Sommige paartjies skei voordat die troukoek droog is en terwyl sommige geskenke nog in hul papier pryk. Sommige huwelike haal nie eers die eerste herdenking nie . . .

Promosie

Klippe kou. Sakke sout. Dit is twee beelde wat opgeroep word wanneer ’n mens dink aan die swaarkry in ’n huwelik. Maar sommige paartjies spoeg daardie eerste klippie en korreltjie sout uit vóór die wittebroodsfoto’s die album gehaal het.

Volgens die webtuiste Divorce-Online.co.uk vind die grootste hoeveelheid egskeidings (altesaam 10%) plaas gedurende die eerste twee jaar van die huwelik. Studies toon dat altesaam 60% van paartjies wie se huwelike misluk het, reeds twyfel of ontevredenheid in hul eerste jaar van getroud-wees beleef het.

In twee derdes van dié gevalle het hierdie gevoelens reeds in die eerste ses maande ontstaan. Kenners meen die fase na die wittebrood (die eerste twee jaar na die troue) is een van die grootste risikotye vir ’n paartjie om te skei.

Promosie

Van denkbeeldige intimiteit tot ontnugtering

Maar hoe kan dit wees? Dit is tog ’n opwindende fase. Ja, daar is aanpassings, maar dit is ook die tyd waarin ’n paartjie mekaar behoorlik leer ken, saam huis koop en (dikwels) saam kinders kry. Alles is nog nuut en spesiaal . . . dit klink ondenkbaar dat dít juis die fase kan wees waarin soveel paartjies voel hulle het ’n fout gemaak?

Volgens die webtuiste marriagemoment.org word baie pasgetroude paartjies omgeslaan deur ’n golf van ’n begrip wat as “denkbeeldige intimiteit” bekendstaan. Dit is wanneer paartjies ’n gevoel van nabyheid beleef, maar nie besef dat hierdie kunsmatige “intimiteit” bloot gekweek word deur romanse en verliefdheid nie.

Dit is dan wanneer jy dink jou maat se ongesonde obsessie met Fruit Loops is oulik. Só ook sy gewoonte om dwars te draai in die bed. Dit is dan wanneer jy ’n idealistiese persepsie van jou maat kweek en dit voed. Jy “vertaal” sy jaloesie as beskerming en jy sien sy ongeduld as ambisie.

Namate die maande of selfs weke verbygaan, kry jy ’n meer realistiese prentjie. Ontnugtering tree in. Jou maat verander nie, maar jou persepsie van jou maat verander wel! En die kans dat daardie slegte gewoontes al hoe meer na vore tree, is nie net ’n illusie nie . . . want julle raak gemakliker met mekaar.

En vanselfsprekend word julle die meer natuurlike weergawes van julself – julle hoef julself mos nie meer te bewys in ’n poging om mekaar te beïndruk nie. En dis goed so! Maar dit kan ook Pandora se boks oopmaak!

Moenie jul liefde verloor nie!

Deur die jare het verhoudingskenners tot die gevolgtrekking gekom dat die grootste voorspellers van egskeidings interaktiewe uitdagings is. Dit is wanneer jy en jou maat soos vyande teenoor mekaar optree, sonder respek teenoor mekaar optree en interpersoonlike probleme het (soos konflikhantering). Die navorsing wat dít bevind het, is egter deur die jare gedoen onder paartjies wat reeds ’n geruime tyd getroud was – baie van hulle reeds op pad skeihof toe.

Ted Huston, ’n professor in menslike ekologie en sielkunde aan die Universiteit van Texas in Austin, het ’n langtermyn-studie onder 168 getroude paartjies gedoen deur hulle te volg – van hul troudag tot 13 jaar in hul huwelike in. Die studie het getoon dit is moontlik om in die eerste twee jaar van ’n huwelik te bepaal of ’n man en vrou by mekaar sal bly en of hulle gelukkig sal wees.

Die PAIR-projek (Processes of Adaptation in Intimate Relationships) is in 1981 bekendgestel. Die bevindinge was baie interessant: Dat dit nie die voorkoms van interpersoonlike kwessies is wat paartjies skeihof toe stuur nie, maar ’n verlies aan liefde en toegeneentheid.

