Stilte kan jou huwelik vernietig. Jy en jou maat hoef nie te babbel nie, maar daar is verskeie redes hoekom julle nooit moet toelaat dat die stiltes tussen julle al hoe groter word nie …

Promosie

Jy het hulle al gesien – die getroude paartjie in die koffiewinkel wat woordeloos verby mekaar staar. Sy bestudeer die spyskaart aandagtig, hy tik-tik met ’n pen op die tafel en gaan haal later die koerant. Jy skat hulle so in hul sestigs. Jy vermoed dat hulle amper veertig jaar getroud is en dat daar al baie tussen hulle gebeur het. Hulle het al saam klippe gekou, kinders gekry, miskien al geliefdes aan die dood afgestaan, huis gekoop, werk verloor, finansieel geworstel en finansieel floreer … maar tog lyk dit of hulle niks gemeen het nie en mekaar nie ken nie.

Dan is daar die ander paartjies (en miskien is julle een van hulle) … Manlief gaan gal af omdat jy vergeet het om die elektrisiteitsrekening te betaal. Jy draai om, stap die vertrek uit en besluit om hom vir drie dae met stilstuipe te straf. Dit raak al hoe moeiliker om te praat en al hoe makliker om konflik te vermy.

Werp jou taktiek vrugte af? Allermins. Hoekom is dit dus belangrik om te keer dat jou huwelik die punt bereik waar praat nie meer ’n prioriteit is nie?

Promosie

Waarom die bohaai oor praat?

Tydens elke huwelikverryking-seminaar beklemtoon kenners die noodsaaklikheid van kommunikasie. Dikwels word dit in dieselfde asem as konflik-hantering, probleme in die slaapkamer, of die vermyding van misverstande genoem. Kan stilte dodelik wees? Inderdaad! Pynlik ongemaklik en letterlik dodelik!

Getroude vroue wat gedurende huwelik-twis swyg, het ’n groter kans om aan hartsiektes en ander toestande te sterf as diegene wat sê wat hulle op die hart het. (Daarteenoor het getroude mans wat verskille vir hulself hou, dieselfde lewensverwagting as diegene wat praat.)

Dié navorsing, wat vanaf die middel 80’s tot die middel 90’s gedoen is, het getoon dat konflik-hantering wel ’n uitwerking op ’n mens se gesondheid het. Michael Rohrbaugh, mededirekteur van die Universiteit van Arizona se Familie Navorsings Laboratorium doen ’n studie op hartpasiënte, en hy sê dat die besitlike voornaamwoorde wat paartjies in gesprekke gebruik (‘my’ teenoor ‘ons’) die pad van ’n huweliksmaat se hartsiekte vir die daaropvolgende ses maande kan voorspel.

“Daar is iets aan ‘ons’-taal – die kollektiewe of gemeenskaplike idee dat ‘ons’ saam in die ding is, en dit is belangrik.” Die verband tussen ‘ons’-taal en gesondheid is sterker by vroue as by mans (www.thestandard.com).

Geselsies of diep dinge?

Soms is práát, net ter wille van práát broodnodig in ’n huwelik. Dit behels nie die diep onderwerpe wat manne gewoonlik die hasepad wil laat kies nie, maar doodeenvoudige dinge wat deur stellings soos die volgende begin word: “Kyk hoe mooi is daardie mense se huis geverf,” “Het jy gehoor hoeveel Oscars het daardie fliek gekry?” of “Ons moet eendag ’n bietjie Thai-kos probeer kook …” Niksseggende, loslitgeselsies wat nie noodwendig ’n dieper betekenis het nie, kan wondere doen om die kanale tussen jou en jou maat oop te hou.

Daar is egter ook ernstiger temas waaroor paartjies verkies om nié te gesels nie, bloot omdat dit ongemaklike onderwerpe is, of omdat hul weet dat dit konflik in hul huwelik veroorsaak en hul net nie daarvoor kans sien nie.

