Jy hóéf nie, geïntimideerd deur Gisele Bündchen-eweknieë, met krom skouers in ’n hoek te bly sit nie. Deesdae is daar geen verskoning meer om met ’n lae selfbeeld oor dít wat jy beskou as ‘figuurfoute’ rond te loop nie…
Saam met die heerlike pakkie waaruit vrouwees bestaan, word ’n sensitiewe siel verpak. Daarom dat daar bitter min Evas is wat in die spieël kan kyk en met genoegdoening kan dink: ‘Hmm, perfek!’Selfs die beste aktrises en supermodelle wat 20% van jou liggaamsgewig weeg, 100% meer sellulietvry as jy is, 50% meer hare as jy het en met 0% van jou velprobleme worstel, sukkel met dié kwessie.
Was dit regtig Barbie se skuld? Of is ons maar nou net eenmaal só… dat ons klein probleempies as reuse figuurfoute beskou? Elke Christenvrou weet dat sy uniek geskape is en reg is nét soos sy is (dat sy moet dankbaar wees vir ’n normaal funksionerende liggaam). Maar vertel dit vir ’n vrou wanneer sy ’n bikini in ’n ongenadige aanpaskamer aanpas, of haar man haar vra om bo-op hom te sit wanneer die kerse in die slaapkamer romanties flikker?
Dit is ongelukkig só dat die manier waarop ’n vrou haar uiterlike ervaar, ’n baie groot effek op haar selfbeeld het. En dat haar selfbeeld ’n geweldige effek op haar sekslewe kan hê. So, is dit daarom werklik ydel om dít wat jou keer om ’n gelukkige mens te wees en ’n suksesvolle sekslewe te hê, te verbeter?
Miskien doen jy dit reeds deur jou hare maandeliks te kleur, gereeld vir ’n bikiniwaks te gaan en daardie treadmill te trap asof jy daarvoor betaal word! Maar dan is daar dié probleempies wat maar net nie wil wyk nie. Dít wat jy diep wegbêre. Probleme wat onder vormende onderklere, dik onderlaag, en liposuction weggesteek word. Ongelukkig weet baie van die slagoffers wat hierdie desperate pogings aanwend nie dat daar wél iets aan die saak gedoen kan word nie. Dat hulle nie fratse is nie en dat kenners aan álles gewoond is.
Boesem benoudhede…
Sal jy plastiese snykunde oorweeg? Miskien sal jy dit nooit hardop sê nie, maar jy sou tog nie omgee om jou borste ’n paar sentimeter te lig nie. Of miskien ken die ontvangsdame by die sjirurg om die hoek jou op die voornaam. Voor jy egter sê: “Nooit!” stel jouself die volgende situasies voor: Leani het ’n atletiese figuur en nog altyd ’n sporttalent gehad, maar sy het dit onderdruk omdat haar borste ongemaklik, sensitief en in die pad is wanneer sy sport doen en sy sukkel om ’n sportbra te kry om haar groot borste te ondersteun. Sy het nie kans gesien vir die seuns se gesigsuitdrukkings wanneer sy hoogspringlat toe moes hardloop nie en het net bloot nie kans gesien vir die stremming en impak wat sport op haar borste gehad het nie. Daarom het sy maar ’n lae profiel gehandhaaf. Tog wonder sy deesdae of sy nie miskien ’n tweede Hestrie Cloete kon gewees het nie.
Haar lewe sou heelwat anders gelyk het… Jana het ’n wilgerlatlyf wat deur al haar vriendinne beny word. Haar borsmaat is in perfekte proporsie met die res van haar liggaam en sy lyk soos ’n supermodel. Tog dra sy los hempies en sien jy haar nooit in ’n bikini nie. Sy is onlangs getroud, maar wanneer dit sulke tyd is, word die ligte afgeskakel en haar nuwe man het nog nooit die voorreg gehad om sy nuwe vroutjie naak te sien nie. Die probleem is dat haar asimmetriese borste, met tepels wat na verskillende rigtings wys, Jana só selfbewus maak dat sy met ’n diep, donker geheim saamleef.
Jacolette het vier maande gelede haar eersteling gehad en was ’n ernstige slagoffer van nageboorte depressie. Sedertdien het die verhouding tussen haar en haar baba verbeter, maar staan haar en manlief se huwelik op die rand van ’n afgrond. Sy weier om met hom seks te hê. Hy voel haar verskonings is afgesaag en dat hy haar al genoeg tyd gegee het om te herstel na haar keisersnee. Die waarheid is dat Jacolette haar borste wat ná vier maande se borsvoeding pap en laag hang, verafsku, en alles in haar vermoë probeer om haar ‘deegmaag’ weg te steek. Sy wonder of ’n vervullende sekslewe ooit weer vir haar ’n realiteit sal wees…
Die probleme wat vroue met die voorkoms van hul borste het, is legio. “Daar is vroue wat glad nie borste het nie, net tepels. Hulle voel só onvroulik,” vertel Elmarie Marais, eienaar van ’n Medi-spa in Centurion wat self haar borste laat verklein het omdat dit met haar alledaagse lewe en sporttalent ingemeng het.
