder enige bybedoelings moet doen, sal dit help as hy so nou en dan putty in jou hande is, meen ’n vriendin.
As dít is wat orale seks aan jou man doen, waarom huiwer soveel vroue om dit vir hul mans te doen? Daar is baie redes, waaroor jy meer hier onder kan lees en dan minder skuldig voel. (Dit beteken egter nie jy moet jou hande in die lug gooi en oorgee nie – jy kan baie hieraan doen.) Daar is egter sommige vroue wat slegs bang is om hulle op dié terrein te begewe omdat hulle bloot onkundig is oor hoe om dit te doen.
Hoekom wil hý dit hê en hoekom wil jý dit doen?
Die fisieke plesier, die direkte stimulasie van jou lippe en tekstuur van jou mond teen sy mees kosbare liggaamsdeel is vir ‘n man onweerstaanbaar. Dit wys vir hom dat jy hom regtig plesier wíl verskaf. Baie mans is ook visueel ingestel en dit is vir hulle heerlik om te sien hoe ’n vrou orale seks vir hom gee terwyl hy ontspanne kan teruglê en dit geniet. Orale seks kan ’n hoofgereg op sy eie wees, maar dit is ook wonderlike voorspel wat hom kan opwek vir voortreflike seks!
Moet dit nie sien as ’n straf of ‘n eensydige spel nie. Daar is ’n aantal redes hoekom jy ’n uitstekende gewer van orale seks behoort te word:
- Dit is eenvoudig en geensins morsig nie. As jy op pad is kantoor toe en jou hare in hul updo wil behou, hoef jy nie bekommerd te wees nie. Jou klere sal ongekreukeld bly en jou grimering in plek (jy sal dalk net nuwe lipstiffie moet aan wend!).
- Orale seks is nie beperk tot die slaapkamer nie. In die wintermaande se koue kan jy op ’n piek in die Drakensberge orale seks beoefen sonder om jou dik sneeubaadjie uit te trek.
- Jy het nie geboortebeperking nodig nie en selfs nie eers ’n vleeskleurige “oumabroekie” gaan jul passie bederf nie
- Jy kan onverhinderd orale seks toepas sonder om bekommerd te wees oor watter tyd van die maand dit is.
- As jy in die bui is vir ’n lekker potjie seks en jou maat is nie so gewillig nie, is dít een manier om hom so gou soos nou in die regte bui (en liggaamlike toestand) te kry.
- Om te sien hoeveel jou man dit geniet en werklik hart en siel deel te neem aan die daad, kan jou ewe gereed maak vir seks.
- Dit is ’n lekker quickie. As daar min tyd is vir ’n uitgerekte bedsessie, kan orale seks in ’n ewe plofbare orgasme eindig.
- Dit is bevredigend vir jou as vrou om te weet jy het so ’n effek op manlief. Dit is sexy om te sien hoe jou man van genot rondwriemel en kreun en jy weet dat jy dit veroorsaak. Hoe meer jy oefen, hoe groter die reaksie sal jy uitlok.
- As woorde nie werklik ’n impak op jou man maak nie, is orale seks ’n goeie manier om te wys jy is lief vir hom. Om hom met jou lippe, mond en tong te bevredig, wys dat jou man die belangrikste ding op aarde is en dat jy alleenlik op hom konsentreer. Hy sal begeerlik voel en dit sal ’n wonderlike uitwerking op jul huwelik hê.
- Hy sal voel dat hy graag vir jou iets wil teruggee en uiteindelik is dit ’n wen-wen-situasie!
(Penguin, The Complete Idiot’s Guide to Pleasing Your Man geskryf deur Eve Salinger)
Oorkom dít wat tussen jou en orale seks staan só
Daar is verskeie redes hoekom vroue nie kans sien om orale seks te beoefen nie. Sommige vroue kan hulself net nie sover kry nie. Daar is diegene wat bang is vir die sogenaamde gag-refleks wat Moeder Natuur ons gegee het om ons teen beskadiging en gevaarlike objekte in die keel te beskerm. Dit kan verhinder word deur deur jou neus asem te haal terwyl jy hom orale seks gee. Jy kan dit ook die mond-aksie afwissel met handstimulasie en jouself só gereelde ruskanse gee.
