Manne, emosies speel ’n belangrike rol in elkeen van ons se lewens. Elkeen ervaar, voel en beleef hierdie ding genaamd “emosie” in kommunikasie en interaksie met onsself, mense en ons omgewing op verskillende maniere.

Promosie

Nie een persoon is dieselfde nie, elkeen is uniek, en só ook is ons belewenis wanneer passievolle diep gesprekke en berigte uit verskillende oorde plaasvind. Die feit is, emosie kan lekker vinnig vlamvat – veral wanneer ons praat oor ons land, sy toekoms, sport, ekonomie of ons verhouding met geliefdes naby of ver van ons af.

Elke man beleef emosie in sy eie lewe, of hy dit nou probeer vermy of dink hy het nie emosie nie – vriend, jy het dit! Emosie is integraal deel van ons lewens en dis iets wat ons maar net sal moet hanteer. Ek kan jou waarborg dat jy in ’n verhouding gekonfronteer gaan word met die verskil tussen hoe vroue aan emosies uiting gee en hoe mans emosies hanteer.

Daardie mooi lyfie en gesiggie, met die sagte stemmetjie, wat jy jou meisie of vrou noem, het baie emosie en glo vir my, sy gaan heel moontlik emosioneel anders funksioneer as jy. Die groot vraag is: Het jy wysheid, insig en kundigheid om haar toe te vou met onvoorwaardelike liefde om haar veilig en geliefd te laat voel wanneer sy deur haar emosies werk?

Promosie

Daar word gesê dat ’n vrou deur meer as 3 798 vorms van emosie werk, en soos dit vir my klink, het ons as manne een enorme taak – om nie noodwendig te probeer verstaan nie, maar haar wel net lief te hê.

Danksy my amper 19 jaar van getroude lewe is daar ’n paar voorstelle en raad wat ek vir jou kan gee om jou sogenaamde waentjie deur die drif te kry en jou op koers te  hou sodat jy as man nie toeslaan as jou vrou die dag emosioneel raak nie . . .

DRIE GOUE REËLS oor emosie:

  1. Moenie emosie probeer verstaan of oplos nie!

Ek het wel verstaan dat Elmien iewers, gedurende ’n sekere tyd van die maand, ’n bietjie meer gevoelig en sensitief is. Ek het tot die beste van my vermoë aan die seuns verduidelik oor die sensitiewe tyd in ’n maand en hoe hulle dit beter kan hanteer.

Die snaaksste hiervan was toe my jongste na twee weke heel onskuldig vra: “Is Mamma steeds besig om te menstrueer?” Ek kon regtig nie help om kliphard uit te bars van die lag nie en het maar mooi verduidelik dat ons nie altyd ’n antwoord gaan hê vir emosies wat vloei nie, maar wel bereid is om haar hart met deernis en omgee te hoor. Manne, jul vroue wil nie noodwendig jul oplossings hoor nie, maar wel jul ore om te hoor en te ondersteun wanneer sy broos is in ’n storm van emosies.

  1. Moenie emosie vermy en dink dit gaan weg nie.

Om jou kop soos ’n volstruis in ’n gat te steek en te dink mense sien jou nie, is nie heeltemal die manier nie! Manne, om blindelings voort te gaan en emosie te vermy, is onwys. Gee jou geliefde kans om te praat en onthou, sy gaan praat wanneer sy reg is.

Jy moet jouself instel en weet: Wanneer vroutjie praat, het sy jou onverdeelde aandag nodig! Fokus op haar en net op haar! Los waarmee jy besig is en gee haar kans om haar hele hart met jou te deel. Kyk in haar oë en laat toe dat sy belangrik genoeg voel om gehoor te word en dat sy veilig kan voel by jou – dit maak nie saak hoe erg of hoe ongelukkig sy mag wees nie.

Jy is haar held en jy is die een wat sy met haar lewe vertrou. Wees daar vir haar en moenie die situasie vermy of die saak afmaak asof dit nie belangrik is nie – die Here het ’n vrou delikaat geweef. Manne, onthou – indien jy nie jou vrou se emosionele potjie volmaak en volhou nie, skiet jy jouself in die voet. Dit maak dat jy as man en sy as vrou beslis nie optimaal kan funksioneer en jul doelwitte vir die nuwe jaar kan bereik nie.

  1. Moenie emosie met emosie konfronteer nie.

Ek was op ’n stadium in ’n werksituasie waartydens ek baie spanning gehad het en my emosies hoog vlambaar was. In hierdie tyd het ek ’n baie duidelike prentjie gehad van ’n man met twee emmers. In die een emmer was water en in die ander petrol. Die keuse van watter emmer om te gooi, was in die man se hande.

Elke liewe mens, soos ek en jy, het twee emmers waarmee ons rondloop. Die vraag is: Gooi jy petrol of gooi jy water op die vlamme voor jou? Emosie word bestry met water – sagte woorde, ’n hart wat verstaan en ’n mens wat onvoorwaardelik lief het! Petrol het die teenoorgestelde uitwerking.

Manne, hierdie is ’n jaar vol beloftes en doelwitte wat bereik moet word. Ek vertrou jou hoofdoel is jou vrou – nie alleen om haar as mens te vervul nie, maar ook om haar as emosionele wese beter te verstaan en lief te hê!

 

Deur Stephen Claassens