Manlief dryf jou die laaste ruk teen die mure uit en jy kan nie verstaan hoekom álles aan hom jou skielik irriteer nie. Ván die blou sokkies wat hy dra, tot die manier waarop hy sy tande ʼn bietjie langer as die normale mens borsel. Hoe nou gemaak?

Promosie

”Dit is die klein jakkalsies wat die wingerde verniel,” het die oumense gesê, of “die laaste strooi wat die kameel se rug breek”. Wel, jou wingerde is deesdae aan flarde en jou kameel is op sy einde, want die man wie se sjarme jou eens op ʼn tyd aan Neil Diamond laat dink het, is deesdae eerder ʼn Marilyn Manson in jou oë. Miskien was die manier waarop jou Karoo-boer sy koffie geslurp het vir jou tog te oulik toe julle pas getroud was, maar twaalf jaar later is dit vir jou soortgelyk aan iemand wat haar vingernaels op ʼn swart bord krap!

Twee algemene knelpunte in dié verband is dikwels televisie kyk en termostaat-verstellings. Die kans dat jy en Manlief ooreenstem wat televisie-program voorkeur betref, is skraal. Hy kan nie verstaan wat jou obsessie met Binnelanders is nie, en jy glo dat net mense met ʼn IK laer as 80, Amerikaanse stoeigevegte kan waardeer.

Die ontstaan van DSTV het ook nie veel gedoen om dié tipe huwelikstwis te beredder nie, en wanneer jou gunsteling KykNet program wys, is hy vasbeslote om ʼn heruitsending van die een of ander belangrike rugbywedstryd te kyk. Die ideaal is natuurlik om twee televisiestelle te hê, maar dit is iets wat geen kenner vir pasgetroudes sal aanbeveel nie!

Promosie

Nóg ʼn twispunt is temperatuur-verstelling, want as jy een van daardie vroue is wat met ʼn donskombers oor jou skoot in sy bakkie moet ry terwyl hy die lugversorging op volspoed stel, is jy beslis nie alleen nie. Julle is dalk perfek vir mekaar, maar julle metabolismes het nie dáárdie nota gekry nie!

Wat is die algemeenste irritasies tussen huweliksmaats? Die Orange County gesinsterapeute het, toe daar aan hulle gevra is watter klein dingetjies irriterend genoeg is om groot probleme in hul kliënte se huwelike (of hul eie) te veroorsaak, die volgende genoem:

  • Die monopolisering van die televisie-afstandbeheer
  • Die tandepasta-buisie wat in die middel gedruk word
  • Die toiletsitplek wat oopgelos word
  • Besitlikheid van die duvet snags
  • Die nalating om vir mekaar telefoonboodskappe te gee
  • Die nalating om die tjekboek te balanseer
  • Om laat huis toe te kom sonder om te bel
  • Die sproei van skoonheidsprodukte in die ander een se nabyheid
  • Die kritisering van mekaar se bestuursvermoë
  • Die los van ʼn spoor persoonlike items in die huis.

Elke paartjie stry oor verskillende nietighede.”My man het die gewoonte om, wanneer ek besig is om ʼn tydskrif te lees en net opstaan om gou iets te gaan doen, die tydskrif te ‘steel’ en badkamer toe te verkas daarmee,” vertel Sonja (52) rasend. “Hy bestee dan ʼn goeie halfuur daar binne en wanneer ek my eens kraakvars tydskrif eindelik daar opspoor, is hy deurgelees en net nie meer dieselfde nie.”

Johan (56) het sy eie frustrasies: “Sonja het die gewoonte om my penne uit my studeerkamer te gebruik om notas oral in die huis neer te skryf. Sodra sy iets onthou, word dit iewers neergekrabbel. Soms is dit regtig duur penne wat verdwyn en notas wat op belangrike dokumente neergeskryf word. Sy het ook die nare gewoonte om daardie einste penne te verlê as sy hulle nie meer nodig het nie — mý penne!”

