’n Huwelik is soos jou liggaamsvorm – dit kom in alle vorme, groottes en tipes voor. Maar net omdat jy een tipe huwelik het, beteken nie dit kan nie verander nie. Met oefening, inspanning en harde werk kan jy jou pampoen in ’n koets verander of ’n olike huwelik gesond dokter.
Elke huwelik het ’n sentrale punt waarom alles draai. Ja, natuurlik wil ons graag hê ons huwelik moet wentel om dít wat saak maak, maar dit is nie altyd so maklik om dit daar te kry nie. Boonop weet ons selde dat ons fokus verkeerd is. Doen dié vraelys om uit te vind waar jou fokus lê. Wees eerlik met jouself. By elke vraag moet jy een van die volgende antwoord:
a) Myself.
b) My kinders.
c) My maat.
d) My werk.
e) Christus en my verhouding met Hom.
- Wat is jou heel eerste gedagte as jy soggens jou oë oopmaak?
- Aan wie spandeer jy die meeste van jou ure per dag?
- Wat verskaf vir jou die meeste vreugde?
- Wat bekommer jou die meeste?
- As jy een terrein kan verbeter, watter een sal dit wees?
- Watter opsie is vir jou onontbeerlik om jou huwelik te laat groei?
- Wat is die hoogste prioriteit in jou huwelik?
- Sonder watter opsie kan jy glad nie klaarkom nie?
- Watter opsie sal jy saamneem na ’n verlate eiland?
- Watter prentjie kom in jou gedagtes op as sinoniem met jou huwelik?
Kyk nou na watter syfer (a-e) jy die heel meeste gebruik het. Dit is waarskynlik waarom jou lewe draai . . .
a) Huwelik #1: “Me, myself and I” – selfgesentreerde huwelik
“Ek moet alles self doen! Ek voel afgeskeep! Ek is alleen. Ek. Ek. Ek.” Selfgesentreerdheid benadeel verhoudings en veral huwelike. In ’n selfgesentreerde huwelik is jy geneig om primêr ingestel te wees op hoe jý voel, wat jý dink en so meer, en jy is bereid om dit aan enigiemand wat wil luister te verkondig. Wanneer jy met jou maat praat, gebruik jy hoofsaaklik die woorde “ek”, “my” en “myself”. As jy hierdie stellings te veel gebruik, val al die klem op jou en baie min op jou maat.
b) Huwelik #2: Klein San en klein Jan – kindergesentreerde huwelik
Wanneer daar ’n nuwe baba in die huis is, speel jou maat dikwels tweede viool. Maar uiteindelik raak die kinders groot en tog word jul program net voller. In ’n kindgesentreerde huwelik word jou maat permanent op die agtergrond geskuif. Dit is dan wanneer te min tyd gemaak word om aan jou huwelik met jou maat te werk. As jy jouself en jou maat afskeep omdat jou kind en sy skedule al die tyd, energie en vreugde opslurp, moet die gevaarligte flikker.
c) Huwelik #3: Op die hande – maatgesentreerde huwelik
As jy alles vir jou maat doen – van die eerste koppie koffie soggens tot sy kleretas as hy weggaan en alle ander huis-verantwoordelikhede, soos die troeteldiere, tuin, skottelgoed, klere en administrasie, het jy ’n maatgesentreerde huwelik. Welgedaan? Nie juis nie . . . Só wat is verkeerd hiermee? Dit is een ding om jou maat se lewe uit liefde makliker te maak, maar as jy jouself in die proses verloor en versmoor, is dit nie gesond nie.
d) Huwelik # 4: Brood en botter – werkgesentreerde huwelik
Die werkgesentreerde huwelik is ’n groot tameletjie vir pa’s én ma’s. Want hoe vind jy balans tussen dit wat jou leefstyl moontlik maak en jou gesinstyd? In ’n werkgesentreerde huwelik is jou gedagtes altyd besig met die werk, jy bekommer jouself 24/7 oor werksake, al sit jy buite in die tuin saam met jou gesin. Jou hand beweeg onwillekeurig na jou slimfoon en jou oë soek fanaties na eposse van môre se vergadering.
e) Huwelik # 5: Alles oor U – Christus-gesentreerde huwelik
In ’n Christus-gesentreerde huwelik gly die kamera oor alles: Jouself, jou kinders, jou maat en jou werk, en eers dán verskerp die beeld op dit wat eintlik die prioriteit moet wees . . . jou en jou maat se oorgawe en toewyding aan Jesus Christus.
Wanneer krisisse en ’n alledaagse gejaag jou tref, is dit belangrik om jouself af te vra waaroor alles eintlik behoort te gaan. Groei jy en jou maat saam in jul verhouding met die Here? Eer julle Christus in die aktiwiteite wat jul dagboeke so vol maak? Leer julle jul kinders wat werklik belangrik is? Toon julle dankbaarheid en waardering aan mekaar deur geleenthede te skep om mekaar in die oë te kyk, mekaar aan te raak en mekaar op te bou met jul woorde?
Wanneer dit by jou huwelikstipe kom, gaan dit nie oor reg en verkeerd nie. Dit is belangrik om nie jouself met ’n klomp skuldgevoelens op te saal wat jou later van binne af opeet nie. Sien dit eerder as ’n reis waar jy die Christus-gesentreerde huwelik jou mikpunt maak. Jy het beslis verantwoordelikhede ten opsigte van jou kinders, maat, werk en veral ook jouself. Maar in ’n Christus-gesentreerde huwelik kom al hierdie dinge saam in harmonie – as jy Christus die fokuspunt maak, is dit asof jou perspektief op al die ander dinge en verantwoordelikhede verander. Gebruik daardie Christusvrede om jou te help om jou huwelik te verander van oorleef na floreer!
Deur Lize Groenewald
Bronne: www.imom.com, forthefamily.org, abiblicalmarriage.com, simplyclarke.com.