Jy sien hoe die huwelik van een van jou hartsmense na asem snak. Moet jy ingryp of nie? Sommige mense glo jy moet jou neus uit ander se sake hou. Ander meen jy kan nie anderpad kyk wanneer jou naastes in nood verkeer nie…
“My broer (Jaco) en sy vrou (Elsabé) se huwelik het stelselmatig agteruitgegaan,” vertel Carli. “Ek onthou hoe ons een keer by hulle aan huis gegaan en daar ‘n stywe atmosfeer in die lug was. Hulle het langs mekaar gesit, maar nie, soos gewoonlik, hande vas gehou nie. Hulle het ook glad nie oogkontak gemaak nie. Toe ons daardie aand huis toe ry, het ek vir Peet (my man) gesê ek dink daar heers oorlog.”
Toe Jaco en Elsabé ‘n week later by Carli-hulle kom kuier, was dit dieselfde storie. Daar was duidelik nie ‘n geskil nie, maar ‘n probleem veel groter… Carli vertel dat sy en haar skoonsussie ‘n baie hegte verhouding het. Hulle was eers vriendinne vóór hulle skoonsussies geword het en Jaco het Elsabé deur haar ontmoet.
Carli en Peet (wat al meer as ‘n dekade getroud was en self deur diep waters in hul huwelik was) het dadelik die gevaartekens sien flikker. “Ek ken vir Elsabé lank en het geweet dat hier groot fout is. Maar sy hou ook graag die blink kant bo en is baie privaat. Vir my was dit ‘n moeilike situasie. Toe dinge na drie maande nog nie enigsins verbeter het nie, het ek vir Peet gesê ek voel dit is my plig om in te gryp, maar dat ek só wens sy kom eerste met mý praat. Ek het nie geweet of dit my plek is om haar daaroor te konfronteer nie.”
Om in te tree of nié
Baie van ons is in dieselfde bootjie. Is dit jou plek om jou hulp, raad of leiding aan te bied as jy sien mense na aan jou worstel in hul huwelik? *Navorsing toon dat 73% van volwassenes as vertrouelinge teenoor ‘n vriend of familielid wat deur huweliksprobleme of verhouding–probleme worstel, optree. En dat 72% van geskeide volwassenes sê hulle het, vóór hul egskeiding, iemand (buiten ‘n professionele persoon) in hul vertroue geneem.
Wanneer jy ‘n vriendin se worstelende huwelik identifiseer het, is die kans daar dat sy hul probleem sal wegsteek. Ons is immers gekondisioneer om te voel dat die huwelik privaat is en ons self ons sake intern moet uitsorteer. Boonop meen baie kenners dat jy nie ‘n derde party by jou huwelik betrokke moet maak nie en dít wat jy wil sê, eerder vir jou maat moet sê.
Die kans is egter daar dat sy wel uit haar eie met jou sal begin praat. Dit kan selfs gebeur dat sy so ‘n gesprek aanroer, terwyl jy geensins vermoed het daar is probleme nie! Wat staan jou te doen?
Gesinsterapeut, Dr Bill Doherty (direkteur van die Minnesota Couples on the Brink Project), meen dat ons nie gemaak is om die huwelik alleen te hanteer nie en dat ons die ondersteuning van familie en vriende nodig het – nie net wanneer ‘n huwelik eindig nie, maar ook om te kéér dat ‘n huwelik eindig.
Op SmartMarriages.com skryf hy: “Ons loods huwelike met openbare fanfare en leef dan in eensame huwelike. Dus weet ons min oor die interieur van iemand anders se huwelik. Ons is geneig om alleen te worstel in ons nood… ons het nie gemeenskappe om ‘n laer te trek om ons wanneer ons huwelike seerkry nie.” Hy meen dit is moeilik vir ‘n huwelik om te oorleef sonder die ondersteuning van ‘n gemeenskap.
Maar gemeenskappe en individue kan ook groot skade aanrig, en bied jy as ‘n vertroueling nie die regte raad of bystand nie, kan jy ‘n slegte situasie bloot vererger…
Daar is waarheid in die feit dat egskeiding soms ‘aansteeklik’ kan wees. “Ons leer wat normaal is en waaraan gewerk moet word by vriende, deur hulle huwelike dop te hou en met hulle te gesels (oor die huwelik). En as hulle skei, is ons meer geneig om dit self ook te doen.”
Om ‘n vertroueling te wees
Wanneer jou vriendin haar huweliksprobleme teenoor jou bely, voel jy gevlei. Sy vertrou jou en ag jou raad waardig. Maar dit is nie so eenvoudig nie. In ‘n Wall Street Journal artikel deur Elizabeth Bernstein wat op 9 Februarie 2015 gepubliseer is, word geskryf oor ‘n program wat by die Universiteit van Minnesota aangebied word. Dié program poog om individue op te lei in die “kuns van reaksie” (The Art of Response).
