Wanneer jy vergewe, verander dit niks aan jou verlede nie, maar dit verander jou toekoms. Dié agt-week-lange plan is die eerste van ons reeks praktiese en doelgerigte planne om jou en jou huweliksmaat te lei. Groei saam en sien die verandering in jul huwelik!

Promosie

’n Stoei-en-groei-plan vir elke huwelik

Iemand het eenkeer gesê as jy iemand nie kan vergewe nie, is dit soos om gif te drink en te hoop die ander persoon sterf daarvan: Dit vreet jou van binne op. Wanneer twee onvolmaakte mense trou, is vergifnis broodnodig.

As vergifnis ’n kwessie in jou huwelik is, werk deur dié plan. Onthou ook, jou man hoef nie ’n reuse-oortreding te begaan vir jul huwelik om hierby baat te vind nie. Elke huwelik bestaan uit ’n goeie dosis daaglikse vergifnis.

Promosie

Lees elke dag van die week die teksgedeelte hardop saam en kyk met verwagting hoe die Skrif elke dag nuwe insigte in jul verstaan bring. Lees dit uit verskillende vertalings en gebruik die gebedswenke om saam daaroor te bid. Maak aantekeninge en merk belangrike gedeeltes soos wat julle aangaan.

Week 1: Bely jou hart van klip
Delf dieper met Efesiërs 4:25-31.

Ds Karel Steyn sê: “Paulus is in hierdie gedeelte besig om vir ons riglyne te gee vir ons optrede teenoor alle mense. In ons huwelike, waar ons die naaste aan mekaar staan, kom die ‘vernis’ egter makliker af en is dit dikwels juis moeiliker om só op te tree soos Paulus ons hier leer. Die sleutel wat hierdie lewenstyl oopsluit, is vers 30: Moenie die Heilige Gees bedroef nie, maar lewe onder Sy leiding!”
Bid vir: ’n Hartsverandering en nuwe perspektief op vergifnis.

Week 2: Buig jy eers die knie
Delf dieper met Psalm 103.

Ds Karel Steyn sê: “Dit is sekerlik een van die Psalms wat vir ons die meeste troos kan gee wanneer ons met ons eie of ons huweliksmaat se broosheid en sonde gekonfronteer word. God ís en bly genadig, barmhartig en vol liefde, en Jesus het juis dit vir ons kom wys met Sy offer aan die kruis! En nie net wys Hy dit vir ons nie, Hy dra ons sondes só ver van ons weg soos wat wes en oos van mekaar is: Twee punte wat nooit bymekaar kan kom nie! Hierdie Psalm sluit daarom vir ons die pad oop om onsself en ons huweliksmaats werklik te vergewe. Het jy al hierdie vergifnis jou eie gemaak?”
Bid vir: Selfvergifnis en groei in elkeen van julle.

Week 3: Streef na nuwe lewe
Delf dieper met Kolossense 3:5-17.

Ds Karel Steyn sê: “Die Here gee weer hier vir ons opdragte vir ons nuwe lewe in Christus. Hierdie nuwe lewe word deur twee dinge gekenmerk: ’n Strewe daarna om mekaar te vergewe (kyk na vers 8 en 13) en ’n bewustheid van ons nuwe identiteit in Jesus Christus (kyk na verse 10, 11, 12, 16 en 17). Dit is juis wanneer ons as huweliksmaats saam laasgenoemde ontdek en daarin groei, wat ons mekaar sal kan vergewe.”
Bid vir: ’n Strewe na God se volmaakte en vergewensgesinde karakter.

Week 4: 24/7 vergifnis
Delf dieper met Matteus 5:21-26.

Ds Karel Steyn sê: “Jesus was hier besig om die beginsels van Sy koninkryk vir ons neer te lê. Een van hierdie beginsels was vergifnis – ’n beginsel wat só belangrik is dat Jesus dit vir die Jode van daardie tyd bo offers gestel het. Paulus het in 1 Timoteus 2:8-9 selfs sover gegaan om te sê dat ’n gebrek aan ’n skoon gewete die mans kon belemmer in hulle geloofslewe. Daarom dat vergifnis elke dag deel moet uitmaak van ons huwelike en van ons verhouding saam voor God.”
Bid vir: Vergifnis en herstel in jul huwelik en moed om dit aan te pak.

Week 5: Voed die vergifnis
Delf dieper met Spreuke 4:20-27.

Ds Karel Steyn sê: “Iemand het op ’n stadium gesê dat Spreuke elke dag vir ons ’n stukkie wysheid het, daarom is daar 31 hoofstukke. Spreuke 4 is nie ’n uitsondering nie! Hier word ’n groot wysheid gegee: Jou hart bepaal wat in jou lewe duidelik word. As jou hart vol bitterheid is, kan jy nie vergewe nie. Daarom dat Paulus ons leer om te bid dat die Heilige Gees ons sal vervul. Só sal die vergifnis wat God ons gee ons in staat stel om ander te vergewe.”
Bid vir: ’n Hart en oë wat altyd die mooi in jou maat sal raaksien.

Week 6: Nimmereindigende vergifnis
Delf dieper met Matteus 18:21-35.

Ds Karel Steyn sê: “Hoe lyk jou skuldboek? Wat staan op of in hom geskryf? Dit maak nie saak wat in jou oë staan nie, in God se oë deur die bloed van Jesus is die bladsy nie net leeg nie, maar is daar ’n wonderlike, hemelse rykdom opgeskryf! As jy dít onthou, hoe lyk jou huweliksmaat se skuldboek nou in jou oë deur die bloed van Jesus Christus? Watter waarde het die vergifnis wat jou huweliksmaat vir jou gee nou?”
Bid vir: Nuwe perspektief op die manier wat julle mekaar vergewe in die lig van God se groot vergifnis.

Week 7: Moet dit nie onder die mat inskop nie
Delf dieper met Psalm 118.

Ds Karel Steyn sê: “Alhoewel hierdie Psalm nie direk oor vergifnis gaan nie, is daar ’n belangrike les wat ons kan toepas op die pad van vergifnis: Dit is God se liefde vir ons wat ons dra, lei en aanspoor om Hom te prys, selfs al beleef ons die grootste gevaar en uitdagings – ook in die uitdaging om werklik te vergewe. Aan Sy liefde is daar geen einde nie!”
Bid vir: Afhanklikheid van God en Sy beloftes.

Week 8: Dié luiperd se kolle móét verander
Delf dieper met Efesiërs 4:17-24.

Ds Karel Steyn sê: “Dit is maklik om toe te gee aan die wêreld se manier van doen – ons lewe immers in hierdie wêreld en word elke dag daarmee gekonfronteer. Daarom word ons hier herinner dat ons lewens en gedagtes nuut gemaak word. Om nuut gemaak te word, begin by opregte gebed dat God ons sal verander en nuut sal maak (Romeine 12:1-3).”
Bid vir: Blywende verandering in jul vergifnis en optrede.

Uiteindelik het julle na agt weke se saam lees, saam dink en saam bid oor vergifnis stokflou by die waterpunt aangekom! Moenie hier stop nie. Bêre dié plan in ’n lêer sodat julle mekaar deurentyd kan herinner dat vergifnis nie opsioneel in jul huwelik is nie.

 

Deur Lize Groenewald