“Sommige vroue het borste met feitlik geen borsweefsel of borste waarvan die tepels effens opwaarts wys, soos piesankies,” verduidelik Elmarie. “Deur prostese in die borste te plaas, maak dit die borste meer vol en is die voorkoms van die borste aantreklik en normaal.” ’n Groot probleem by vroue met hangborste, is dat daar min borsweefsel beskikbaar is. Dit word ’n “empty envelope” genoem. In dié geval is die ideale sjirurgie om die bors op te lig (mastopeksie) en dan die bors te vul met ’n prostese wat weer aan die bors ’n jeugdige ferm voorkoms gee. Die grootste klagte van vroue wat bors-oplig en borsverkleining sjirurgie ondergaan is gewoonlik die letsels na die sjirurgie. Dit versag gewoonlik met tyd. As sjirurgie egter nie vir jou is nie, is daar wonderlike onderklere om hangborste mee te ondersteun, klein borste groter te laat lyk en borste wat wyd uit mekaar sit, nader aan mekaar te laat lyk.
’n Harige situasie…
Elmarie sê dat hulle daagliks met vroue te doen kry wat vernederd voel deur hul probleme. “Daar is byvoorbeeld vroue wat ’n geweldige digte haargroei op hul privaat-areas, mae of rûe het. Jy kry vroue wat geneties baie harig is en die met baie manlike hormone, hulle praat nie daaroor nie. En hulle weet nie dat hulle daarvan ontslae kan raak met behulp van laser haarverwydering nie.” Baie van hierdie vroue leef hiermee saam en ander gaan maand na maand na ’n terapeut toe waar hulle baie lank moet sit sodat sy die hare met waks kan verwyder. ’n Terapeut vertel hoe sy ure aan een van haar kliënte bestee omdat dié se skaamhare bo-oor haar bene en agterstewe groei.
Vir dié vrou is dit ’n geweldige vernederende situasie en sy sal waarskynlik nooit na ’n ander terapeut toe gaan nie, omdat dit vir haar reeds erg genoeg is dat een persoon weet van haar probleem. Waks is wel ’n opsie, maar daar is egter meer permanente oplossings in die vorm van laserterapie, vertel Elmarie. Ongeveer ses laser haarbehandelings kan die groei radikaal verminder en dit hou jou altyd netjies en gemaklik wat ookal die situasie. As jy egter baie hare op jou ken het, gaan sien jou geneesheer. Polisistiese ovariumsindroom (wat gekenmerk word deur hoë vlakke van manlike hormone) of ’n adrenalienklier-probleem kan die oorsaak wees. Vroue wat weer sukkel met haarverlies kan mesoterapie ondergaan of ’n haarkliniek besoek.
Sweet sonder rede
Daar is vroue wat al van jongs af sukkel met hande en voete wat sweet. Ander wat te skaam is om ’n ligte bloes te dra, omdat die kans dat hulle kort-voor-lank met nat kolle onder die arms vernederd in ’n geselskap gaan staan, baie goed is. Wanneer jy oormatig sweet, is dit niks om jou oor te bekommer nie. Jy het miskien net ’n skadelose, oorerflike geneigdheid tot sweet, wat enige tyd na vore kan tree. Sien egter jou dokter om ’n ooraktiewe skildklier, lae bloedsuikervlak en ander probleme uit te skakel. Vind by jou dokter uit of daar ’n plaaslike produk is wat ’n hoër persentasie aluminiumchloried bevat, wat in die oggend afgewas kan word. As dit steeds nie werk nie, oorweeg Botox – dit is veilig en kan die sweetkliere verlam vir van ses maande tot ’n jaar lank!
Onooglike spatare
Miskien het jy nie net jou ma se blou oë geërf nie, maar ook die onaansienlike blou are op haar bene. Of miskien was jy bloot swanger of het jy jou been baie hard gestamp. Hoewel spatare dikwels oorerflik is, is dit nie die enigste oorsaak nie. Groot spatare moet sjirurgies verwyder word, maar daar is deesdae alternatiewe om ander gesig- en been-aartjies te behandel. Vitamiene K-room word deur baie mense beskou as die beste teenvoeter in spataar-behandeling, moontlik omdat dit bloedvate kan saamtrek en die are dus minder sigbaar maak. Maar daar is geen manier waarop die molekules van die room deur die vel geabsorbeer kan word in jou are nie. Daarom is die beste opsie (met 95% pasiënte wat resultate sien na een tot drie behandelings) skleroterapie, waar klein hoeveelhede soutoplossing ingespuit word, wat die are irriteer en veroorsaak dat hulle toeswel (www.webmd.com).