Daar is veral drie onderwerpe wat julle egter moet bespreek. Byt op jou tong en druk deur, want as jy nooit oor die volgende temas praat nie, gaan dit kort voor lank konflik in jou huwelik veroorsaak, meen Chesley Maldonado (www.buzzle.com):

• Seks
“Dit is só belangrik om openlik oor seks te praat. Seks is ’n ongelooflik intieme ding, en binne die huwelik is dit heilig en spesiaal. Wees eerlik oor jou voor- en afkeure, die hoeveelheid, duur, metodes en dies meer. Besprekings soos hierdie kan ’n huwelik red en die versoeking vir ontrouheid uit die weg ruim.”

Die gesprek behoort ook oor dit te gaan wat vóór en ná seks gebeur en nie net oor bedpret nie. Oop kommunikasie op hierdie gebied kan slaapkamer-aksie aanwakker en ’n sterker band tussen julle skep.

• Geld
Dit is baie belangrik om openlik oor geld te praat. Bespreek jul siening oor finansies, jul individuele, sowel as jul gesamentlike besteding style en ontdek maniere waarop julle jul geldsake optimaal kan bestuur.

“Getroude pare behoort gesamentlike rekeninge te hê, en daar behoort genoeg vertroue en sekuriteit in die verhouding te wees om dit toe te laat,” meen Chesley. “Finansiële sekuriteit is sterker as alle bronne saamgevoeg word. Getroude paartjies behoort bewus te wees van mekaar se inkomste. Om geld te deel, skep ook ’n gesonde vertrouensband en tegemoetkoming in ’n huwelik.”

Daar is egter baie mense wat hiervan verskil. Of julle egter gesamentlike of afsonderlike bankrekeninge het, sorg dat daar deursigtigheid is en dat julle gereeld jul geldsake bespreek.

• Kinders
Die mate waartoe julle dissipline toepas, behoort ooreen te stem, en julle moet gesels oor hoe julle jul kinders wil grootmaak. Gesels eers met mekaar voordat julle vir die kinders toestemming vir iets gee, en moet nooit toelaat dat kinders dinge agter jou maat se rug doen nie.

“Ouers moet ’n span wees, en as hulle verskil, moet hulle dinge privaat uitpraat – nie voor die kinders nie. As ouers oor sekere kwessies verdeeld is, sal kinders die situasie probeer manipuleer. Dit kan verdeling in die gesin veroorsaak. Albei moet bereid wees om opofferings te maak.”

Hierdie dinge behoort vóór die troue reeds bespreek te word, meen Chesley, maar ook in die jare daarna. Die gesprekke bly relevant en moet gereeld geskied. Seks, geld en die kinders is daardie dinge waaroor die meeste in ’n huwelik geargumenteer word. ”

Gesonde, eerlike kommunikasie op hierdie gebiede kan ’n troebel huwelik red en ’n goeie huwelik selfs verder versterk. Die weerloosheid wat vereis word, mag dalk nie vir jou of vir jou maat maklik kom nie, en die eerste gesprek kan dalk sleg verloop. Die belangrikste ding is dat jy aanhou kommunikeer en opoffer, sodat julle die huishouding glad kan laat verloop en julle liefde vir mekaar onverstoord kan voortduur.”

Verloor julle dalk kosbare tyd?

’n Nuwe studie in die VK toon dat ’n gemiddelde paartjie twee argumente per week het, wat elke keer gemiddeld twee ure en 14 minute se stilstuipe tot gevolg het. Dit beteken dat paartjies bykans tien dae per jaar nié met mekaar praat nie.

Die belangrikste redes vir die koue oorlog is dat mense die verkeerde dinge sê en mekaar as vanselfsprekend aanvaar, het die studie bewys. Een manier om sulke situasies te vermy is deur te kommunikeer, meen Christine Northam, ’n berader. “Kommunikasie is die sleutel. Baie paartjies waarmee ek saamwerk, het nie tyd om te kommunikeer nie, of is bloot so moeg dat hulle net voor die televisie lê, sonder om met mekaar te praat” (www.thaindian.com).

Dit is moeilik om kommunikasie deursigtig te hou. Daar moet aandag gegee word aan werk, inkopies, die kinders, die troeteldiere … en as julle eindelik alleen is, is daar nie energie om enigiets te sê, óf uit te praat nie. Dit kan ’n uitdaging vir julle albei wees om met mekaar te praat, maar die geheim is om tyd te máák.

