Jy’t gehoor dat vroue nie van grotmans hou nie en sedertdien probeer jy jou bes om sensitief te wees. Jy trek jou oë op skrefies sodat sy kan sien jy luister régtig mooi. Jy koop vir haar blomme en sorg dat daar nie één angelier in die hele bos is nie. Jy cutex tot haar tone… maar jy is steeds in die dog box!

Promosie

Wat sal jy doen as ons jou sê dat jy dalk weer so ’n bietjie wild moet raak? Ja, ons weet. Vroue kan nie hul minds opmaak nie – ons gaan nie met jou stry nie. Mans en vroue is maar nou net eenmaal verskillend ‘bedraad’.

Mans veg of vlug om hul gesinne te beskerm. Vroue daarenteen ‘tend and befriend’, skryf outeur en sielkundige Mark Sichel. Vroue versorg en hê lief. Mans kloek wel saam om soms beter te kan veg of vlug, maar eindelik is dit aksie bó verhouding! Vir vroue gaan dit oor emosionele afstand en intimiteit seëvier áltyd bo aksie.

Hiermee verklaar ons nie een geslag beter as die ander nie. Maar vir ’n paartjie om te floreer moet ’n paartjie mekaar se verskille embrace! Behou dus jou inherente eienskappe, maar pas hulle so effe aan om by die era te pas. Jou vrou wil ’n sterk ou hê wat standpunt inneem, maar ook warm en versorgend kan wees sonder om sy manlikheid te verloor.

Promosie

Sy wil hê dat jy die brood wíl huis toe bring… Hoor jy die ‘wíl’ in daardie sin? Ons lewe in ’n moderne era waar mans en vroue gelyk in die werkplek is en dalk verdien sý die ekstra nulletjie aan die einde van die maand. Dit maak nie saak nie! Maar sy wil beslis nie terugkom huis toe na ’n man wat heeldag gelê en bier drink het op die bank nie. Dis ingebore vir ’n man om sy gesin te wil versorg en dis ingebore vir ’n vrou om daarna aangetrek te word (mits jy nie van háár verwag om by die huis te bly nie!). Ambisie is sexy! Beide kante toe.

Sy wíl hê dat jy leiding moet neem… en dit beteken nie om haar te override nie! Maar sy wil soms hê dat jy haar hand moet neem en eerste begin stap. En dat jý soms die bespreking by die restaurant moet maak, die show kaartjies moet koop en die vakansieplek moet bespreek. Ook dat jy aan tafel vir julle gesin moet bid.

Sy wíl hê dat jy haar soos ‘n prinses laat voel… en dit kan jy doen deur ’n gentleman te wees (nie net met haar nie, maar deur jou sitplek af te staan aan die swanger vrou wat staan op die lughawebussie). Goeie maniere raak nooit uit die mode nie! Dis vir haar lekker as jy die kar se deur oopmaak en die stoel vir haar uittrek en dit herinner haar daaraan dat jy ’n mán en sy ‘n vróú is.

Sy wíl hê dat jy haar teen die muur vaspen… ja, vroue wil ’n lover hê wat aandag gee aan haar emosionele behoeftes en weet hoe om stadig en sensueel met haar seks te hê, maar soms crave sy ook die ‘gryp-haar-en-druk-haar-teen-die-muur-vas variety, waar jy haar hande vashou en haar só soen dat sy skaars kan asem kry. Wat is nou meer aantreklik vir enige vrou as ’n warmbloedige… grotman!

 

Deur Annelize Steyn