Laser haarverwydering met ’n Nd Yag laser is ook effektief. Die hitte van die laser verhit die bloed in die aartjies wat die aartjies vernietig.
Lyflike leemtes…
As jy kinders het, sal jy weet dat jou lyf geneig is om ander mates aan te neem ná die eersteling se geboorte. Behalwe vir die lastige swangerskapgewig waarvan soveel vroue sukkel om ontslae te raak, vertel Elmarie ook van vroue wie se figuurvorm letterlik verander het ná swangerskap en vroue wat eens met ’n atletiese lyf gespog het, sit skielik met ’n baba én ’n appelvormige lyf, saalsakke, ’n papperige “deegmaag”, en/of empty envelopes (hangborste). Baie vroue kla ook na hul swangerskap oor selluliet. Behalwe vir sellulietrome op die winkelrakke, is daar verskeie soorte sellulietbehandelings (Silhouette, Endermologie en mesoterapie) wat jy by jou naaste Medi-spa kan ondergaan. As jy bereid is om onder die mes te gaan om van ongewensde vetversamelings ontslae te raak, is liposuksie ’n opsie. Dit is wêreldwyd die kosmetiese prosedure wat die meeste uitgevoer word met uitstekende permanente resultate. Om van ’n voorskoot-magie ontslae te raak is die enigte opsie maagverkleinings-sjirurgie of ’n tummy tuck. Die tegnologie het so gevorder dat daar egter deesdae verskeie roetes is om te volg voor jy daardie besluit hoef te neem om onder die mes te gaan lê. Kleiner ongewensde vetversamelings wat weerstandig is teen dieet en oefening kan ook vernietig word met ultraklankgolwe met die Ultrashape behandeling. Verskeie skoonheidsalonne het deesdae ook medici aan boord en die nuwe term vir hierdie tipe onderneming, is ’n Medi-spa. Hier kan jy prosedures laat doen soos om selluliet te behandel en vet te help verbrand – ’n makliker alternatief tot liposuksie. Chemical liposculpture, verduidelik Elmarie, is ’n prosedure waartydens ’n aktiewe bestanddeel wat vet vernietig, deur ’n mediese dokter op die probleem-area onder die vel ingespuit word.
Van aangesig tot aangesig
Soveel vroue raak deesdae van plooie ontslae en die meeste is nie skaam om Botox en vuller-inspuitings te bedank vir hul ontspanne voorkoms nie. Daar is egter diégene vir wie dit steeds iets is waaroor hulle nie wil praat nie. Sommige vroue sukkel met ’n plooi wat hulle laat kwaai lyk, of hiperpigmentasie wat só ekstreem is, dat hulle verhoog-onderlaag dra om dit te verbloem. Vir laasgenoemde kan laser behandelings en chemiese afskilfering wondere verrig. Wonderlike deurbrake in velmedikasie het ook tot gevolg dat geen persoon meer met aknee hoef saam te leef nie – en dit is iets wat dikwels voorkom – vroue wat verby hul puberteitsjare is, maar steeds worstel met puisies op hul gesigte, bors, rug en selfs arms.
Soms het vroue ’n lastigheid wat deur ’n baie klein prosedure reggestel kan word. Elmarie het in ’n stadium ’n terapeut geken wat haar bakore met Superglue teen haar kop vasgeplak het omdat sy so graag haar hare terug wou dra. “Dit is net ’n klein prosedure, maar dit affekteer haar hele lewe en haar selfbeeld.” Vroue soos sy kan nooit kort hare of mooi oorbelle dra nie, omdat dit die aandag na hul ore trek en baie van hierdie vroue is nie bewus daarvan dat dit so vinnig herstel kan word nie.
En die ‘bedekte’ probleme
Van die probleme wat seker die ergste aan vroue se seksuele selfbeeld knaag is diégene wat net haar man sien. Daar is byvoorbeeld vroue wat selfbewus voel oor hul uitermatige groot skaamlippe – iets wat met behulp van ’n operasie herstel kan word. Vroue wie se vaginas uitsonderlik gerek het met kindergeboorte, kan die opening laat kleiner maak deur middel van plastiese snykunde. Diegene wat selfbewus voel oor klein tepels, kan hul tepels bloot groter laat tatoeëer, só dat geen mens dit sal agterkom nie. ’n Kleurstof wat presies by die kleur van jou tepels pas, word reg rondom getatoeëer sodat jy met groter tepels spog.
