Met die afsluiting van hierdie reeks oor lewenswaarhede van Bybelfigure gaan ons ’n bietjie oorsigtelik kyk na hierdie interessante figure. Ons gaan kerngedagtes saamvat en waarhede vasmaak. Soos hulle my huwelikslewe beïnvloed het, vertrou ek dat dit joune net so sal inspireer.

Promosie

Indien jy nie die vorige artikels oor lewenswaarhede van Bybelfigure deurgewerk het nie, gaan lees hierdie gerus. Hier is ’n paar kerngedagtes…

Adam en Eva

Die tuin van Eden was seker die perfekte omgewing vir die bestaansreg van die meeste van ons. Tog, as jy die verhaal realisties deurtrek, kan jy maklik jou en my storie op ’n daaglikse basis herhaal! Wanneer jy kyk na ander, lyk dinge altyd beter, mooier en beslis meer idealisties as jou eie! Stop net daar. Herken wat jy het, waardeer wat jy besit en gee waardering aan vroulief, want as jy haar nie oppas nie kan jy alles in een oomblik verloor!

Promosie

Abraham en Sara

As jy oor uitdagings in huwelike wil gesels, is hierdie tweetjies my helde! Al was Abraham en Sara stokoud in jou en my oë, was die Here die waarmaker van Sy Woord en is hulle hartsbegeertes as huwelikspaartjie vervul ten spyte van veel teenkanting. Wees jy vandag die besluitnemer en maak jou huweliksdroom vas.

Niemand kan daardie besluit namens jou neem nie. Indien jy voel die punt van die mas wat voor jou staan is onbereikbaar hoog, onthou een ding: Abraham en Sara was gewone mense soos ek en jy! Maak daardie verskil in jou huwelik en bereik die droom wat wag om te gebeur. Toe nou, dis die regte ding om te doen!

Jakob en Ragel

Al kos dit wat, elke mens, klein of groot, het ’n droom en ’n innerlike dryfkrag wat hom daartoe in staat stel om passievol, sonder verwyte, doelwitte na te jaag en deur te druk. Jakob is die perfekte voorbeeld van ’n man wat verlief raak op ’n droomvrou en alles op die prys stel om sy lewe met haar te deel.

’n Lewensverhaal vol uitdagings en genoeg hindernisse en teenkanting wat kon strek van hier tot in Timbuktu! Praat van werksrealiteite, omgewingsuitdagings, tydkwessies eksterne invloede en skoonpa… dit was maar ’n druppel in die emmer van Jakob se daaglikse gestoei vir sy geliefde Ragel.

’n Goeie vriend het nou die dag vir my gesê: “Antwoorde lê soms onder ’n klip van jou diepste put.” So manne, onthou soms kom deurbrake en wonderlike idees in oomblikke van desperaatheid!

Salomo se wyshede oor die bruid en die bruidegom

Elke vrou het ’n behoefte aan toenadering en wil beleef dat haar man haar wel eerste stel. Ja, selfs bo jou gholf, TV of koerant. Dit kos beslis ’n gehaltebesluit om ingestel te wees op haar unieke behoefte aan nabyheid. Onthou, ’n liefdespel is die opbou van kontak en toenadering reg deur die dag.

Toe nou manne, onthou vroulief het jou ondersteuning en bystand nodig. Neem jou rol as leier in die huis op en help waar moontlik – soos met klein huistakies of kinderversorging. Onthou jy is deel van ’n nuwe generasie mans! Wat jy saai, gaan jy op ’n ander plek maai… Sy gaan jou met liefde bederf!

Josef en Maria

Hierdie paartjie moes duidelik gehoorsaam wees aan Goddelike inspraak vir leiding om hul bepaalde skeppingsdoel te bereik. Ja, hulle gehoorsaamheid in basiese opdragte het vandag nog ’n groot uitwerking op ons lewens.

So maak werk daarvan en maak met liefie ’n tyd vas en bepaal sommer dadelik aan wie se leiding julle in jul liefdesverhouding en huwelik gehoor wil gee. Ek wil jou egter verseker dat wanneer jy jou lewe en huwelikstuur in die hande van Goddelike leiding plaas, Hy ’n eindbestemming waarborg wat ware vreugde en totale vervulling bied.

Josef en Maria het die term “genade” verstaan. Ek glo nie ’n huwelik kan bestaansreg hê sonder genade nie. Manne, vind jul skeppingsdoel, hanteer daaglikse uitdagings, onthou jul huwelike het ’n bestaansreg – maak die keuse vir Goddelike leiding en laastens, wees asseblief genadig met mekaar!

 

Deur Stephen Claassens