So, wanneer laas het jy ’n regte pen en papier opgetel om ’n brief te skryf? En wanneer laas was daardie brief ’n liefdesbrief? En ’n stomende een daarby…
Daar is min dinge so spesiaal soos ’n regte, outydse liefdesbrief. Daardie soort wat geskryf is op papier wat al vergeel is, met die reuk van motballe en muf oorheersend (van iewers in ’n boks lê), maar met ’n vae titsel parfuum of eau de cologne wat probeer deurbreek. Die ink op sommige plekke slegs ’n blerts – dalk vanweë ’n inkpen wat gelek het, en moontlik die spoor van ’n traan van verlange. Die woorde so eie aan die tyd waarin dit geskryf is, maar tog so innig en intiem soos net die woorde tussen twee liefdesmaats kan wees…
Miskien was jy al die leser van só ’n brief. Beskou jouself as baie bevoorreg om die geleentheid te kon hê om dit te kon sien, want eerstens is liefdesbriewe (die régte soort in harde kopie) ’n bedreigde item en tweedens is dit toegang tot ’n baie intieme oomblik. Dalk was jy die ontvanger van só ’n brief of dalk het jy daarop afgekom toe jy jou ma se goed reggepak het ná haar dood. Hoe dit ook al sy, dit is ’n kosbare skat wat jy met respek moet bewaar.
Hoe wonderlik sal dit nie wees as jy só ’n baie spesiale brief aan jou maat kan skryf nie? ’n Brief oor julle hier-en-nou en oor wat jy diep binne vir jou maat voel.
Alles goed en wel, maar waar begin jy? Jy is immers nie noodwendig ’n digter nie! Dit is die meeste briefskrywers se dilemma. Ons lewe in ’n kits era waar ons eposse stuur met ’n vinnige smiley face en drie kruisies vir soentjies. ’n Epos wat veilig sou wees indien die IT-departement daarop sou afkom en iets wat vinnig genoeg is om te skryf tussen jou vergadering en jou kind se netbalwedstryd. Maar as jy regtig tyd het en jy wil moeite doen met die regte woorde, is daar só ’n writer’s block dat jy liefs weer na die WhatsApp-roete draai.
Moenie vrees nie – trek jou Bybel nader. Ons gaan jou stap vir stap wys hoe om aan jou maat ’n baie spesiale liefdesbrief met Salomo se inspirasie te skryf.
“Die temas en beeld wat so vernuftig inmekaar geweef is in hierdie liefdesliedere teken ’n heerlike sensuele prentjie van die liefde. Die taal is besonder mooi. Die pragtige beelde waarmee die liefde beskryf word, is eroties en suggestief. Dit beskryf onteenseglik ’n seksuele verhouding tussen ’n man en ’n vrou,” word geskryf in Die Leefstyl-Bybel vir Vroue. “Hooglied is ’n voorbeeld van die soort oorvloedige, intieme komplimente wat spontaan kom wanneer mense wat mekaar innig liefhet, met mekaar praat.”
Dié Boek beskryf Hooglied ook as ’n “tydlose beskrywing van ’n liefde wat sterker is as die dood, wat soos ’n vuur brand en nie deur strome water geblus kan word nie” (8:6-7). Dié Bybel sê ook dat Hooglied ’n móét is vir albei geslagte omdat dit ons ’n aanknopingspunt gee om seksualiteit, drome en verlangens oor mekaar te bespreek.
1. Dit gaan ’n bietjie navorsing verg, want die idee is nie om te copy and paste nie. Maak dit dus jou missie om Hooglied aandagtig deur te lees.
2. Onderstreep dié gedeeltes wat vir jou baie mooi is, wat om die een of ander rede tot jou spreek en wat toepaslik is tot julle situasie.
3. Wanneer jy voel asof jy alles bymekaar het wat jy graag in jou brief wil gebruik, tik dit oor en knip elke sin/vers uit. Of fotostateer dit en sny dit uit sodat die gedeeltes los grepe is wat jy kan meng en pas soos jy wil.
4. Nou begin jou skryfwerk. Hooglied gee aan jou ’n raamwerk en jy moet dit verpersoonlik sodat dit ’n unieke brief is deur jou aan jou maat. Jy kan woorde vervang, name invoeg en uitbrei op wat reeds daar staan.
Voorbeeld: Neem die volgende teksverse…
“Soos ’n appelboom tussen wilde bome,
so is die man wat ek liefhet
tussen die jong mans.
Ek sit graag in sy skaduwee,
sy vrugte is soet in my mond.” (Hooglied 2:3)
“Die man wat ek liefhet, is myne,
en ek syne.
Hy laat sy skape tussen die lelies wei
tot die aandwind begin waai
en die skaduwees lank word.
Kom terug, man wat ek liefhet,
maak soos ’n ribbok, soos ’n takboklam op die Beterberge.” (Hooglied 2:16)
“Ek het geslaap,
maar my hart het wakker gebly.” (Hooglied 5:2)
“Ek staan op om oop te maak
vir die man wat ek liefhet,
terwyl my hande drup van die mirre,
terwyl die mirre van my vingers afloop
op die deur se knoppe.” (Hooglied 5:5)
“Die man wat ek liefhet,
is blakend gesond en blosend van kleur;
jy kan hom uitken
tussen tienduisend ander.” (Hooglied 5:10)
“Kom, man wat ek liefhet,
kom ons gaan veld toe,
kom ons gaan slaap in die dorpies;
ons gaan vroeg smôrens
na die wingerde toe,
ons gaan kyk of die wingerdstokke bot,
of die botsels oop is
en die granaatbome bloei.
Daar sal ek my liefde vir jou gee.” (Hooglied 7: 11)
“Hou my teen jou
soos die seëlring op jou bors.” (Hooglied 8: 6)
5. Verwerk dit dan nou dat dit ’n gedig is wat tot júlle spreek en jóú gevoelens saamvat. Kleur in, verander, werk by, haal uit sodat dit ’n gedig word wat jy spesifiek aan hom rig. Gebruik sy voornaam en vervang waar daar staan “sy” met “jou” en “jy”. Hier is ‘n oulike voorbeeld: HoogliedBrief
6. Jou brief is gereed. Skryf jou finale weergawe neer op papier van goeie gehalte. Dit kan jy kry by enige skryfbehoeftewinkel of handelaar wat spesialiseer in papier. Skryf nou jou brief met die hand oor op die vel papier en met ’n behoorlike swart inkpen.
7. Seël die brief met rooi was, as jy so iets in die hande kan kry (dit is steeds beskikbaar by sommige skryfbehoeftewinkels).
8. Plak jou brief toe en dra dit vir ’n uur of wat letterlik teen jou bors sodat die reuk van jou vel en jou parfuum daaraan kleef.
9. Skryf jul huisadres (of die adres waar hy huidiglik is) voorop en pos jou brief. Dit sal ongetwyfeld een van die mooiste persoonlike items wees wat hy in sy lewe ontvang het en hy sal jou beslis teen hom hou, soos die seëlring teen sy bors.
Deur Annelize Steyn