“Jy kan selfs letsels deesdae laat tatoeëer,” vertel Elmarie. As jy byvoorbeeld selfbewus voel oor die letsel wat jou keisersnit gelaat het, kan die merk minder opsigtelik gemaak word deur tatoeëring. Vroue wat worstel met geboortevlekke op privaatplekke kan met behulp van ’n IPL lasermasjien die vlekke ligter en minder opsigtelik laat maak.
’n Virus is verantwoordelik vir vratte, jy kan dit kry vanweë genetiese oorerwing of kontak met ’n besmette persoon. As vratte nie verdwyn nie, spreek jou dermatoloog oor opsies soos laserterapie en vloeibare nitrogeen-behandelings. Handvratte kan ook na die genitalieë versprei – nog ’n vernederende probleem vir vroue. As jy sukkel met moesies en vratte op jou genitalieë, kan dit egter ook moeiteloos verwyder word en hoef jy nie daarmee saam te leef nie. Aambeie is nog ’n ongemaklike probleem vir vroue. Hiervoor moet jy egter ’n oor-die-toonbank room aanskaf of jou dokter gaan spreek as die probleem nie onder beheer kom nie.
Een neteligheid..
Die een ding wat deesdae nog moeilik is om te behandel, is rekmerke, meen Elmarie. Dit kan net sjirurgies verwyder word. “Jy kan die vel met infrarooi skin tightening (Palomar) behandel en die rekmerke verminder, maar dit nooit wegvat nie.” Miskien dink jy die rekmerke op jou maag, dye of heupe is veroorsaak deur swangerskap, of uitsonderlike gewigsfluktuasies. Jy weet dalk nie dat hormonale veranderinge gedurende gewone groeiversnellings ook jou vel kan laat rek nie, meen Lawrence Moy, ’n mediese dokter op die webtuiste www.webmd.com. Laserterapie of mikrodermabrasie kan die voorkoms van wit merke verminder.
So, moet ek laat nip and tuck?
Ons almal ken die katvrou – daardie vrou wat al soveel operasies gehad het dat sy heeltemal mismaak lyk. En dan is daar Michael Jackson. En ook Playboy-modelle wat hul perfekte borste vir waatlemoene laat verruil. Dikwels word plastiese snykunde aan hierdie mense gekoppel en oorskadu voorbeelde soos dié beelde van vroue wat vir die eerste keer in dekades van vreugde huil omdat mense hulle nie meer byname noem nie, hulle ’n normale lewe kan lei en nie meer soos natuurfratse voel nie. Sommige vroue voel hulle moet bloot met hul probleme saamleef en baie van hierdie vroue kry dit reg. Maar hoe weet jy wanneer dit tyd is om hulp te soek? Wanneer jou figuurfoute jou ’n swak selfbeeld gee en onder meer jou sekslewe beïnvloed. In so ’n geval het dit ’n impak op jou selfwaarde en die mense rondom jou en kan dit nadelig vir jou huwelik wees. Jy sal dit miskien nooit oorweeg nie, maar dink jy nog jy kan mense wat vir plastiese sjirurgie gaan, veroordeel? Is dit werklik net ’n ydel, opervlakkige bedryf wat kunsmatigheid promoveer?
Dit is net jammer dat soveel vroue nie die vrymoedigheid het om ’n kundige oor hierdie dinge te sien nie, omdat hulle hulself soveel hartseer kan spaar. As jy egter baie selfbewus voel en nie enige salon vertrou nie, is dit wys om na ’n instituut te gaan waar ’n dokter betrokke is. Dit is selfs nog beter om eerder eers by die dokter ’n afspraak te maak, wat jou dan sal behandel of na ’n terapeut sal verwys. Is terapeute regtig alles gewoond? Elmarie meen dat ervare terapeute wel alles gewoond is. As daar egter een ding is wat maar op sy baadjie getakseer kan word, is dit dikwels ’n skoonheidsalon. Die voorkoms en netheid van ’n salon, sal baie verklap oor die salon se algemene higiëne, standaard van toerusting en ervaring van die terapeute wat daar werk.
So, maak nou jou afspraak by die skoonheidsalon/haarsalon/ dokter/dermatoloog/sjirurg en hou op om ’n geheim met jou saam te dra. Die lewe is te kort daarvoor!
Addisionele bronne: www.webmd.com, www.centurionclinic.co.za, www.dermacare.co.za