• Maak elke week ’n afspraak om vir ’n uur lank alleen te wees (sonder enige steurnisse).
• Teken dit in jou dagboek aan en maak dit ’n prioriteit. Dit is nie kanselleerbaar nie en dit moet tyd wees waarin julle ‘vergadering’ hou oor alles wat julle bekommer, of dit nou werk, seks, vriende of geld is.
• As jy aan iets dink wat bespreek behoort te word, maak ’n nota, sodat jy dit nie vergeet nie.
• As daar ’n ernstige kwessie is wat dringend bespreek behoort te word, moet dit nie tot jul weeklikse ‘vergadering’ uitstel nie, maar maak ’n afsonderlike afspraak daarvoor.
• As jy weet dat Manlief iets op die hart het, wees bereid om tyd vir hom in te ruim.
• Sorg dat julle albei toeganklik is. Laat die ander een weet dat jy beskikbaar is wanneer ook hy of sy jou nodig het.
• As jou maat wil praat, wees ’n goeie luisteraar. Moenie huiwer om vrae te vra nie, en maak seker dat jy verstaan wat jou maat sê.
• Hierdie gesprekke behoort nie ’n rusie te ontketen nie. Respekteer jou maat se opinies en kies jou oorloë slim. Moenie oor iets baklei wat op die lange duur nie ’n verskil gaan maak nie.
• As dit moeilik is om te praat, haal diep asem en druk deur. Soms voorspel ’n mens dat jy ’n negatiewe reaksie gaan kry en dan word jy aangenaam verras. (www.marital-communication.suite101.com)

Hoe om konstruktief te gesels

Om te praat, is vir enige paartjie belangrik. Eerlike gesprekke met jou maat oor finansies, die kinders en jou gevoelens kan help om ’n blywende band tussen julle te kweek. Om oor jou dag te praat en wat in jou lewe gebeur, laat jou nader aan jou maat voel.

Hou die kommunikasiekanale oop, met eerlike, reguit gesprekke, sodat jou maat kan verstaan wat jy nodig het, eerder as om van hom te verwag om jou gedagtes te lees.

Dr. Meir Wikler (www.moneyinstructor.com) gee die volgende raad:

• Gee konstruktief uitdrukking aan negatiewe gevoelens

Dit is noodsaaklik om te weet hoe jy jou negatiewe gevoelens teenoor jou maat op ’n effektiewe manier moet uitdruk. As jy onbeheerste woede toon, kan dit ’n nadelige uitwerking hê. As jy sarkasme of verbale beledigings gebruik, sal die kommunikasie ook alles behalwe effektief wees. Negatiewe gevoelens móét geopper word, sodat ’n paartjie by mekaar se behoeftes kan aanpas, aangesien die stilswye oor daardie gevoelens meer kwaad as goed sal doen.

Reël 1: Moenie oorreageer nie.
Reël 2: Moenie die ander persoon se gedagtes probeer lees nie.
Reël 3: Gebruik meer “ek”-stellings as “jy”-stellings.
Reël 4: Moenie veralgemeen nie.

• Luister op ’n nie-verdedigende manier na negatiewe gevoelens

Jy besef natuurlik dat jou man nie die enigste een is wat ’n paar dinge behoort te hoor’ nie. Jy is ewe skuldig en Manlief het waarskynlik net so ’n groot behoefte om hierdie gevoelens met jou te deel.

Daar is dinge wat hom absoluut mal maak! Dit is noodsaaklik dat julle leer om na negatiewe gevoelens te luister, sonder om dadelik te begin verdedig. Albei partye moet bereid wees om na mekaar se klagtes te luister.

• Gee sonder inhibisie uitdrukking aan positiewe gevoelens

Die begrip ‘positiewe gevoelens’ verwys na emosies soos toegeneentheid, warmte, waardering, bewondering en respek. Dit word positief genoem, omdat dit positiewe reaksies in mense ontlok wat dit ervaar, sowel as by diegene op wie hierdie gevoelens gerig is.