Die paartjies wat intens en radikaal verlief was aan die begin, het harder geval, want daardie liefde is moeilik om te behou. Daarteenoor het die paartjies wat hul liefde op ’n laer vlak van vervulling begin het, nie so ’n drastiese teleurstelling later beleef nie.

Uiteindelik was die slotsom van die bevindinge dat die sukses van ’n huwelik  nie afhang van hoe goed ’n paartjie oor die weg kom as pasgetroudes nie, maar hoeveel verandering in die eerste twee jaar plaasvind.

Sommige paartjies kan nie die ontnugtering van die verlies aan aanvanklike hoë liefdesvlakke hanteer nie. Dus: “Die dominante benadering moenie wees om met paartjies te werk om konflik op te los nie, maar om te fokus op die bewaring van positiewe gevoelens,” het Huston gesê.

Só hoe gemaak?

Jy kan nie besluit om die huwelik te vermy in ’n poging om die ontnugteringsfase vry te spring nie, want hierdie fase is ’n (noodsaaklike) deel van elke verhouding. Dis normaal en natuurlik. Jou huwelik is ook nié in die moeilikheid omdat jou maat nie ’n perfekte individu is nie – dit is dus nie nodig om jou tekkies aan te trek nie.

Sien dit as ’n normale deel waardeur julle moet werk. Om jou maat werklik te sien soos wat hy/sy met hul foute is, is ’n groot geskenk. En as julle deur hierdie fase kan werk, wag ’n wonderlike fase van ware intimiteit! Met goeie seks, diep liefde en gesamentlike doelwitte.

Dit blyk dat een van die kosbaarste dinge wat jy kan doen om hierdie ontnugtering te minimaliseer, is om jou tyd te neem voor jy trou. Vir elke paartjie kan hierdie tydperk verskil, maar moenie trou voor jy nie 100% seker is nie.

Tweedens moet jy en jou maat alles in jul vermoë doen om realistiese verwagtinge te koester (moenie te veel Hollywood-flieks kyk nie!). Doen navorsing oor die liefde en die huwelik en gesels met rolmodelle en kenners oor wat om te verwag van die huwelik en van mekaar. Voorhuwelikse berading is só belangrik.

En derdens: Moenie die liefde verloor nie! Hier is ’n paar wenke:

  1. Leer mekaar se liefdestale ken, sê Tyson Popplestone op com. Huwelikskenner Gary Chapmen het vyf tale geïdentifiseer. Elkeen het ’n spesifieke taal wat voorrang geniet as dit kom by die manier waarop hy/sy na liefde smag. As jy nog nie jou maat s’n ken nie, doen onmiddellik ’n aanlyn-toets om uit te vind wat dit is.
  2. Tyson sê ook dat seks altyd ’n voorreg moet bly, en nie ’n reg nie. En dat verleiding noodsaaklik is vir enige huwelik wat sy vonk wil behou. Moet dus nie aanneem dat julle vir mekaar “beskikbaar” is nie, en hou aan werk om mekaar te verlei en die misterie in jul huwelik te behou.
  3. Bring genoeg tyd saam deur. Gehaltetyd is ononderhandelbaar en date nights Dit is nie net belangrik om hierdie tyd saam met mekaar deur te bring nie, maar ook om vir mekaar te wys dat julle mekaar ’n prioriteit maak.
  4. Bring ook genoeg tyd afsonderlik deur. Om té veel tyd in mekaar se geselskap deur te bring, kan nadelig wees vir jul romanse. Soms is ’n paar dae weg van mekaar af presies wat julle nodig het om te besef hoe lief julle mekaar het, hoe nodig julle mekaar het en hoeveel julle mekaar waardeer.
  5. Weet dat mense (en ’n huwelik) nie staties is nie. Julle gaan verander – wat julle voorkoms, idees, uitkykpunte, energievlakke, motivering, ambisie en so meer aanbetref. En dit is goed só! ’n Huwelik is ’n dinamiese verhouding – maak seker julle groei saam met mekaar en nie weg van mekaar af nie.

 

Deur Annelize Steyn

Addisionele bronne: www.marriagemoment.org, www.foryourmarriage.org, www.huffingtonpost.com, www.puckermob.com.