Julle is reg vir ’n quickie of ’n uitgerekte dirty weekend, en INTIEM vertel julle gereeld hoe om dit te doen, maar die vraag is wáár?
Julle het al kreatief probeer raak met venues buite die lakens, maar elke keer as julle probeer, tugtig die hotelpersoneel of die oord se wag julle! Ons het gaan vasstel watter plekke ideaal is vir ’n stoute episode . . . of drie.
- ’n Tent vir twee
VIR: ’n Dirty weekend
Kampering was nog nooit so sexy nie! Geen kinders en geen skoonma’s word toegelaat op hierdie nie-familievriendelike naweek in die buitelug nie. Neem jul slaapsakke (of selfs net een!), pak eetgoed wat min moeite verg om voor te berei en moenie die bottel vonkelwyn vergeet nie. Kies koers in Tietiesbaai se rigting – wat ’n gepaste naam vir julle uitstappie – en slaan tent op by ’n afgeleë plekkie tussen die rotse. Die golwe is agtergrondmusiek en gee die pas aan vir julle stomende liefde.
As julle in die bui is vir kamp, maar nie werklik lus is vir die voorbereiding wat daarmee gepaard gaan nie, bespreek ’n luukse tent by Kwafubesi Tented Safari Camp. Hierdie romantiese wegbreekplek in die Limpopo-Bosveld spog boonop met ’n spa. Geniet die voordele van die buitelug saam met die bederf van luukse geriewe . . . die beste van beide wêrelde!
- ’n Intreevlak-hotel
VIR: ’n Dirty weekend óf ’n quickie
As julle reeds lank getroud is en boonop nog die verantwoordelikheid van ouerskap deel, kan die realiteite en roetines van die dag-tot-dag vervelig raak. Blaas weer nuwe lewe in jul verhouding deur ’n affair te hê . . . met jou maat! Ontmoet mekaar in ’n donker, sexy kroeg vir drankies en flankeer skaamteloos met jou maat. Fluister stoute woorde in sy oor, gly sy hand (hoog!) op jou bobeen, vat aan sy arm. Van daar af glip julle weg na ’n goedkoop intreevlak-hotel, soos die SUN1 – maar moenie ’n kamer bespreek voor die tyd nie! Lovers boek mos spontaan by ’n hotel in as hulle in die geheim ontmoet en die vuurwerke begin skiet . . .
- ’n Karavaan . . . met ’n verskil!
VIR: ’n Dirty weekend
Daar is iets baie uitlokkend daaraan om ’n karavaan met jou maat te deel. Haak dus julle s’n en sit af na die naaste kampeerterrein. Maak net seker julle doen dit in die middel van die week en buite die skoolvakansie om seker te maak ’n paar nuuskierige agies kom kyk nie waar al die lawaai vandaan kom nie. Neem dit een stappie verder en bespreek ’n karavaan vir die naweek by The Old Mac Daddy in Kaapstad. Prettig, speels en só ’n bietjie stout. Die karavane is luuks en gemaklik ingerig. Boonop hoef jy nie ’n vinger te lig nie – kamerdiens en ontbyt is deel van die lekkerte!
- ’n Oornag-spa vir uitgerekte seks
VIR: ’n Dirty weekend
Daar is net iets wat die luuksheid en rustigheid van ’n spa aan jou doen. Vir ’n paar ure kan jy vergeet van die dak wat lek, die kinders se huiswerk en wat om vanaand saam met die maalvleis te maak! Bepreek dus vir julle plek by ’n oornag-spa. Hoekom oornag? Want julle wil soveel voordeel as moontlik trek uit die after effect van jou massering en tweedens kan julle nie kafoefel in die stoomkamer nie! Of . . . julle kan kafoefel. Maar nie veel meer nie . . . Maak seker die spa waar julle bespreek, het ’n goeie reputasie en bespreek vir julle luukse verblyf – al is dit net vir een nag.
Boek ’n halfdag- of voldagpakket in die couples room, ontspan in die borrelbad ná julle behandelings en geniet die gemak van die luukse akkommodasie. Feather Hill Spa, geleë in die hartjie van die Noordwes-provinsie, bied ’n vyfster-ervaring weg van die gejaag van die stad. Gaan kruip ’n bietjie weg saam met jou maat en haal weer saam asem. Met soveel ontspanning in die lug, wat gaan julle met julle nuutgevonde energie doen in julle pragtige kamer?
- Jou ou hoërskool-skoolterrein
VIR: ’n Quickie
Uiteindelik kan jy die reëls breek en tong uitsteek vir die hoof (al is hy nie daar nie!). Hardloop op die stoepe, kou kougom op die sportveld en vry met jou kêrel agter die pawiljoen. En wat kan jy nou doen as die hartstog van die oomblik jou oorweldig en julle nie stop by soen nie?
Geniet ’n trip down memory lane saam met jou maat en maak ’n (diskrete) draai by jou ou hoërskool. As julle saam in die skool was, des te beter! Vir ’n ekstra-stoute avontuur, trek iets aan wat herinner aan jou ou skooluniform. Maak net seker julle beskadig nie enige eiendom nie en moet beslis nie hierdie stoute avontuur tydens skooltyd aanpak nie!
- Jou man se lessenaar
VIR: ’n Quickie
Bel jou man se sekretaresse en maak ’n afspraak – maak seker jy noem dat dit dringend en persoonlik is, en dat julle nie gesteur mag word nie. Ontmoet hom op die afgespreekte tyd in sy kantoor en sluit die deur agter julle. Hy is natuurlik teen hierdie tyd baie bekommerd. Wat op aarde is die probleem? Wel, sê jy, jy het ’n kritieke toestand onder lede . . . jy kry warm, só warm, en jy het hartkloppings, jy voel lighoofdig, want jy het onttrekkingsimptome van sy hande op jou. Jy glip jou jassie oor jou skouers en gee hom byna ’n hartstilstand met wat jy onder aanhet. La Senza se nuutste kantnommertjies is intens genoeg om enige kwynende huwelik weer aan die gang te skop. Jou man sal nooit weer dieselfde na sy lessenaar kyk nie.
Deur Anja Van Den Berg