Só het Dr Doherty in samewerking met sy dogter (ook ‘n terapeut), die heel eerste Marital First Responders boot camp gestig. Deur hierdie inisiatief leer Dr Doherty paartjies om as ‘n vertroueling reg op te tree: Hoe om reg te luister, emosionele ondersteuning te bied, ‘n vriendin te help om haar rol in die probleem te verstaan en ook die saak vanuit haar maat se perspektief te sien. Hiermee streef hy daarna om sogenaamde “burgers van die huwelik” oftewel citizens of marriage te skep om op te tree as die eerste linie teen huwelksverbrokkeling.
Jy dink dalk dit is maklik om as vertroueling op te tree. Jy bied net ‘n skouer om op te huil en jy troos as jou vriendin jou nodig het. Die rede waarom sy jou in haar vertroue neem, is tweeledig: Sy voel na aan jou en vertrou jou genoeg om broos voor jou te wees. En sy weet jy gaan haar kant kies of haar opinie ondersteun omdat jy haar vriendin is. En ja, jy gaan jou raad wil bied deur te se: “Moet dit nié so aanvaar nie!” Dit is in jou aard om jou vriendin se kant te wil kies en haar maat te kritiseer (jy haat dit immers as hy haar seermaak!). En jy dink jy doen die regte ding – jy wil hulle (of ten minste vir haar) help. Maar tree verkeerd op en jy kan bydra tot die verbrokkeling van ‘n huwelik wat dit wél kon maak…
Wat jy nié moet doen nie:
- Moenie aanneem dat sy jou hulp wil hê nie en moet haar nie druk om haar hart teenoor jou oop te maak nie. Sy sal dit doen wanneer die tyd reg is. Jy kan wel iets vir haar sê, soos: “Jy lyk nie vir my lekker nie. Onthou, as jy wil gesels, is ek hier om te luister. As jy nie wil gesels nie, is ek ook hier vir jou.”
- Amy, gesinslewe-opvoeder agter die blog FreshlyMarried, meen dat jy eerstens moet onthou om nie ‘n besluit namens jou vriendin te neem nie. Dit is nie jou plek om haar aan te raai om haar huwelik te verlaat nie. Jy ken boonop ook nie al die besonderhde nie – net haar kant. Selfs al klink die situasie vir jou hopeloos, dien ons ‘n God van wonderwerke wat ook in jou vriendin se lewe ‘n wonderwerk kan laat gebeur.
- Jou rol in hierdie situasie is om vir haar ‘n steunpilaar te wees. Laat haar toe om af te pak, al kos dit jou ‘n laat nag, twee bottels wyn en drie pakke tissues. Wees die beste luisteraar wat jy moontlik kán wees.
- Moenie vertellings uit jou eie huwelik deel nie. Jy weet presies waardeur sy gaan, want jy was self daar. Maar al voel dit of jy haar sal troos met die wete dat sy nie alleen is nie, hou jou in. Deur jou eie probleme in die fynste besonderhede te deel, sal haar laat voel asof jy haar probleem verkleineer en dit kan soos ‘n kompetisie begin klink. Fokus op haar en haar emosies.
- Amy sê: Dit is nie jou werk om jou vriendin se huwelik te red nie. So moeilik soos dit kan wees om hulle te sien stoei, moet jy nie hierdie spanning en las op jou neem nie, want dit het die potensiaal om in jou huwelik oor te lek. As jy té na aan die situasie raak, kan dit jou verhouding met jou maat, met jou vriendin en met haar maat beskadig. Gee jou liefde en jou ondersteuning, en verwys haar dan na iemand wat opgelei is om haar te help.
- Moenie aanneem jou vriendin is sonder foute nie. Onthou, elke storie het twee kante en jy hoor net jou maat se kant.
- Moenie veralgemenings oor karaktertrekke maak nie. Jy is lus om te sê: “Hy is ‘n selfsugtige buffel!” Moenie. As jy kommentaar lewer, lewer kommentaar oor sy gedrag en nie sy karakter nie. Plaas die fokus op jou vriendin se gevoelens en sê byvoorbeeld: “Sy voortdurende kritiek klink of dit jou seermaak. Om soveel kritiek van ‘n lewensmaat te ontvang, sal enigiemand laat sleg voel.”
- Moenie oplossings bied nie. Behalwe as dit ‘n noodsituasie is, soos dat jou vriendin se lewe in gevaar gestel word deur gesinsgeweld, in welke geval jy haar moet oortuig dat dit nie ‘n aanvaarbare situasie is nie. Doen wat jy kan om haar by die regte mense te kry wat haar hiermee kan help.