Miskien lees jy hier en glimlag simpatiek by die lees van Sonja of Johan se klagtes, en dalk kan jy dadelik jou eie frustrasies met Manlief se irriterende gewoontetjies herroep. Alles goed en wel, maar ʼn klein irritasie tussen ʼn paartjie kan in ʼn groot struikelblok omsit as dit bloot geïgnoreer word. “… Marriage would be great if we could live apart!” skryf Robert Locke op die webtuiste www.ezinearticles.com. “Soms word klein irritasies, wat aanvanklik nie na veel van ʼn probleem gelyk het nie, yslike struikelblokke en kan dit opgeblaas word om ʼn aksie of opmerking te versterk.

Die perfekte maat bestaan nie … die huweliksbeloftes gaan oor oppe en affe — in siekte of gesondheid, en dit is van toepassing op bykans enige aspek van die huwelik. Deur dit net te herken en nie perfeksie van jou maat te vereis nie, is die eerste manier waarop jy jou huwelik kan red.”

In hul boek, Love Honor and Forgive. A Guide for Married Couples, skryf Bill en Pam Farrel: “Die eenvoudige waarheid is dat dit onmoontlik vir twee mense is om vir ʼn gegewe tydperk saam te woon en mekaar nie seer te maak nie. Té dikwels kom die lewe in die pad van leef. As die klein irritasies wat saam met onperfektheid kom, geïsoleerd was, sou ons almal goeie huwelike kon hê, maar klein irritasies kan in groot probleme ontaard — en groot inbreuke kan jou hart breek.” Só kan die skade wat aangerig word, groot word, en kan dit maak dat die klein irritasies wat in jou kop rondmaal, dit moeilik maak om liefdevol teenoor jou lewensmaat op te tree.

Kristine Jablonski, ʼn psigiatriese verpleegster en gesinsterapeut in Placentia sê: “Die klein dingetjies kan só groot word dat hulle, na ʼn paar jaar, yslik word, tot op die punt waar dit voel asof hulle onoorkombaar is en jy eindelik sê: ‘Ek gee nie meer om nie. Ek is weg'” (www.articles.latimes.com).

Hoe langer jy getroud is, hoe langer raak jou lys van irritasies waarskynlik. Dit is nie omdat jou man meer slegte gewoontes deur die jare aangekweek het nie, maar omdat daardie gewoontes, wat aan die begin van jul verhouding maklik was om te verdra, stadigaan al meer op jou senuwees begin werk het. “Die eenvoudige waarheid is dat gelukkige huwelike op ʼn diep vriendskap, ʼn wedersydse respek en genot van mekaar se geselskap gebaseer is.

ʼn Paartjie wat hul vriendskap sterk hou, ten spyte van die onvermydelike verskille en irritasies van die getroude lewe, ervaar ʼn ‘positiewe sentiment vertrapping’ — hul positiewe gedagtes oor mekaar en hul huwelik is só deurdringend dat hulle daartoe geneig is om hul negatiewe gevoelens daarmee te vervang. “Dit verg groter konflik as dít om hul balans as paartjie te verloor,” sê dr. John M. Gottman in die artikel Lessons from the Love Lab (Family Circle, 4 Februarie 2002).

Hoe hou jy die jakkalsies weg?

Kenners en huweliksterapeute gee die volgende raad:

Belê in geduld!

Jou menslike aard veg teen geduld vir al wat hy werd is, veral wanneer jou maat jou irriteer, maar dit is belangrik om hom te behandel soos wat jy graag behandel sou wou word. Onthou ook dat niemand teen dieselfde spoed funksioneer nie. As jy ʼn ‘vinnige’ mens is, is die kanse goed dat jy die een is wat gou ongeduldig raak. Jy moet jou maat egter toelaat om dinge op sy of haar eie pas te doen. Dink ʼn bietjie aan hoekom jy pal haastig is. Dit is dalk die moeite werd om so effens stadiger te leef. Neem eerder die tyd om te ontspan en tyd saam met jou maat in te haal (www.marriage.families.com).

“As jou ongeduld meer met jou maat se gewoontetjies te doen het, onthou dat jy jou eie gewoontes het. As jy ʼn behoefte aan verandering in hom uitspreek, wees bereid om self ook te verander.” Behou perspektief en toon begrip vir jou maat.