Mense in die Westerse samelewing is egter gemakliker met negatiewe gevoelens as met positiewe gevoelens. Op skool het ons meer kritiek as lof ontvang. Dit is vir baie mense makliker om negatiewe emosies as positiewe emosies te verwoord. Vir hierdie mense is dit makliker om vir hul maats te sê waarvan hulle nié hou nie, eerder as waarvan hulle hou.

Vergelyk jou verhouding met ’n bankrekening. As jou deposito’s jou onttrekkings oorheers, bly jou rekening aktief. As jou onttrekkings jou deposito’s oorskry, sal jou tjeks hop en jou rekening toegemaak word. Dit geld ook vir komplimente en klagtes.

• Luister sonder ongemak na positiewe gevoelens

Sommige mense kan doodeenvoudig nie ’n kompliment aanvaar nie. As iemand vir hulle ’n kompliment gee, verander hulle die onderwerp, kyk weg, bloos, of lag ongemaklik. Dit is vir sulke mense makliker om ander te prys. Om egter gereeld komplimente in die huwelik te gee en te ontvang, maak ’n reuse verskil aan hoe julle mekaar ervaar. Probeer dit! (www.aish.com).

Só inisieer jy ’n doeltreffende gesprek!

So, hoe kry jy jou maat se aandag, sodat jy kan doen wat al die kenners sê? Jy het waarskynlik al alles probeer, soos om rasioneel en logies te gesels, te wag tot Manlief in ’n goeie bui is en die televisie afgeskakel is. Jy het al gesmeek, gepleit, gedreig en geskree, maar niks help nie. Wat nou?

Wanneer jy met Manlief praat, verlaag jou stem, in plaas daarvan om opgewonde te raak. As ’n vrou emosioneel raak, styg haar stemtoon, en dit is wanneer mans besluit: Tot hiertoe en nie verder nie, ek sluit af! As hy jou vreemd aankyk, sê net vir hom dat jy gelees het ’n mens se woede bedaar as jy jou stem verlaag. Dalk probeer hy dit ook!

Skryf vir hom ’n brief waarin jy jou gevoelens en vrae deel. Sê vir hom dat jou gevoelens geaffekteer word deur die feit dat julle nie gesels nie. As Manlief op sy tyd jou brief kan lees en herlees, kan hy ‘hoor’ wat jy sê, en op hierdie manier maak jy jou woorde vir hom toegankliker.

Koop ’n oulike kaartjie en skryf ’n nota by wat vra of julle ’n tyd kan skeduleer om te gesels wanneer julle nie onderbreek gaan word nie. Sommige mense vind dit makliker om in ’n restaurant te gesels en ander verkies weer die privaatheid van hul eie huise.

Wanneer jy vir hom hierdie kaartjie gee, sluit sy gunsteling sjokolade stafie of kougom in – ’n klein itempie om te wys dat jy aandag gee aan waarvan hy hou. Op PS-sjokolade is daar dikwels oulike boodskappe op die verpakking wat jou boodskap kan versterk.

Maak ’n lysie vrae en sluit ’n ‘Ja’ en ‘Nee’-kolom langs die vrae in. Maak ook ’n kolom vir ‘Kan nie besluit nie’ en ‘Benodig meer besonderhede’. Wees so spesifiek moontlik. Maak byvoorbeeld ’n lys van moontlike aktiwiteite en plekke wat julle op date night kan besoek. Vra jou maat om te reageer en maak ook ’n afdeling vir ‘Ander voorstelle’, sodat hy sy idees by joune kan voeg. Maak ook lyste met moontlike tye gedurende die week wanneer julle privaat gesprekke kan voer en dinge kan bespreek.

Dit maak nie saak wat julle sê nie, solank dit nie ’n negatiewe impak op jul verhouding het nie. Solank julle praat, bly die band tussen julle sterk, en solank daardie band sterk is, kan enige struikelblok soveel makliker oorkom word. Moet ook nie dink dat alle gesprekke diep hoef te wees nie. Wees soms laf, vertel grappe, terg mekaar en lag saam, maar wat julle ook al doen, moet nooit dat stilte jul huwelik steel nie.