Getroud en verveeld… in die stad
KLIM IN ’N TAXI
Dit voel soms asof julle vergeet het hoe om pret te hê. Julle bly in ’n yslike stad, maar daar is niks om te dóén nie. Probeer dié een: Kyk uit ’n ander hoek na daardie minibustaxi’s wat gedurig skielik voor jou indraai en geen respek vir verkeersreëls het nie – deur in een te klim en saam met ’n klomp jillende medepassasiers van die een kant van die stad na die ander te jaag. Dis ’n adrenaline rush wat julle nie gou gaan vergeet nie.
MAAK OF JULLE KINDERS IS
Wanneer stadskinders nie voor hulle rekenaars sit nie, soek hulle oopte. Ry ’n bietjie rond – êrens is daar ’n oop stuk gras waar kinders krieket of sokker speel. Gaan speel saam of vra ’n paar rakkers om julle te leer skaatsplank ry. Niks is so lekker soos om weer ’n kind te wees nie en jy sal verbaas wees oor hoe ywerig jou vrou saamspeel.
NEEM SAAM KOOKLESSE
Dalk geniet julle dit. Daar is kookskole waar julle ’n hele dag lank kan kook en ná die tyd die vrug van jul arbeid kan geniet! Só leer julle mekaar uit ’n nuwe oog ken (en verdra!) en kry julle boonop ’n nuwe skill. Én julle sal nooit weer twee aande ná mekaar spaghetti hoef te eet nie.
GAAN DISKO TOE
Deesdae noem hulle dit nagklubs. Die musiek gaan dalk vir jou volksvreemd klink. Die moves gaan jou dalk oopmond laat staar. Maar hoekom nie? Dit het gewerk toe julle tieners was.
MAAK LIEFDE OP DIE GRASPERK
Dis altyd lekker om iets nuuts te probeer en met daardie hoë mure om julle erf sal die bure niks agterkom nie. Dit sal julle die thrill gee van “iemand kan dalk vir ons loer” en daar is niks soos oefening in die vars lug nie… oppas net vir grass burns…
Getroud en verveeld… op die platteland
MAAK SKANDES
Wie sê getroudes kan nie pret hê op die platteland nie? Die moontlikhede is eindeloos, soos: Elke dorp het ’n een- of tweesterhotelletjie. Hou ’n naweek lank vakansie in die hotel op julle tuisdorp asof julle twee verliefdes op wittebrood is. Die skindertonge gaan lekker klap oor julle dirty weekend.
BOU ’N SANDKASTEEL
Die grootste een in die geskiedenis van die mensdom! (Dié een gaan net werk vir kusdorpies.) Middernagtelike kaalbas-kaperjolle in die branders werk ook goed vir nuwe vonk in die huwelik.
MAAK LIEFDE OP JULLE (TOEGEBOUDE) AGTERSTOEP
Met oorgawe. Miskien is julle selfs so gelukkig om op ’n plasie op die vlaktes te woon sonder enige heinings… met net ’n paar skapies en bossies wat toekyk…
HOU PIEKNIEK
Met die uitsondering van die Karoo, is die meeste dorpies omring met wuiwende grasvelde. Gaan voer mekaar peuselhappies êrens onder ’n koelteboom. En waar vry ’n mens lekkerder as op ’n wollerige piekniekkombers?
WAG TOT DIT REËN…
… en dans kaalvoet op die dorpsplein of enige plek waar “die mense” julle kan sien. Hou mekaar styf vas en trippel ligvoets deur die waterpoele. Daardie dorp gaan nooit weer dieselfde wees nie!
Deur JB Roux