Doen introspeksie

Vertel jou man in ʼn kalm stemtoon en verkieslik met ʼn eetlepel humor, dat dít wat hy doen, jou regtig irriteer. Miskien wend hy ʼn poging aan om te verander, maar onthou ook dat dit moeilik is om ou gewoontes af te skud. Sodra hy hiervan weet, kan jy hom daarop wys wanneer hy dit weer doen. Dit is beter as om die woede in te hou. Erken dat jy self ʼn paar irriterende gewoontes het en vra jou man om jou eie irritasies (ewe taktvol) vir jou uit te wys. Fokus dan daarop om dié te verander sodat jy nie voortdurend op syne konsentreer nie.

As dit nie werk nie, dink aan die ‘What would Jesus Do’-motto en herinner jouself daaraan voor jy wil ontplof. Vra God vir geduld en glo dat hy dinge sal beter maak.

Maak ook ʼn lysie met al die dinge wat jou irriteer, en jy sal sien hoe simpel die meeste hiervan eintlik is. Onthou, in outeur Claudia Arp se woorde, om aan jou maat te bly kleef ongeag wát gebeur, en om jou maat toestemming te gee om minder as perfek te wees.

Soek na die ander rede

Alles is irriterend wanneer jy vir iemand kwaad is en nie weet hoe om daardie woede uit te druk nie, meen Hara Estroff Marano, ʼn huwelikskenner en agony aunt. Sy glo dat woede ʼn manier het om op te bou rondom klein teleurstellings. As jy vind dat jy die laaste tyd erg geïrriteerd met jou maat is, vind uit wat die onderliggende rede is en verwoord dit dan.

Baie mense dink dat dit tot konfrontasie gaan lei as jy jou teleurstellings bekendmaak, en daarom besluit ʼn mens dikwels om knelpunte te ignoreer en te vermy. Dit lei egter uiteindelik tot groot ongelukkigheid, want dit skep geen geleentheid vir bewusmaking van die probleem nie en daarom ook geen moontlikheid vir enige verandering nie. Op dié manier betaal jy ʼn duur prys vir vrede.

“Geen verhouding kan ooit bevredigend wees tensy twee mense aktief probeer om geleenthede te skep om uit te druk wat hulle van die ander een wil hê en onvermydelike verskille uit te stryk nie. Daar is maniere om bekommernisse te lug sonder om in ʼn konfrontasie betrokke te raak. Vind ʼn tyd en manier om sagmoedig met jou man te praat,” sê sy.

Praat op die regte manier

Sulke gesprekke moet, soos enige gesprek, in ʼn atmosfeer van goedertrou geskied. Elkeen moet sonder onderbreking na die ander een kan luister. Begin daarom altyd jou versoek met ʼn blyk van waardering. Sê iets soos: “Ek weet ons het die laaste ruk nie oor die weg gekom nie, en dit maak my hartseer en kwaad. Ek wil regtig nader aan jou voel, maar jou rokery pla my, en dit is ook vir jou skadelik.” Daarna kan jy jou spesifieke versoek rig, beveel sy aan.

Moet hom nie vertel wat hy moet doen nie. Spesifiseer wat jy graag wil hê hy moet doen om die probleem reg te stel. “Dink jy dat jy om my onthalwe die rokery in die huis kan staak?” As twee mense voel dat daar na hulle geluister word, het hulle gewoonlik die vryheid om te vra wat hulle wil en kan hulle ʼn mate van intimiteit ontwikkel (www.psychologytoday.com).

Fokus op liefdeswoorde

Liefdeswoorde is noodsaaklik. Dit is ʼn hart-besluit om jou maat te bly liefhê en te besef hy is wie hy is, omdat God hom so gemaak het (irritasies en al!) Dit is só maklik om jou maat se foute raak te sien, veral wanneer jy nie dieselfde foute het nie. Dit is veel moeiliker om na jouself te kyk en die veranderinge wat jý aan jou eie houding behoort te maak, raak te sien. Vra: “Watter regstellings moet ek maak? Hoekom vind ek voortdurend fout met alles wat my maat doen? Wat kan ek doen om woede-woorde in liefdeswoorde te omskep?”