Wat jy wel kán doen…
- Bid vir jou vriendin en haar maat. Vra God om in te gryp in hul huwelik en vra ook vir wysheid sodat jy weet wat om te sê en te doen. Bid in jou vriendin se teenwoordigheid (as dit iets is waarmee sy gemaklik voel) en ook wanneer jy alleen is.
- Jy moenie jou persoonlike storie deel nie, maar jy mag wel sê: “Ek weet hoe dit voel om so seer te kry. Jy is nie alleen nie.” En as jy nie weet wat om te se nie, sê net: Ek is so jammer jy moet hierdeur gaan.” (Jy kan wel meer deel as sy jou daarna vra en jy kan agterkom dit kan haar hoop gee).
- Bly neutraal. Die kans is goed dat jou vriendin reeds besluit het om te skei / nie te skei nie en nou net smag na aanmoediging of toestemming om watter roete ook al te stap. Jou werk is nie om haar in een van die twee rigtings te stuur nie maar om haar te lei tot by die instansie/persoon wat haar die regte leiding kan gee.
- Vra die regte vrae. Soms het ‘n vriendin iemand nodig om haar te help om dinge vanuit die regte perspektief te sien. Jy hoef nie enige oordeel te fel of raad uit te deel nie, maar deur die regte vrae te vra kan jy haar help om self meer duidelikheid oor haar situasie te kry. Vra oop vrae soos: “Wat was jou reaksie toe hy dit gesê het?” Moenie bloot vrae vra soos: “Was jy kwaad?” nie. Herhaal haar antwoorde terug aan haar. “Ek hoor dat jy gefrustreerd gevoel het toe hy nie by sy woord gehou het nie.”
- Plaas hulle in kontak met ‘n mentors-paartjie. Hoekom kan jy en jou maat nie self hierdie mentors-paartjie wees nie? Want julle is te nóú betrokke en allermins objektief. Ken jy ‘n ouer paartjie in jul kerk wat reeds ervaring as mentors het? Bring hulle in kontak met so ‘n paartjie wat saam met hulle die pad kan stap.
- Tree as middelman op. As jy nie ‘n opgeleide professionele persoon en objektiewe buitestaander is nie, gaan jy waarskynlik nie die regte raad kan gee nie. Wat jy wel kan doen is om vir haar bronne aan te beveel. Weereens: Pasop om nie daardie boek aan te gee, wat jy weet haar gaan oorreed om die huweliksbesluit te neem wat jý wil hê sy moet neem nie. Maar verwys haar na kenners wat haar emosioneel en geestelik kan bystaan.
- Kyk of haar probleme die volgende drie kwessies insluit: Alkohol of ander verslawings, affairs, en uitsonderlike woede (fisiek of emosioneel). Dit is drie kwessies wat dikwels tot egskeiding lei en beslis professionele hulp verg.
- Moedig haar aan om aktief te wees. Geen huweliksprobleme verdwyn vanself nie. Dit word óf deurgewerk, óf dit word onderdruk (net om later weer te voorskyn te kom). Moedig jou vriendin aan om saam met haar maat deur die probleem te werk.
Onthou te alle tye dat jy nie die oorsaak van jou vriendin se egskeiding mag wees nie. Jou heel eerste intensie moet altyd wees om geen skade aan te rig nie. In baie gevalle is dit moeilik, want ‘n mens regverdig graag jou optrede (soos deur te sê: “Ek wil help om haar oë oop te maak, want hierdie huwelik is nie gesónd nie en gaan haar op die lange duur vernietig”).
Elke huwelik is uniek en het komplekshede waarvan jy nooit bewus sal wees nie (selfs nie eens na jou vriendin ‘n hele week lank met jou gepraat het hieroor, kan jy die effek van byvoorbeeld kindertyd–wonde op haar man se gedrag begryp nie).
Elke paartjie moet self hul pad stap. Jy kan egter daar wees deur ‘n oor vir jou maat te wees. Help haar wanneer jy sien sy sukkel om kop bo water te hou, deur aan te bied om die kinders by die skool te gaan haal, of die baba op te pas sodat hulle die saak kan uitpraat. Deur net ‘n goeie vriendin te wees, kan jy haar huwelik help red – sonder dat jy ‘n woord hoef te sê…
Addisionele bronne: www.focusonthefamily.com; www.freshlymarried.com; www.verilymag.com; www.smarmarriages.com; www.completewellbeing.com
- Die studie is uitgevoer deur YouGov.com, ‘n akademies gerespekteerde maatskappy wat internet-navorsing doen. Die paneel het 1000 VSA volwassenes met die ouderdom 25-70 ingesluit. Vir meer inligting, besoek www.maritalfirstresponders.com/research/