Het jy al ooit aan wonderwerke en jou huwelik in een sin gedink? Jy kan vandag nog begin vra, bid en werk aan wonderwerke vir jou huwelik. Verander die ondenkbare in ’n werklikheid vir jou en jou maat!
Lees elke dag die teksgedeelte hardop saam en kyk met verwagting hoe die Skrif elke dag nuwe insigte in jul verstaan bring. Lees dit uit verskillende vertalings en gebruik die gebedswenke om saam daaroor te bid. Maak aantekeninge en merk belangrike gedeeltes soos wat julle aangaan.
Dag 5: Opofferende liefde
Delf dieper: 1 Johannes 4:7-21.
Ds Karel Steyn sê: Hier word liefde vir ons verduidelik: Ons kan net liefde ken en gee omdat God ons leer wat liefde is. Hierdie liefde is die liefde wat ons in die eerste plek teenoor ons huweliksmaats moet bewys. ’n Deel van hierdie liefde is vergifnis (kyk na verse 10 en 17). Om mekaar te kan vergewe, kom nie vanself nie, want om te vergewe beteken dat jy erken dat jy nie die reg het om iets teen iemand te hou nie en dat jy God vertrou om reg te spreek.
Bid vir: God se opofferende liefde as die volmaakte voorbeeld van hoe julle mekaar ook lief moet hê. Bid dat julle daagliks in verwondering sal staan oor jul oneindige liefde vir mekaar.