Erektiele disfunksie is ’n dreigende vyand wat baie mans vrees en wat ’n wesenlike invloed op jou huwelik kan hê. As diabetes boonop sáám met erektiele disfunksie aan jou deur kom klop, hoef jy nie noodwendig intimiteit en ’n vervullende sekslewe vaarwel te roep nie. Hier is raad hoe om dié sensitiewe saak te benader.
Erektiele disfunksie (ED) is ’n algemene toestand onder mans wat aan diabetes ly, met ’n voorkoms van 20 tot 85% (1). Mans wat diabetes het, kan 10 tot 15 jaar vroeër erektiele disfunksie ontwikkel as mans wat nie aan dié toestand ly nie ongeag wat hul insulienafhanklikheidstatus (1) is.
Om ’n ereksie te kry het mans gesonde bloedvate, senuwees, manlike hormone en ’n begeerte om seksueel gestimuleer te word nodig. Diabetes kan die bloedvate en senuwees beskadig wat die ereksie beheer. Al het jy dus die normale aantal manlike hormone en seksdrang, kan jy steeds nie in staat wees om ’n ferm ereksie (2) te kry nie.
Die mees algemene oorsaak van ED is skade aan die are, die gladde spiere en die veselagtige weefsel wat veroorsaak kan word deur diabetes, niersiekte en veelvuldige sklerose. (3)
Ongelukkig kan ED ook ’n newe-effek van algemene medikasie wees, soos dit wat gebruik word vir toestande soos hoë bloeddruk en depressie. Vra altyd vir jou dokter of jy enige medikasie neem wat jou erektiele probleme vererger. ’n Aanpassing in jou medikasie kan moontlik help. (4)
Selfs wanneer die onderliggende oorsaak van ED fisiek is soos met diabetes, kan psigologiese faktore soos angs ’n sekondêre rol speel wanneer ’n man wat erektiele probleme het, begin om seksuele mislukking (3) te vrees en te verwag.
Behandeling en bestuur van erektiele disfunksie
Hoewel jy aanvanklik ongemaklik kan voel, is dit baie belangrik om so gou moontlik met ’n dokter of gesondheidskundige te praat sodat die presiese oorsaak van jou ED bepaal kan word en daar dienooreenkomstig ’n behandelingsplan uitgewerk kan word.
Die volgende voorstelle kan deel vorm van jou behandelingsplan:
Handhaaf goeie glukemiese beheer (4)
ED spruit uit skade aan die senuwees en bloedvate wat veroorsaak word deur gebrekkige bloedsuikerbeheer oor die lang termyn. Deur jou bloedsuikervlak te verbeter kan dit skade aan die senuwees en bloedvate voorkom. Jy sal in geheel beter voel en die kwaliteit van jou lewe verbeter.
Nee vir slegte gewoontes 3,4
Probeer om slegte gewoontes soos rook en die gebruik van alkohol (3) te beperk of heeltemal te vermy. Die gebruik van tabak, insluitende rook, kan jou bloedvate laat vernou en dit kan lei tot erger erektiele disfunksie (4). Oormagtige alkohol kan ook bydra tot erektiele disfunksie, so as jy wel drink, moet jy dit matig (4) doen. Probeer om jou daaglikse inname te beperk tot slegs een drankie per dag vir mans ouer as 65 en tot twee drankies per dag vir mans jonger (4) as 65. Sorg dat jy ’n gesonde, gebalanseerde eetplan volg en probeer om gereeld oefening te doen wat jou kan help om gewig te verloor, stres te verminder en vloei van bloed4 in jou liggaam te verhoog.
Vra uit oor ander gesondheidsprobleme 4
Dit is baie algemeen dat mans wat diabetes het gediagnoseer word met ander chroniese toestande wat erektiele disfunksie kan vererger. Werk saam met jou dokter om seker te maak dat jy mooi kyk na al die gesondheidsprobleme wat jy moet hanteer.
Soek hulp 4
Angs en spanning kan erektiele disfunksie erger maak en dit kan lei tot ’n negatiewe impak op jou maat. Onthou dat tesame met al die medikasie en inspuitings wat beskikbaar is om ED te behandel, ’n sielkundige, berader of spesialis in geestesgesondheid ’n groot voordeel kan wees om jou en jou maat te help om met hierdie toestand saam te leef.
Dit is baie belangrik dat jy altyd met jou dokter of gesondheidskundige praat om die regte behandelingsplan vir jou te kry wat steeds optimale diabetesterapie moontlik maak.
Moenie in sak en as bly sit as jy erektiele disfunksie en diabetes het nie. Wees oop en eerlik met jou maat oor jou gevoelens en soek saam na oplossings en behandeling. Moenie langer uitstel nie – daar is fisieke en psigologiese hulp beskikbaar. ED en diabetes is nie die einde van jou seksuele plesier nie.
Artikel vertaal deur: Lize Groenewald
Verwysings:
1. Awad H, Et al. Erectile function in men with diabetes type 2: correlation with glycemic control. International Journal of Impotence Research (2010) 22, 36-39
2. WebMD. (2017) Erectile dysfunction and diabetes. [online] Available at: https://www.webmd.com/erectile-dysfunction/guide/ed-diabetes [Accessed 14 February 2018].
3. Health24. (Updated 2017) Erectile dysfunction Condition Centre. Causes of and Treatment of Erectile dysfunction. [online] Available at: https://www.health24.com/Medical/Erectile-dysfunction/Overview/Treatment-of-ED-20140515 [Accessed 13 February 2018]. Reviewed by Dr Dave Bowden MBBCh (Wits), FCS (SA) Urol. Specialist Urologist in private practice, Christiaan Barnard Memorial Hospital, Cape Town. (February 2015)
4. Mayo Clinic. (2018) Erectile dysfunction and diabetes: Take Control Today. [online] Available at: https://www.mayoclinic.org/diseases-conditions/erectile-dysfunction/in-depth/erectile-dysfunction/art-20043927 [Accessed 14 February 2018].