Het ’n man al ooit in ’n voorskoot voor ’n stoof gestaan, hom ingeleef in die fynkap van speserye, jou aan sy bolognaise-sous laat proe en jou later met sy vingers gevoer? As jy nie later met hom getroud is nie, moet jy jou kop laat lees…
Menige fliekregisseurs het die krag van kulinêre verleiding lank reeds begryp. Vandaar die rede hoekom soveel romantiese karakters restaurant-eienaars van beroep is en na-ure vir hul geliefdes kos maak.
Jenny Morris is een van ons land se mees geliefde kospersoonlikhede en ook die skrywer van die boek Rude Food, Nude Food, Good Food (uitgegee deur Human & Rousseau). Sy is ook ’n tydskrifjoernalis, radio en televisie- aanbieder, celebrity sjef, opleier en kulinêre toergids wat meen sy het ’n ononderbroke liefdesverhouding met kos sedert haar kinderjare, toe sy begin het om lekkernye vir skool fondsinsamelings te maak.
Sy het honderde radio-uitsendings uitgesaai en in tientalle plaaslike televisie- programme en vele invoegsels vir internasionale televisieprogramme verskyn. Sy bied ook gereelde radioprogramme op CapeTalk en TalkRadio 702 aan.
Boonop is Jenny ’n bondeltjie energie wat jou oorrompel met haar humorsin, en is sy ’n groot voorstander daarvan om kos en sensualiteit met mekaar in verband te bring. Jenny het haar loopbaan as sjef begin deur vir vriende te kook – gratis nogal. Dié vriende het weer hulle vriende gebring en eindelik is ’n sake-onderneming gebore. “I am passionately trained,” voeg sy by. Vandag staan sy oral bekend as The Giggling Gourmet, ’n naam wat sy, met haar uitnemende humorsin, deur en deur verdien.
Jenny glo daarin om kos met jou vingers te geniet, omdat dit so ’n sensuele ervaring is: “Om mee te begin, die gevoel van koue, vlekvrye staal of selfs silwer, is baie betowerend in ’n pragtige warm mond, maar as jy jou tyd neem om jou kos te voel, het dit wonderlike temperature en teksture. Jy sal weet hoe dit voel om ’n stukkie vogtige pienk salm na jou lippe te bring en dit op jou tong te voel, en natuurlik pro edit selfs nog beter wanner jy elke bietjie geur van jou vingers aflek. Ek sê jou, ons moet smaaktoppies in ons vingers ook hê!”
Vra jy haar wat, in haar opinie, die sexyste bestanddele of kossoorte is, antwoord sy: “Salmkaviaar, scallops, oesters, seldery, sjokolade, Philadelphia roomkaas… om net ’n paar te noem…” Jenny glo dat om kos op die mees romantiese manier te geniet, jy dit moet deel met iemand wat jy liefhet. Of dit nou op ’n strand is, by ’n tafel wat gedek is met kraakvars wit linne, en of dit in die bad of in die bed is – om jou maaltyd te deel met daardie spesiale persoon, is waaroor die vreugde van ’n sensuele eet-ervaring gaan. Die belangrikste les wat sy as sjef geleer het, was om dinge eenvoudig en vars te hou.
Jy kan nie help om te wonder hoe dit met háár liefdeslewe gaan nie en vra: ’Het jy al ooit ’n man verlei deur vir hom te kook en wat het gebeur?’ Sy antwoord: “Ek is steeds besig om hom te verlei en álles gebeur!”
Daarteenoor is Jenny uitgesproke oor die spreekwoordelike passion killers as dit by kos kom. “’n Passion killer vir my, is iemand wat hul kos verorber en iemand wat nie avontuurlik is oor kos nie, omdat hierdie avontuur dikwels lei tot ander avontuurlike dinge.” Die beste gereg wat sy ooit geniet het? “’n Pragtige bief broth vol vars, krakerige kruie, sprouts en smeltende sagte stukkies bief, ek het dit in Viëtnam geëet.”
Jenny deel ’n paar wenke as dit kom by verleiding met behulp van kos:
1) Moenie ansjovis op ’n eerste afspraak bedien nie, tensy jy ’n tandeborsel iewers onder in jou handsak of kouse bêre! Vis-asem is ’n groot turn off…
2) Eet slegs knoffel en bloukaas sáám met jou maat.
3) Bedien áltyd vye wanneer dit in seisoen is. Split hulle oop en jy sal sien dat dit regtig ’n suggestiewe vrug is.
4) Gebruik asyn wat goed verouderd is en nie skerp en suur is nie. Dit kan jou laat hoes en mag jou dalk net winderig maak… vra my, ek weet!
Daar steek dus waarheid in die feit dat mans sê hulle hou nie van vroue wat aan blaarslaai pik nie, omdat dit dalk juis daarop dui dat hulle nie veel waagmoed in die slaapkamer het nie. Soos Jenny tereg in haar boek sê: “Om jou kos te voel is belangrik. Koester dit, streel dit, verken dit in-diepte.”
Volgens haar wys die manier waarop jy jou kos eet dikwels watter tipe bedmaat jy is. “Jy wil nie iemand hê wat ’n sosatie met ’n mes en vurk eet nie. En as ek president en staatshoofde kan kry om met hulle hande te eet, kan enigiemand dit doen!”
Miskien is dit tog tyd om ’n bietjie moeite te doen en jou man te verlei deur nié elke aand hamburgers te bestel nie en rysgeregte ’n bietjie te beperk. So, trek jou voorskoot nader (jou voorskoot en jou voorskoot alléénlik), dra jou draagbare radio kombuis toe en sorg dat die eetgerei in die laai bly…
Jenny Morris, kosfoendi en skrywer van die boek Rude Food, Nude Food, Good Food glo dat kos soveel meer sensueel is wanneer ’n mes en vurk in die laai bly lê!
Jenny deel een van haar gunsteling-resepte met INTIEM-lesers:
Lamskenkels gerooster in papier
Bedien 6
“Hierdie dis is wonderlik om jou suigvaardighede af te show – moenie ’n druppel aan die been agterlaat nie.
Maak die dis vir twee en vries dít wat oorbly,” sê sy.
6 Stewige lamskenkels
MARINADE
90ml (6T) olyfolie
4 knoffelhuisies, fyngemaak
5ml (1t) paprika
250ml (1k) suurlemoensap
1 ui, geskil en fyngekap
20 swart peperkorrels
Vars roosmaryn, tiemie en pietersielie, fyngekap
Metode:
1. Voorverhit die oond tot 160 grade Celsius.
2. Meng al die marinade-bestanddele saam en marineer die lamskenkels vir 24 uur.
3. Verwyder die lam van die marinade. Druk droog.
4. Plaas elke skenkel op twee lae greaseproof papier of aluminiumfoelie
5. Geur met sout en bedek met kruie
6. Maak dit styf toe, druk die punte na onder sodat hulle nie oopmaak tydens die kookproses nie.
6.7Plaas die pakkies op ’n goed gesmeerde bakplaat.
8. Bak die skenkels vir drie ure. Moenie vloeistof byvoeg nie en moenie omdraai nie.
9. Bedien op ’n romerige, botterige knoffel botterboon mash