Net buite Pretoria op die N1 terug van Polokwane af sien ek die ander dag ‘n groot ‘billboard’ met die woorde ‘Jesus loves you’. Die onderskrif het egter my aandag getrek: ‘Terms and conditions don’t apply’. Dit het my diep laat dink aan die hart van ‘n Vader wat ons wêreld so liefgehad het dat Hy sy enigste Seun gestuur het om vir ons te sterf. Hierdie liefde is groot. Hierdie liefde is opofferend. Hierdie liefde is onvoorwaardelik. ‘n Woord wat moeilik in ons woordeskat pas.

Promosie

Toe ek op ons troudag liefde aan Isabel beloof het was my begeerte om haar altyd en in alle omstandighede lief te hê. Met ander woorde: onvoorwaardelik. Maar vir enige getroude paartjie wat al ‘n paar sakke sout saam opgeëet het kom hierdie belofte nie sonder sy uitdagings nie. En die rede is eenvoudig: uit ons sondige natuur, wat altyd die “eie ek”wil beskerm, is dit onmoontlik om onvoorwaardelik lief te hê. Daarom het ons ‘n hartoorplanting, ‘n natuur-verandering nodig. Ons het ‘n Redder nodig wat ons kan herstel na Sy beeld en wat ons leer hoe onvoorwaardelike liefde werklik lyk.

Die speelveld waarbinne onvoorwaardelike liefde blom is ‘n verbond. Die begrip verbond ken ons sleg in hedendaagse tye, maar in Bybelse tye was dit alombekend. Twee partye sou ‘n verbond sluit met geen ‘uitkoms-klousule’ iewers weggesteek nie. Albei se lewens was op die spel as hulle die verbond sou breek.

Net so sluit God ‘n ewige verbond met ons waar Hy nie alleen Sy kant van die verbond se vereistes nakom nie, maar ook ons s’n. Ons kan niks by ons redding byvoeg nie en maak dus staat op Sy vervulling van die verbond. Al wat ons bring by wedergeboorte is geloof en om ons lewens aan Hom oor te gee. Omdat Hy ons só liefhet kan ons ook nou ander onvoorwaardelik leer liefhê.

Promosie

Daarom is ‘n goddelike huwelik nie ‘n kontrak nie, maar ‘n verbond. ‘n Kontrak is gebaseer op voorwaardes wat jou die reg gee om uit te klim wanneer dit ongemaklik raak en jy nie meer kry wat jy wil nie. ‘n Verbond sê nee, ek sal jou liefhê en by jou bly vir altyd en in alle omstandighede.

En so is my en Bella se huwelik ‘n veilige plek waar dit nie oor performance gaan nie, want ons albei beloof onvoorwaardelike liefde aan mekaar. Anders sou daar altyd ‘n onderliggende vrees wees dat as ek genoeg droogmaak, sy gaan uitklim. Huwelike wat só funksioneer is manipulerend en verwoestend en nie God se plan nie. Dit is huwelike waar die ‘so-lank-jy-dit-doen-sal-ek-by-jou-bly’ lysie baie lank en lelik is.

Wanneer ons egter onvoorwaardelike liefde gee het ons ook soos daardie billboard ‘n ‘no terms and conditions apply’ huwelik. Dan word ons meer soos Jesus en die huwelik ‘n fees! Ek nooi jou uit om saam met my ons vrouens onvoorwaardelik lief te hê en so Jesus se liefde vir hulle te wys!

Artikel deur Retief Burger