Waar julle as pasgetroudes ure in die bed met masseerolie kon verwyl, is daardie luukse deesdae nie moontlik nie. Só dink jy. Óf die kinders is by die huis, óf die swembad moet skoongemaak word. Vir paartjies wat lank getroud is, raak voorspel ’n uitdaging . . .

Promosie

Onthou jy hoe opwindend jul verhouding was vóór dit seksueel van aard geraak het? Julle het mekaar bewonder, begeer, aangeraak en gesoen. Die passie was smeulend! En toe julle uiteindelik die groot stap neem, kon koue water dit nie blus nie! Dít danksy al daardie sensuele aanraking wat ons “voorspel” noem!

Hier is ’n paar voorspelwenke vir diegene wie se kreatiwiteit ’n bietjie verroes geraak het . . .

Gesinchroniseerde liefdespel

Promosie

Saam met die ouderdom kom een baie handige voordeel. Noudat hy ouer is en dinge nie meer so vinnig gebeur nie, is jul kanse soveel beter om sáám ’n orgasme te bereik. Bestee dus genoeg tyd aan voorspel en julle mag dalk net die vrugte daarvan pluk!

Speel ’n bordspeletjie

Daar is waarskynlik bordspeletjies iewers in ’n kas weggebêre. Haal een uit en speel saam met jou maat. Vir elke keer wat sy verloor, moet sy van ’n kledingstuk ontslae raak – jy ook. As julle Scrabble speel, kan julle boonop stoute woorde op die bord skryf. En die uiteindelike wenner? Hy/sy maak die res van die aand die reëls!

Herprogrammeer jou oë

Julle het waarskynlik oor die jare al ’n standaard seksroetine ontwikkel. Probeer iets anders. Trek mekaar uit asof julle van papier gemaak is en drink mekaar met jul oë in. Kyk na jou man se naakte liggaam en waardeer hom van voor af. Sy spiere is dalk nie meer so gedefinieerd soos 20 jaar gelede nie, maar daardie lyf het saam die goeie én slegte tye deurgesien en dit is juis hierdie myle wat hom vandag so aantreklik maak!

Stort gereeld saam

Hierdeur handel jy ’n paar dinge af! Stort voor seks is reinigend, maar dit berei jou lyf ook op algehele ekstase voor. ’n Stort maak die spiere los en warm (wat wonderlik vir buigbaarheid is, dit maak jou nasale weë oop (wat weer jou reuksintuig verbeter en jou sy feromone beter laat ruik!) en dit verbeter jou sirkulasie, sodat jou lyf ontvankliker vir aanraking is (goeie bloedvloei is die sleutel tot seksuele reaksie).

Rek die voorspel uit

Toe julle uitgegaan het, het sy waarskynlik ’n bietjie hard-to-get gespeel. En hoe harder sy gespeel het, hoe onweerstaanbaarder het sy vir jou geword! Dit werk ook só in die slaapkamer. Hoe langer julle die voorspel uitrek, hoe meer elektries word die atmosfeer gelaai en hoe groter gaan die ontploffing uiteindelik wees as een van julle ingee. Neem dus julle tyd.

Ervaar nuwe sensasies

In plaas van jul gewone wintervingers onder winterlakens, bring nuwe sensasies en teksture slaapkamer toe. Drink ’n sluk warm koffie voordat jy haar soen. Streel haar lyf met ’n ysblokkie.

Sensuele lyfroom 

Daar is min dinge wat so sensueel is soos wanneer jou maat jou lyf ná ’n oggendstort of aandbad voordat julle bed toe gaan met lyfroom insmeer. Daardie vyf of tien minute wat dit neem om jou lyf van jou nek tot by jou tone in te vryf, is ’n wonderlike vorm van aanraking. Só kan julle van spanning ontslae raak en regtig as ’n paartjie herkonnekteer.

Soen op meer as 19 maniere

Die Kama Sutra lys 19 maniere om te soen. Ons glo daar is selfs meer! Onthou dit as jy weer een van jou immer-bekende afskeepsoene op haar mond plak. Fokus op haar lippe, wissel af tussen ligte aanrakings en meer intense druk. Die wagwoord is verskeidenheid . . .

Gee aandag aan nie-erogene sones

Dit klink dalk vreemd, maar ons is só geneig om al ons aandag aan die vanselfsprekende erogene sones toe te wy dat ander liggaamsdele dikwels agterweë gelaat word. Gee vanaand byvoorbeeld spesiale aandag aan jou maat se hande . . . en môreaand aan haar bene.

Hoekom tot by die huis wag?

Begin met die voorspel op pad huis toe. Bel jou maat en vertel haar ’n warm storie vol sensuele en sexy besonderhede oor hoe jy al heeldag aan ’n stomende aand saam met haar dink. Vertel haar dat jy nie kan wag om haar te sien en jou fantasieë uit te leef nie. Dit sal jou maat opgewek maak selfs voordat jy by die huis kom! Vra haar sommer om solank al haar klere uit te trek en vir jou in die slaapkamer te wag.

Speel skattejag

Beplan ’n spesiale aand by die huis, waar julle alleen is. Steek alle vorme van bederf (soos ’n pot sjokolade-lyfverf) oral in die huis weg en gee jou maat leidrade oor waar om dit te kry. Elke keer as sy iets opspoor, kan jy van een kledingstuk ontslae raak! Sy mag egter nie die groot prys kry voordat sy elke speelding opgespoor het nie. Jy kan self besluit wat die “groot prys” is. Hmm . . .

Teken mekaar

Julle is dalk nie kunstenaars van formaat nie, maar niks verhoed julle om ’n bietjie kreatief in die slaapkamer te wees nie. Koop twee groot stukke papier en vra jou maat om die buitelyn van jou lyf daarop te trek. Merk dan met ’n X elke deel waar jy graag aangeraak, gesoen of geliefkoos wil word. As julle klaar is, gee vir mekaar jul sketse, wat as ’n skatkaart kan dien hoe om jou maat se lyf te ontdek.

Die geheim is om terug te keer na waar julle eens was, toe mekaar se liggame nog ’n vreemde landskap was en selfs die kleinste moesie op jou maat se rug jou gefassineer het. Om weer na die basiese dinge terug te keer, sal soms baie selfbeheersing verg, maar dit is alles die moeite werd. Ontdek jou maat van voor af, ontdek seks van voor af en kyk hoeveel genot voorspel in jul sekslewe kan bring.

Addisionele bronne: www.erotic-massage-guide.com, www.associatedcontent.com, www.fulltiltmarriage.com, www.EzineArticles.com, www.matemonster.com.