Uit Sy Perspektief – deur Retief Burger
Dit doen my goed om ten minste een keer per jaar behoorlik vakansie te hou, my kop skoon te kry en my lyf behoorlik te laat rus. Dit is soos ’n detoks wat ek vir drie volle weke deurgaan. Gedurende week een neem ek gereeld middagslapies! Gedurende week twee begin my siel rus soos die yskoue Kaapse soutwater my verfris en teen week drie kry ek nuwe “oemf” vir die jaar wat kom. Ons huwelike het ook gereeld sulke detoks-oomblikke nodig.
In elke verhouding is daar onnodige bagasie wat saamgesleep word, en dit verg mannemoed om hieroor te gesels en dit uit te sorteer. Ek stel voor ons detoks ons huwelike gereeld van die volgende bagasie:
Harde woorde
Hierdie kom van daardie kortaf, ongeskikte antwoorde. Ons mans kan só maklik ons vrouens met ons woorde afbreek. Ons almal ken daardie krapperige dae wanneer die stilte boekdele spreek. ’n Detoks is dan nodig!
Onvergewensgesindheid
Die grootste gif vir enige huwelik is seer wat nie vergewe word nie. Neem tyd om jammer te sê waar jy moet en vergifnis uit te deel waar nodig.
Vanselfsprekendheid
Soms raak ons so gewoond aan ons lewensmaats se teenwoordigheid dat ons mekaar nie meer eer en respekteer nie. Kies weer om mekaar op die hande te dra.
Aandag-afleiers
In ons “skerm”-samelewing waar selfone, televisies en rekenaars ons dae opslurp, moet ons doelbewus kies om aan ons maats gehaltetyd te gee. Los ’n bietjie die foon in die kar met julle volgende date night – dit sal wondere verrig.
Mag ons doelbewus tyd maak om ons huwelike gereeld te detoks. Alhoewel ek dalk een keer per jaar ’n lang vakansie neem, kan ek nie bekostig om my huwelik eers dan sy skoonmaaktyd te gee nie. Die Woord sê in Efesiërs 4:26 dat ons nie die son onder moet laat gaan met harte wat kwaad is vir mekaar nie.
Mag ons ons huwelike beskerm deur dit gereeld te detoks en ontslae te raak van alles wat ons daarvan kan weerhou om in die volheid van gelukkige huwelike te leef! En oor daardie seevakansie – ek moet ook maar oppas om nie só lekker te rus en te eet dat ek ’n régte detoks nodig het na die tyd nie!
Uit Haar Perspektief – deur Isabel Burger
Wat is die eerste ding waaraan jy dink as iemand sê “detoks”? Aangesien die Burgers tans ’n geen-suiker-uitdaging in ons huishouding het, dink ek dadelik aan ’n sjokolade! In dieselfde asem dink ek egter aan hoeveel gesonder en varser ek elke oggend voel as gevolg van ons gesonder eetpatroon en leefstyl!
Die tweede ding waaraan ek dink, is ons studeerkamer! Jy sien, die Burgers het ’n netelige studeerkamer-situasie. Dit voel vir my asof ons heeltyd die studeerkamer regpak, uitsorteer en ekstra papiere weggooi, maar as ek my weer kom kry, staan daar stapels boeke en papiere op ons lessenaars. Ek wens soms ek kan net een of ander “detoks”-knoppie druk, en dan verdwyn al die oortollige en onnodige papierwerk wat opgehoop het!
Ek is seker hierdie probleem is nie uniek aan die Burger-huishouding nie. Inteendeel, daar is iets in ons almal wat hunker na eenvoud, gesondheid en minder opgaar.
As ons ons huwelike vergelyk met die Burgers se studeerkamer, is daar definitief ook ekstra papiere wat weggegooi kan word. Om net ’n paar voorbeelde te noem: Facebook, Instagram, Netflix en Box Office.
Ons het al só gewoond daaraan geraak om dooie tyd saam met ons huweliksmaats te spandeer, want al ons gefokusde gehaltetyd het ons deur die loop van die dag by die werk, kinders of waar ook al spandeer. Alhoewel daar definitief plek is vir saam tuis ontspan met springmielies en ’n lekker fliek, moet dit nie die oorwegende manier wees waarop ons en ons huweliksmaats tyd saam deurbring nie.
Op ’n dieper vlak kry ek baie met vroue te doen wat vorige seerkry en wantroue met hulle saamdra. Hulle verwag, op grond van vorige ervaring, dat hulle mans op sekere maniere gaan optree. Indien hulle dan net iets effens negatief in hulle mans se optrede optel, word die seerkry-roof van voor af oopgekrap.
Soos wat die Burgers ’n geen-suiker-uitdaging het, wil ek almal vandag oproep tot ’n detoks-jou-huwelik-uitdaging. Kom ons kies op ’n praktiese vlak om die televisie en slimfone af te skakel, en eerder daardie ekstra tyd in mekaar en in ons huwelike te belê!
Kies ook op ’n dieper vlak om weer daadwerklik saam met jou man tyd te spandeer, daardie dinge wat seergemaak het in die oë te kyk en dit saam uit te sorteer, iemand te gaan sien vir hulp, te vergewe en te laat gaan. Om geen negatiewe emosies en gedagtes teenoor mekaar op te gaar nie, maar dit spreekwoordelik in die papier-shredder te druk.
Die beste huwelik-detoks is om ons oë en gedagtes op die Goeie te hou en op die hoop wat daar elke dag vir ons huwelike is!