Vroulief het die bal na jou kant toe gerol. Sy het gesê dat sy altyd die een is wat moeite moet doen, maar dat jy dié keer moet sorg vir jul romantiese wegbreeknaweek. Maar waar begin jy?

Promosie

Ons wens ons kon vir jou ’n lys van tien plekke in Suid-Afrika gee en sê: “Daar gaan jy!”, maar ongelukkig is dit nie só eenvoudig nie. Anton en Sally dink dalk dat ’n huisie in die berge super romanties is, terwyl Kyle en Jasmine glo dat daar niks romanties aan selfsorg is nie, en net ’n hotel dra hul goedkeuring weg. Vir die een paartjie is geriewe baie belangrik, terwyl ’n ander paartjie voel dat atmosfeer die naweek kan maak of breek. Wanneer jy dus ’n romantiese wegbreeknaweek wil beplan, hang jou keuse af van jul reisvoorkeure en persoonlike omstandighede. Dit is ’n tyd waarin jy die chaos by die huis los en ’n sorgvrye kokon saam met jou maat binne­stap. So, wat is ’n sorgvrye kokon in júlle oë?

’n Paar wenke:

  1. Watter tyd van die jaar is dit? Neem die weersomstandighede in ag wanneer jy jul bestemming kies. Julle wil nie uitermatig warm kry met geen koel lafenis in sig nie en julle wil ook nie gaan sit en bibber in ’n tent in die hartjie van die winter nie.
  2. Kyk na jul begroting. Dit is amper wat jy heel eerste in ag moet neem. Hoe groter jul begroting, hoe meer keuses en moontlikhede is daar. As jul begroting egter knap is, beteken dit nie dat julle by die huis moet bly nie!
  3. Besluit op die tipe bestemming wat julle verkies. Is julle see- of bosmense? Smag julle na ’n avontuur of ’n luilekker vakansie? Gesels met jou maat en besluit saam waarvoor julle lus is voor jy met die reëlings begin.
  4. Hoeveel tyd het julle? As dit ’n gewone langnaweek is en julle Vry­dagmiddag moet vertrek, is dit dalk nie ’n goeie idee om ver te reis nie. Kies eerder ’n plek binne ’n 200km-radius sodat julle die meeste kan maak van jul tyd saam.
  5. Daarenteen – as julle road trip-tipe mense is, kan julle van die reis ’n vakansie maak. Besluit dan om die hele dag lank te ry, by oulike stalletjies langs die pad te stop en teen aandete by jul bestemming op te daag.
  6. Wees buigbaar. As jy bereid is om jou planne effens te buig, kan jy fantastiese aanbiedinge raakloop op die web.
  7. Neem resensies in ag, maar moenie daarop staatmaak nie. Weereens is die skrywers van resensies uiteenlopende mense met uiteenlopende belangstellings en standaarde.
  8. ’n Webtuiste soos TripAdvisor kan jou ’n goeie idee gee van die gehalte van ’n plek (hoe meer resensies daar is, hoe beter), veral wanneer daar spesifieke kommentaar gelewer is.
  9. Vra vir vriende en familie waar hulle onlangs was en wat lekker is. Jy ken hulle en weet of jy hul oordeel kan vertrou.
  10. Wanneer jy ’n soektog op die Internet doen, kyk na die foto’s. As daar byvoorbeeld mooi foto’s van die omgewing is, maar niks van die huisie se binnekant nie, bly eerder weg. Kyk ook mooi na die tipe foto’s – kan jy sien hoe dit lyk, of fokus hulle op ’n teepot of ’n muurskildery?
  11. Kyk ook na wat die verblyf bied. ’n Lekker groot bad of kaggel kan goed ingespan word vir ’n romantiese naweek. Is daar ’n opsie vir aandetes sodat jy eerder al jou energie in die slaapkamer in plaas van die kombuis kan bestee? Is daar mooi en veilige staproetes waarlangs julle kan wandel? Wat van ’n waterval? Luukse, dik handdoeke wat voorsien word, is altyd ’n bonus!
  12. Kyk ook wat is die ontbyt-opsies. As julle iewers bly waar ontbyt bedien word, stel vas of daar ’n opsie is vir julle om dit in die slaapkamer te geniet of moet julle douvoordag opstaan om die etensuur-klok te haal?
  13. As die hele gedoente vir jou vreesaanjaend is en jy nie baie goed is met administratiewe reëlings nie, roep die hulp van ’n reisagent in – hulle kan jou altyd bystaan om die meeste van ’n romantiese naweek te maak.
  14. Stel vas of die bestuur die ekstra myl vir jou sal loop. Dit is, ná alles, vir julle ’n spesiale ervaring en enige bestuurder wat sy sout werd is, sal uit sy pad gaan om dit vir julle spesiaal te maak. Vra of dit moontlik is vir julle om byvoorbeeld iewers ’n piekniek te gaan hou en of hulle ’n bottel sjampanje op ys vir julle in die kamer gereed kan hê.

Uiteindelik gaan dit meer oor die moeite waarmee jy hierdie naweek beplan as enigiets anders. Vroulief wil nie noodwendig uit kristalglase drink nie, maar as sy weet dat jy dié saak ernstig hanteer het, is jou stryd halfpad gewonne! ’n Mooi nagstukkie in haar oornagtassie, ’n pakkie vuurhoutjies om ’n kers of ’n kaggel aan die brand te steek – en jy het die stryd gewen!

Promosie

 

Deur Annelize Steyn
Addisionele bronne: discoveryourhoneymoon.com