Nog iets wat vroue verhinder om orale seks toe te pas, is die feit dat hulle nie bereid is om die semen te sluk nie omdat hulle nie van die smaak of tekstuur hou nie. Onthou egter dat dit jóú keuse is. Jy is onder geen verpligting om dit te doen nie. Vir baie mans is dit lekker om te sien hoe hul vroue sluk, maar slegs 20% vroue sê hulle is bereid om dit te doen en steeds geniet hul mans dit. Jy hoef nie te sluk nie en kan jou man eerder teen jou lippe of wang laat klimaks. Jy kan ook ná handstimulasie oorskakel net voordat hy klimaks. Dit is egter belangrik om te onthou dat etiket altyd ’n rol speel in goeie verhoudings en om sy semen uit te spoeg of jou gesig te trek as dit wel in jou mond beland, is swak maniere.
Vir party vroue is die reuk van hul mans se genitalieë onuitstaanbaar, maar tensy hy pas van ’n rondte gholf of rugby teruggekeer het, behoort jou man natuurlik te ruik – effens manlik en muskusagtig. As jy regtig sensitief is vir jou man se reuk, stel voor dat julle saam stort voor seks.
Baie mense glo steeds “goeie vroue” beoefen nie orale seks nie. Dit is egter ’n natuurlike, normale deel van die seksuele ervaring en baie paartjies inkorporeer dit as voorspel. Om te dink dit is “vuil” getuig van ’n wanbegrip van waaroor dit regtig gaan.
Vir die nuwelinge…
As jy onervare is wat orale seks betref, is dit altyd handig om ’n paar tegnieke baas te raak en jou kreatiwiteit daarom te bou.
- Gaan stadig te werk. Al is mans in die algemeen haastige wesens wat vinniger as vroue klaarmaak, lê die plesier van orale seks in die stelselmatige opbou en antisipering van dit wat wag. Begin deur hom op sy genitale area te masseer met sy klere steeds aan.
- Dink aan roomys en verbeel jou jy het ’n sugar cone met twee skeppe roomys van jou gunsteling-geur. Dit is ’n warm dag en jy moet keer dat die roomys smelt. Lek van die onderste gedeelte tot bo in stadige, sensuele sirkels. Beweeg dan vinnig met jou tong oor die boonste gedeelte van die “roomys”.
- Met jou lippe ontspanne, neem die boonste gedeelte van sy penis in jou mond. Jy kan effense suigaksie toepas, maar moet dit nie oordoen nie.
- Beweeg stadigaan met jou mond na die onderste gedeelte van die penis. Gebruik jou speeksel om hom glad te hou en beweeg van tyd tot tyd met jou mond terug met die skag op. Jy kan hom selfs terg deur ’n oomblik lank heeltemal op te hou.
- Vestig ’n ritme. As jy die basis van sy penis met jou mond bereik het, maak dit met jou lippe en tong toe en vermeerder jou spoed met ’n op-en-af-beweging. As jy sien die spanning bou op, vernou jou fokus tot by een spesifieke strook en besluit op ’n vaste, voorspelbare ritme. Mans se voorkeure oor tempo verskil.
- Betrek jou hande by die spel. Terwyl jou mond en tong op en af beweeg, gebruik jou hande in samewerking met jou bewegings. Hou dit rondom die basis van die penis en streel in dieselfde rigting as wat jou mond beweeg. ’n Man hou daarvan as jy die ander hand gebruik om sy testikels te streel.
- Kommunikeer. As jy stadigaan deur die basiese stappe werk, kan jy jou tyd neem om seker te maak waarvan hy hou.
- Gebruik klanke. Dit is vir ’n man lekker as jy vibrerende klanke met jou lippe maak terwyl jy orale seks op hom uitvoer. Een vrou het selfs gesê sy kan haar inkopielys opsê terwyl sy orale seks toepas en haar man sal steeds dink dit is wonderlik!
- As jy sien hy is naby aan ’n klimaks, is jou taak nog nie voltooi nie. Mans hou daarvan as hul maats die nagloed verleng deur nie onmiddellik van posisie te verander of weg te loop sodra hy ’n orgasme bereik het nie.
- Die goue reël is om te leer wat vir hom lekker is en dit voortdurend toe te pas. Moet nooit dink hy gaan verveeld raak nie – dit sal nie gebeur nie!
(Penguin, The Complete Idiot’s Guide to Pleasing Your Man geskryf deur Eve Salinger)
Vir die foendi’s
As orale seks al ’n ou vaardigheid op jou slaapkamer-CV is, probeer dié toertjies vir afwisseling:
- Peppermentpret. Suig ’n sterk gegeurde peperment of hoessuiglekker. Wag totdat dit begin smelt en druk dit na die kant van jou mond wanneer jy met die orale seks begin. Jy kan ook vooraf jou mond met tandepaste of mondspoelmiddel uitspoel. Die tintelende sensasie teen jou man se penis sal hom ekstaties maak.
- Noordpoolpret. Sommige mans verkies ’n koel sensasie. Probeer om ’n paar fyn stukke ys in jou mond rond te spoel en benader hom dan.
