As ’n man se Christenskap werklik vir hom erns is en hy na God se Woord luister, behoort daar nie slagysters te wees nie – maar die mens is feilbaar en daarom skep die man soms self struikelblokke in sy huwelik.
As jy Galasiërs 5:22-26 lees, kan jy die doel van ’n man in die huwelik daardeur identifiseer. Die slagysters of struikelblokke is presies dít wat elke “vrug” nié is nie. Met liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, nederigheid en selfbeheersing as vrugte van die Gees, kan ’n mens die volgende as slagysters beskou: Haat, ongelukkigheid, oorlog, onrustigheid, ongeduld, onvriendelikheid, kwaadheid, hoogmoed en opvlieëndheid. Natuurlik is daar ook variasie hierop . . .
Dikwels verstaan ons manne nie die innerlike psige van hul vrouens nie – en belangriker nog – ons wend nie eers ’n poging aan om hulle te verstaan nie! Ons besluit: Sy is te emosioneel / sy trek terug / ons leef by mekaar verby. Só hoe oorbrug ’n mens die emosionele slagyster en hoe sonder jy tyd af om oor mekaar se dieperliggende emosies te gesels? Want die wenresep vir ’n beter huwelik is dikwels wedersydse begrip vir mekaar se emosies.
Daar is mans wat glo in ’n outokratiese leierskapstyl teenoor hul vrou en gesin. Só ’n man glo hy is dan nou immers die hoof van die huis! En só word hierdie Bybelse boodskap heel verkeerd verstaan. Want eintlik is jy veronderstel om die versorger en beskermer van jou huis te wees – jy moet jou vrou en kinders in jou besluitneming in ag neem en is nie die alleenheerser wees nie.
Jou vrou is ’n mens in eie reg en jy moet haar dit gun. Voel jy geïntimideer omdat sy haar eie loopbaan volg en soms beter as jy presteer? Julle is wel twee individue, maar onthou – as julle mekaar ruimte gun, kan julle wonderlik as ’n span saamwerk.
Wat my bring by een van ons manne se grootste slagysters: Jaloesie (dikwels ongeregverdig). Delf dieper in jouself en stel vas waarom jy daardie innerlike onsekerheid het. Maak dit ’n daadwerklike poging om hierdie jaloesie te onderdruk. As Christenmans moet ons bereid wees om te gee (ook aan ons vroue), en met vreugde en liefde (soos Galasiërs 5:22-26 aan ons voorskryf).
Nog een van daardie lastige slagysters kom saam met die “rat race”. Ons werk van vroeg tot laat – moontlik ook in ’n pos waar ons telkens in kontak kom met goed versorgde, aantreklike dames. Die druk is hoog en wanneer ons saans by die huis kom, wil ons net “wees” (soms in ons grotte!).
Ons sien nie noodwendig raak dat vroulief haar hare laat sny het, ’n nuwe uitrusting aanhet of moeite gedoen het om ons gunsteling aandete voor te berei nie . . . en namate dit al hoe meer gebeur, raak ons, stadig maar seker, oor ’n tydperk van maande, en later jare, uit voeling met ons huweliksmaats.
Elkeen moet opoffer om die maandelikse begroting te laat klop. Maar wanneer laas het jy saam met jou lewensmaat gesit en sterre kyk, kerse aangesteek en na mooi musiek geluister? Wanneer laas het jy jou hart uitgepraat oor dit waarna jy hunker, jou toekomsdrome gedeel en saam beplan om daar uit te kom? Wanneer laas het julle mekaar net deel gemaak van wie en wat julle is?
Die rotresies-mentaliteit van alles-wees-vir-almal is besig om die oes op te lewer van gebroke huwelike, ouerlose kinders en geknakte mense. Wat gebeur as ’n mens geknak is? Jy wil weer heel word. En jy vergeet dat ’n “nuwe begin” jou met dieselfde omstandighede gaan konfronteer as jy nie self verander nie.
Dit is dus tyd om die kringloop te breek. Dit is tyd om familiebande te herstel. Dit is tyd vir ons manne om ons vroue en kinders bo alle ander eise te stel en om hulle deel te maak en te hou van alles wat vir ons as mans belangrik is. Dis tyd om, soos Josef, weg te vlug wanneer iemand of iets jou huwelik bedreig en om vas te hou aan een van die kosbaarste instellings wat God vir ons as Sy kinders gegee het – familie!
Ek het maar net ’n paar slagysters uitgesonder. Daar is heelwat hiervan. Maar onthou: As man is jy God se ambassadeur in die huwelik.
Deur Johan Barnard