’n Kaas-en-wyn is soms gerieflik. ’n Mens kan pik aan versnaperinge terwyl jy kuier en gesels. Ons het besluit op dié tema om ’n baie vervelige aand op te zoesh!
Hoe wonderlik sou dit nie wees as die huwelik net gegaan het oor maanligaande, ’n gekoer in die ore en satynlakens op perfekte velle nie – die stuff waarvan romantiese komedies gemaak word! In realiteit is ’n huwelik veel meer alledaags en soms vaal, met finansiële beplanning en allerlei administratiewe take wat gedoen móét word. Met hierdie kaas-en-wyn vir twee kan jy ’n bietjie meer kleur gee aan ’n andersins vervelige date. En natuurlik is daar die “pleasure” nadat die “business” afgehandel is . . .
TER VOORBEREIDING
Julle het ’n groterige tafel met ’n tafeldoek nodig. Aangesien julle waarskynlik besig gaan wees met syfers, hou die res redelik interessant met opdienbakke in verskillende kleure. Bestee geld op baie mooi (of oulike) servette. Julle gaan hiervan nodig kry. Die idee is nie dat julle aansit vir ete nie, maar dat julle tussendeur die werk peusel.
MUSIEK-VOORSTELLE
Julle gaan waarskynlik moet konsentreer, en almal kry dit nie reg met musiek in die agtergrond nie. As dit egter nie ’n probleem is nie, hou die musiek rustig en die volume redelik laag. Die romantiese nommertjies behoort die atmosfeer vir later te skep. En as julle waarlik ’n breuk nodig het, staan op en dans.
- You are so beautiful deur Joe Crocker.
- Fall for you deur Secondhand Serenade.
- Unchained melody deur The Righteous Brothers.
- I don’t wanna miss a thing deur Aerosmith.
VOG-VOORSTELLE
Sjef Antoinette sê: My aanbeveling is Pinot Noir of ’n Chardonnay.
SPYSKAART:
HOOFGEREG
Caprese-slaai op ’n stokkie
Brie-crostini met sultanas
Soet en sappige hoender- en spekhappies
Avokadopeer-chips
RESEPTE
Caprese-slaai op ’n stokkie
Sout en varsgemaalde swartpeper
15 vars mozzarella-brocconcini
15 kersietamaties
15ml olyfolie
15 groot vars basilikum-blare
Hout-tandestokkies
Metode:
- Sny die tamaties in die helfte deur net voor opdiening en ryg ’n halwe tamatiestukkie, dan ’n stukkie mozzarella-kaas en dan weer tamatie. Eindig met basilikum-blare.
- Besprinkel met olyfolie, sout en peper. Bedien onmiddellik.
Brie-crostini met sultanas
1 Franse brood, in dun diagonale skywe gesny
1 briekaas-driehoek, in dun skywe gesny
125ml sultanas
80ml geroosterde dennepitte
80ml vars basilikum-blare, in dun repies gesny
Fyn gerasperde skil van een suurlemoen
Sout en varsgemaalde swartpeper
Metode:
- Voorverhit die oond tot 200°C.
- Plaas die Franse brood se snye op ’n bakplaat en plaas ’n skyfie briekaas bo-op elkeen.
- Rooster die brood vir 3-5 minute of tot die kaas gesmelt is en die broodjies effens goudbruin verkleur.
- Terwyl die broodjies in die oond is, meng die sultanas, dennepitte, basilikum en gerasperde suurlemoenskil in ’n klein mengbakkie.
- Sodra die geroosterde kaasbroodjies uit die oond uitkom, besprinkel met die sultana-mengsel en geur met sout en varsgemaalde swartpeper. Bedien warm as jy kan.
Soet en sappige hoender- en spekhappies
300g ontbeende hoenderborsies, in blokkies van 2cm gesny
Sout en varsgemaalde swartpeper
’n Paar druppels Smoked Flavours – Liquid Smoke of European Beach
250g repies spek
125ml bruinsuiker
1,25ml rissiepoeier (of meer as jy dit warm verkies)
1,25ml fyn komyn
Tandestokkies
Metode:
- Voorverhit die oond tot 180°C. Plaas die gesnyde hoenderblokkies in ’n mengbak en geur liggies met sout, peper en ’n paar druppels Liquid Smoke.
- Meng die bruinsuiker, rissiepoeier en komyn saam in ’n mediumgrootte mengbak.
- Plaas die spek op ’n kapplankie en maak dit effens dunner met die agterkant van ’n mes se lem deur ’n smeer-aksie te gebruik. Sny die spek in die helfte deur.
- Rol die spek om die hoenderblokkies en steek vas met ’n tandestokkie.
- Rol die spek- en hoenderstokkies deur die bruinsuiker-mengsel en plaas op ’n bakplaat oor jou oondrak.
- Bak tot goudbruin vir ongeveer 30 minute en bedien onmiddellik.
Avokadopeer-chips
2 ryp avokadopere, gehalveer, geskil en in skywe gesny
Sout en varsgemaalde swartpeper
80ml koekmeelblom
2 eiers, liggies geklop
250ml Nachos-skyfies, fyngedruk
Metode:
- Voorverhit die oond tot 220°C. Voer jou oondpan uit met bakpapier.
- Besprinkel die avokadopeer-skywe met sout en varsgemaalde swartpeper.
- Plaas die koekmeelblom, geklopte eiers en fyn Nachos-krummels elk op sy eie plat bord.
- Doop die avokadopeer-skywe in die meel, dan die eier en heel laaste die Nachos-krummels.
- Pak die avokadopeer-skywe op ’n bakplaat en bespuit liggies met olyfolie. Plaas in die oond vir 10 tot 12 minute en draai minstens een keer om terwyl dit bak.
- Bedien warm saam met suurroom, gemeng met Smoked Flavours Smoked Extra Virgin rissie-olyfolie.
NAGEREG
Terwyl julle besig is met die pen en papier, wat van ’n toets? Elkeen van julle moet vooraf op sy eie vir vyf items gaan soek. Dit kan huishoudelike items wees of jy kan dit in die winkel gaan koop. Elkeen van hierdie items moet ’n baie sterk geur hê. Dink aan ’n sitrusvrug, laventelblom, warm sjokolade, tuisgebakte brood, ’n kers wat brand, Dettol . . .
Vir nagereg gaan julle ’n sensoriese toets doen. Begin deur al jul klere uit te trek. Blinddoek manlief met ’n serp en trek ’n pen en papier nader. Jy gaan nou elk van daardie geurige items iewers op jou lyf neersit. Manlief moet twee dinge doen: Deur net sy vingers en sy neus te gebruik, moet hy vasstel op watter liggaamsdeel jy die item neergesit het en tweedens wat die item is. Jy tel die punte bymekaar en daarna maak julle beurte.
Die wenner (die een met die meeste punte) kan besluit hoe die res van die aand gaan verloop deur die verloorder allerlei instruksies te gee wat hy/sy moet volg.
Hier is ’n bietjie inspirasie:
- Staan styf teen my rug en gee my ’n kopmassering.
- Trek hoë hakke aan en buk om al die items wat op die grond lê op te tel.
- Tap vir ons ’n bad en wag daar vir my.
- Vertel my jou stoutste geheim.
- Trek jou mooiste onderklere vir my aan en trek dit weer sensueel uit.
- Soen my in my nek.
- Skryf jou naam met jou tong op my rug.