- Brandweer-inspirasie. Gee hom ’n vurige sensasie deur orale seks te beoefen terwyl jy kort-kort slukke tee of koffie neem. Jy kan ook noordpoolpret met brandweer-inspirasie kombineer deur ys met koffie af te wissel. Dié kontras is blykbaar ook ’n wenresep.
- Vibreer-wenner. Klankvibrasies dra definitief tot ’n man se plesier by. Kies ’n liedjie waarvan jy hou en “hmmm” dit terwyl jy orale seks op hom uitvoer.
- Suurlemoen-sherbet. Eet suurlemoen-sherbet voordat jy met orale seks begin. Die intense, borrelende sensasie voel uitsonderlik teen die supersensitiewe area van die penis.
- Marshmallows in die mond het ’n heel ander effek. Voordat jy met orale seks begin, sit twee of drie malvalekkers in jou mond. Dit voel vir hom of junior tussen die wolke speel –’n onbekende tekstuur.
Oefen jou tong vir die beste orale seks
Jy gaan jou dalk doodlag vir hierdie idees, maar jy kan selfs jou tong seksfiks maak. Probeer die volgende:
- Sing “Do, re, me…” en artikuleer elke letter met jou tong.
- Haal die konfyt uit die middel van ’n dougnut met jou tong.
- Koop ’n roomys en eet dit op deur slegs van lekbewegings gebruik te maak.
- Skil ’n piesang en oefen deur dit van kant tot kant met die punt van jou tong te lek.
’n Orale sekskoningin… doen dit só:
Of jy nou onervare is of reeds glo jy ken die A-Z van orale seks, hier is ’n paar idees om mee te eksperimenteer. Lou Paget, die skrywer van How to Be a Great Lover, meen daar is vyf belangrike elemente wat gebruik kan word om ’n fantastiese orale ervaring vir jou man te gee:
DIE ROB EN DIE RING
Maak ’n “okay”-teken met jou duim en voorvinger en plaas dit voor jou mond. Jy kan dan met die ring-gebaar die druk verlig en versterk en só bepaal presies hoe diep jy sy penis in jou mond wil hê. Hierdie is ’n uitstekende tegniek om die “gag”refleks te keer. Só sal dit vir jou man voel of hy diep in jou keel is, sonder dat jy in die verleentheid hoef te kom oor jou refleks.
’N HELPENDE HAND
Jy kan altyd jou hande gebruik wanneer dit by orale seks kom. Net soos by die rob en die ring, skep nou ’n denkbeeldige megafoon met jou hand. Maak jou vingers rond (asof jy ’n silinder voor jou mond vashou). Dit is die posisie waarin jou hand moet wees wanneer jy sy penis in jou mond neem. Met jou hande voor jou mond geseël en jou tande deur jou lippe bedek, beweeg op en af oor die lengte van sy skag en varieer die spoed en lengte van jou streling. Jy kan ook die druk oor die skag aanpas deur jou mond wyer oop te maak of meer toe te hou. Onthou van die stiefkinders! Baie vroue vergeet dikwels van die testikels en mans is eintlik mal daaroor as jy op die regte manier aan hulle aandag gee. Dit verbreed seksuele sensasie en plesier. Doen dit egter liggies en moenie die testikels teen mekaar druk of knyp nie.
Jou ouma het jou waarskynlik geleer dat die pad na ’n man se hart deur sy maag loop. Beweeg ’n bietjie suidwaarts, meen Tracy Cox, sekskenner en outeur. Lou Paget sê: “Die belangrikste, voel ek, is dat orale seks die grootste geskenk van intimiteit is wat ’n vrou ’n man kan gee. Tussen die aanraking, sig en die klank van orale seks, is dit amper sensoriese oorlading. Baie mans het al gesê dit is soos om in hul eie erotiese film te speel, behalwe dat dit nie ’n toneel is nie en dat hulle die hoofrolle deel met die vrou wat hulle liefhet. En uiteindelik is hulle in staat om ’n orgasme te bereik sonder om fisiek daaraan te werk. Om hierdie rede is orale seks werklik ’n geskenk wat aan hom gegee word.”
Probeer om jou inhibisies oor orale seks te verloor. Dit kan ’n wonderlike afdeling van ’n gelukkige sekslewe wees. En moenie sleg voel as jy nog maar ’n beginner is nie. Onthou, net die feit dat jy dit vir jou man wil doen, is reeds genoeg. En dan, liewe vriendin, lê die sleutel tot sy “ultimate geskenk” in oefen, oefen en nogmaals oefen. Geniet dit!