Dit is nodig vir jou maat om daagliks bemoedig en lief gehê te word, staan op die webtuiste www.christianwomentoday.com. “As ons nie hierdie sorg voorsien nie, sal iemand anders dit doen — en dikwels lei dit tot ʼn buite-egtelike verhouding. Gebruik liefdeswoorde om jou huwelik daagliks te onderhou. ʼn Paartjie wat hulself daaraan toewy om mekaar met liefdeswoorde op te bou, sal in spirituele intimiteit groei, en só sal die begeerte om jou maat te wil verander, mettertyd verdwyn.”

Maak die keuse joune

Dit help om perspektief te behou. Kommentator Andy Rooney het die volgende in sy lys, Wat ek geleer het, geskryf: “Ek het geleer dat om goedhartig te wees, belangriker is as om reg te wees; ek het geleer dat wanneer jy bitterheid koester, geluk iewers anders sal strand; ek het geleer dat ʼn mens sy woorde sag en teer moet hou, want môre moet hy dit dalk eet; en ek het geleer dat ek nie kan kies hoe ek voel nie, maar wel kan kies wat ek doen.”

Jy kan waarskynlik nie help dat Manlief se badkamermaniere soms op jou senuwees werk nie, maar jy het beheer oor wat jy met daardie woede doen. Jy kan tot by tien tel, vir geduld bid, of dit aflag. Hoekom probeer jy nie al drie nie! (Honey, I’m Home for Good: The ABC’s of Lovin’ and Livin’ with Your Stay-at-Home Hubby deur Mary Ann Cook).

Moenie die krag van jou denke onderskat nie

Wanneer jou maat jou irriteer, gebeur daar vreemde dinge in jou brein. Jy vertel vir jouself hoe hy jou frustreer en hoe kwaad hy jou maak. Jy broei op gedagtes van hoe min jy van hom hou en daarna begin jy allerlei planne prakseer hoe jy hom gaan genees, korrigeer, herprogrammeer en straf. Die probleem is dat jou gedagtes en verbeelding baie mag het oor dit wat oor ʼn sekere tydperk ʼn negatiewe impak op jou huwelik kan hê. Met dit wat in jou gedagtes omgaan, vervloek jy letterlik jou verhouding en projekteer jy haat, woede en bitterheid op jou en jou maat, verduidelik die webtuiste www.marriedandhappy.com.

Namate jy toenemend ervare raak met hierdie breinspoeling, raak jou gedagtes al hoe kragtiger en dryf hierdie energie selfs ʼn dieper wig tussen jou en jou lewensmaat in. Probeer daarom om eerder jou gedagtes op goedhartigheid, liefdevolheid, ondersteuning en waardering vir jou maat fokus. Om dit te doen as jy vir hom kwaad is, is ʼn toets van wilskrag, maar jy sal die vrugte in jou onbeskadigde wingerd pluk. Wanneer hy iets doen wat jou pla, fokus jou gedagtes en verbeelding op hom, en beskou hom as ʼn liefdevolle lewensmaat wat jou behoeftes op elke ander manier denkbaar bevredig. Só projekteer jy seën op jou huwelik.

Ons weet dit is baie gevra. Wanneer Manlief vir die soveelste keer sy vlieghengel stewels en nog-nie-skoongemaakte-vangs op die kombuis se granietblad neerplak, of hy het jou met sy bullebakbakkie vasparkeer, sodat jy die derde keer dié week laat vir werk gaan wees, is dit moeilik om op jou tande te byt en op die koffie wat hy soggens vir jou in die bed bring, te fokus, maar probeer dit.

Wat nou dalk nie na groot kwessies lyk nie, kan kort voor lank jou huwelik laat ontvlam, so blus hierdie vuurhoutjie betyds, en kyk hoe jul wingerd vanjaar ʼn onverbeterlike oes oplewer!

***

MARRIAGE CAPSULE METHOD: 7 STAPPE TOT ‘N HUWELIK WAT HOU! INTIEM SE BESTE PRODUK OOIT! Kliek hier!