Jy het ’n blink plan! Jy wil jou vrou met sexy onderklere bederf. Maar hoe gaan jy weet watter grootte? Gaan jy in die winkel probeer soek na ’n verkoopspersoon of ’n ander klant wat min-of-meer na dieselfde grootte as jou vrou lyk? Hier is ’n paar wenke vir dié belangrike ekspedisie.
- DIE GROOTTE MAAK WÉL HIER SAAK
Die grootte hoef nie jou belangrikste struikelblok te wees nie… Tensy jy reeds in die winkel is. Maak seker jy kyk voor die tyd in haar kas wat die grootte van die bra’s en broekies moet wees en maak ’n nota hiervan. Dit sal keer dat jy voor die verkoopsdame begin stamel en stotter terwyl jou brein probeer dink aan die grootte van enigiets tussen gholfballe en lemoene. (Moet ook nie jou vrou self vra nie, dit bederf die verrassing!)
- OUMASTYL OF STERTRIEM?
Die styl van die onderklere is ewe belangrik, jy hou dalk van sexy kant en sy hou van blommetjies en frilletjies. Hier sal jy ’n goue middeweg moet vind, want jy gaan beslis nie iets wil koop wat nie vir jou sexy is nie, maar uiteindelik is sy die een wat dit sal moet dra.
- BLOEDROOI OF PIKSWART?
Hier verwys ons nie na die kleur van jou wange wanneer jy die eerste keer op operasie onderklere-jag gaan nie. Die doel van die onderklere sal ’n goeie rigtingwyser van die kleur wees. Is dit iets wat jou vrou onder haar swart nommertjie na ’n dinee moet dra of is dit vir die blote pret en for your eyes only? Minder algemene kleure soos seegroen of waatlemoenpienk kan baie interessant wees, afhangende van jou en jou vrou se smaak. Swart en rooi is altyd treffers, maar wat verhoed jou om uitdagende pers of ’n skreeuende oranje vir haar aan te skaf?
- WAAR O WAAR?
Waar begin ’n mens soek na die regte onderklere? Val jy in by die eerste kettingwinkel wat jy sien in of doen jy die dapper ding om in ’n winkel in te marsjeer wat nét onderklere verkoop? Doen eerstens ’n behoeftebepaling. Is jy opsoek na verleidelike, ingevoerde onderklere of moet die onderklere méér as een doel dien? Jy sal beslis sexy onderklere in afdelingswinkels ook kry en waarskynlik heelwat minder daarvoor betaal, maar as dit jou doel is om jul albei te bederf, is ’n spesialis-onderklerewinkel beslis jou voorland!
- KLIEK-KLIEK!
As jy nog nie die moed bymekaar kon skraap om winkel toe te gaan nie of jy woon dalk in ’n klein dorpie met net een winkel, is aanlyn-aankope jou beste vriend. Daar is deesdae pragtige onderklere aanlyn beskikbaar en die afwagting tot daardie pakkie kom, is deel van die opwinding. Maak net dubbel seker van die grootte voordat jy bestel…
As jy nog nooit voorheen jou vrou met onderklere verras het nie, gaan jy haar slaan vir ’n ses. Waag dit! Later gaan dit jý wees wat aan die oogfees smul…
Deur Lize Groenewald