Sukkel julle deesdae om in die slaapkamer voort te stoom soos in die verlede? Miskien is bloedsuiker die oorsaak . . .

Promosie

Sowat 75% van mans en 35% van vroue ervaar probleme tussen die lakens as gevolg van diabetiese neuropatie (oftewel skade aan die senuwee wat normale seksuele reaksie stimuleer). Dít is volgens die webtuiste diabeticlivingonline.com. Jou lus om ’n hoofpyn te fake en manlief se onvermoë om Meneer penorent te kry, is dalk direkte gevolge van diabetes.

“Mediese toestande soos diabetes kan veroorsaak dat jou sekslewe ’n laagtepunt bereik,” skryf Lauren Streicher, outeur en professor in ginekologie en verloskunde op prevention.com. “As ’n diabeet het jy verskeie struikelblokke om te oorkom ter wille van ’n bevredigende sekslewe, wat ander nie het nie.”

Dit is egter beheerbaar en dit is dus nie nodig vir jou of manlief om ongelukkigheid in die katel te ervaar nie. Met ’n paar stappe kan jy hierdie siekte te beheer – soos om jou bloeddruk, cholesterol en trigliseriedvlakke te verlaag en seker te maak jou bloedsuiker is normaal.

Promosie

Een van die algemene seksuele probleme wat met diabetes verband hou, is erektiele disfunksie (ED). Baie mans wat erektiele disfunskie beleef, word met diabetes gediagnoseer. Kevin Borst, ’n endokrinoloog aan Lakewood Hospitaal se Diabetes- en Endokrinologie-sentrum, sê dat sowat die helfte van alle mans wat met diabetes leef in die een of ander stadium erektiele disfunksie sal kry.

Hy meen dit word veroorsaak deur senuweeskade aan are wat bloed na die penis toevoer, swak bloedsuikerbeheer en die vrees om nie ’n ereksie te kan kry of behou nie. Ander probleme wat manlike diabeteslyers kan ervaar, is retrograde ejakulasie, waar semen terugkeer blaas toe, in plaas van na die punt van die penis. (Dit is nie skadelik nie en het slegs behandeling nodig as julle oorweeg om jul kroos uit te brei!) Om bloedsuikervlakke onder beheer te bring, kan egter hiermee help.

’n Testosteroontekort kan ’n verlaging in libido veroorsaak. Dit kan behandel word deur gewigsverlies, die beheer van bloedsuikervlakke en gereelde oefening. Sommige mans het testosteroon-vervangingsterapie nodig. Vroulike diabeteslyers sukkel dikwels met probleme soos ’n tekort aan natuurlike vaginale smeermiddel, ongemaklike of pynlike seks en ’n verlaging in begeerte.

Die volgende wenke kan pret tussen die lakens vir diabeteslyers verhoog:

  • VIR HOM: Gesels met jou dokter as jy ereksieprobleme ervaar. Vra hom wat jy kan doen om jou diabetes so goed as moontlik te beheer. Hy mag jou uitvra oor ander gesondheidsprobleme wat toestande soos erektiele disfunksie kan vererger. Lig ook jou dokter in oor moontlike medikasie wat jou ED kan vererger.
  • VIR HAAR: Groet droogheid vir eens en vir altyd. As vaginale droogheid jou lamlê, gesels met jou ginekoloog oor moontlike smeermiddels wat jy op ’n gereelde basis kan gebruik (nie noodwendig slegs gedurende seks nie). Wees egter bewus van sommige smeermiddels wat suiker bevat en die balans van jou vaginale pH kan versteur (dit bring gisinfeksies mee). Lees die lys van bestanddele.
  • VIR ALBEI: Oorweeg ’n speelding. “Studies toon dat diabete dikwels nie so maklik soos ander ’n orgasme kan bereik nie, weens vaskulêre verandering en senuweeskade,” meen Lauren. Deur ’n vibrator in die slaapkamer in te bring, kan julle gou klaarspeel met dié probleem.
  • VIR ALBEI: Gaan vir goud! Ja, dit help om soms te beplan, maar as seks net in die hitte van die oomblik oor julle pad kom (daardie ek-wil-jou-hê en ek-wil-jou-nóú-hê scenarios), geniet dit voluit, maar toets jou glukosevlak sodra julle klaar is.
  • VIR ALBEI: Verloor ’n paar kilo’s. Dit is nie net goed vir jou diabetes nie, maar dit kan jou die nodige selfvertroue gee! Gewigsverlies kan jou beter oor jouself en oor seks laat voel. As jy sukkel met gewigsverlies, sluit aan by ’n dieetkliniek.
  • VIR ALBEI: Beperk die alkohol. Ja, dit kan jou inhibisies ’n bietjie lostorring, maar dit kan ook jou bloedsuiker laat val. As jy wel alkohol vóór of tydens seks inkorporeer, eet iets sodat die uitwerking van die alkohol op jou bloedsuiker minimaal is.
  • VIR ALBEI: Lag ’n slag. Diabetes kan jou gespanne maak (veral nou, nadat jy gelees het oor die probleme wat jy moontlik kan ervaar!). Pasop dat jou verwagtinge van seks nie onrealisties is nie. Dit is ook belangrik om altyd jou humor te behou. Selfvertroue en gemaklikheid sal maak dat jou maat minder spanning beleef.

 

Deur Annelize Steyn

Addisionele bronne: clevelandcclinic.org, psycologytoday.com, webmd.com, mydr.com.au.