Ek doen onlangs navorsing vir ’n nuwe projek en moet bepaal watter ‘keyword searches’ rondom huwelike die meeste op Google na gesoek word. Ek en Tania, my vennoot, probeer ’n verskeidenheid kombinasies – “marriage”, “happily married”, “marriage tips”, “marriage advice”, “divorce”, “wedding”. Ons wonder en soek, redeneer en probeer en kom tot die slotsom dat mense óf “dream wedding” soek óf “divorce”. Party soek “advice” in ’n huwelikskrisis, maar dit blyk die gemiddelde, gewone paartjie bekommer hulle nie veel oor die welstand van hul huidige situasie nie. En hoekom sal mens regtig? Jy koop ’n ‘aircon’ wanneer die hittegolf jou tref, jy begin draf as jou Jean nou regtig nie meer kan toe nie en jy eet gesonder wanneer die dokter sê jou hart is in gevaar.

Tog weet ons dat powerful habits ’n powerful life beteken. Gesonde gewoontes is enige gedrag wat goed is vir jou fisieke, geestelike en emosionele gesondheid. En dit beteken dat jy goed voel en die lewe leef wat jy nog altyd van droom. Ons werk gereeld aan hierdie gewoontes. Ek maak aan die begin van die jaar altyd ’n nuwe lys… elke dag tyd saam met God, daagliks 1,5 liter water, minder suiker (ek probeer nogsteeds), oefen 3 keer per week en nog ander vir my werk en leefstyl. Maar so baie keer vertrou ek dat my huwelik op ‘auto-pilot’ gaan funksioneer en ek vergeet om sterk gewoontes hier rondom te kweek. ’n ‘Rolls Royce hug’ elke dag, om die gewone, elke-dag-dinge spesiaal te maak, om te lag en laf te wees saam my man, om sy tone te laat krul . . . Daar is ’n hele lys! Ek glo met my hele hart dat elke dag se besteding in goeie gewoontes vir jou huwelik die rykste opbrengs op jou beleggings sal lewer.

Om die lewe te kan leef met jou ‘soulmate’ is ’n voorreg. Pas dit mooi op. Maak jou lewe mooier deur elke dag jou huwelik te koester! Google “marriage tips”, “great marriage habits” en “rocking his world”. Jy sal bly wees jy het!

 

Deur Liezel van der Merwe