Dit klink miskien na blote persoonlike voorkeur, maar vir ’n minimalis in murg en been is dit blote marteling om te sien hoe haar lewensmaat sy kratte al hoe hoër opstapel!

Promosie

Ná jul troue het julle saam in ’n splinternuwe, dolleë huisie ingetrek. Hy het verbete vasgeklou aan sy versameling bierbekers, en jy het hom laat begaan. Hy kon hulle iewers in die kroegie by die lapa daarbuite uitstal – mits hy jou jou Maria-afdrukke teen die gang se muur gegun het! Só het julle saam nesgeskop en alles was maanskyn en rose. Tot die dag, vyf jaar later, toe jy die gastekamer-kas oopgemaak en sy visgereedskap uitgetuimel het.

By nadere inspeksie het jy aanskou wat hy alles daar gebêre het: Ou plakkers (wat hy nóóit op sy kar sal plak nie), geroeste hoeke, ’n stukkende skêr, ’n visstok wat lyk asof dit uit 1970 dateer, ’n stukkende supermarkmandjie, ’n T-hemp vol gate . . . dit kon beslis nie alles spesiale betekenis inhou nie, maar toe jy hom durf konfronteer, was jou craft-krat in gedrang. Om die verskil te probeer verduidelik tussen ’n geroeste vishoek en washi-tape, was ’n hopelose stryd.

Verskillende grade van opgaardery

Promosie

Is jy met ’n opgaarder getroud? En hoe ver strek sy probleem? Daar is diegene wat bloot lief is vir hul goed en nie daarvan wil afstand doen nie omdat hulle daarvan hou, of omdat dit vir hulle sentimentele waarde inhou. Dan is daar die slordiges onder ons, wat bloot oorweldig word deur die chaos en nie kans sien om dit uit te sorteer nie (hulle sal eerder met die chaos saamleef).

En dan is daar die derde kategorie. Daar word beweer dat ware opgaarders diepgewortelde sielkundige redes het vir hul optrede en heeltemal angsbevange raak wanneer jy daarvan ontslae wil raak. As jy vermoed dat manlief in dié kategorie val, kan jy meer hieroor lees by www.hoardersanonymous.org.

Jy gaan nie ’n ware opgaarder (in kategorie nommer 3) sommer verander nie. Die Psigiatriese Departement aan die Universiteit van Kalifornië beskryf dit as ’n afwyking wat gekenmerk word deur iemand se inspanning om ontslae te raak van items wat min of geen waarde inhou nie. Dikwels is opgaardery ook ’n vorm van obsessiewe kompulsiewe gedrag, en het lyers ’n kompulsiewe drang om goed te wil “red”.

Dit is ’n geestesafwyking wat kan verbeter met kognitiewe terapie en soms selfs medikasie wat die onderliggende probleem kan behandel.

Wanneer opgaardery jou huwelik bedreig

Op happyherbivore.com skryf Lindsay S Nixon van ’n vriendin wat naderhand nie meer haar kaste kon oopmaak sonder dat iets letterlik op haar kop geval het nie. Uit pure desperaatheid het sy haar man met ’n egskeiding gedreig, waarop hy geantwoord het dat hy háár sal dagvaar vir ’n egskeiding as sy dit sou waag om sy klere weg te gooi. Nie een van hulle het dit werklik bedoel nie, maar dié probleem het baie spanning op hul huwelik geplaas.

Sy het gesê: “Ek kan nie meer so lewe nie . . . en dit gaan net erger raak. Ek is lief vir my man en voel sleg om te kla, want andersins weet ek hoe goed ek dit getref het – hy is ’n wonderlike man en pa, maar ek kan nie meer so lewe nie. My man het grootgeword met niks, en dit is waarom ek dink dit hom so seermaak om van enigiets ontslae te raak. Alles is vir hom waardevolle besittings.”

Lindsay het haar vriendin aangeraai om stadigaan van die kratte in die kaste ontslae te raak en dit in ’n bergingsfasiliteit te gaan stoor. Haar man het eers maande later agtergekom die kaste word leeg, maar was wonder bo wonder gerusgestel dat sy besittings net geskuif is en nie heeltemal weg nie.

Toe sy egter heelwat later noem dat hulle baie bestee aan die bergingsfasiliteit, het hy ingestem dat hulle van die goed ontslae raak – hy het immers lank daarsonder klaargekom en besef sy wêreld stort nie ineen nie.

Hoekom gaar mense dinge op?

’n 2009-studie onder 5 000 tweelinge by Kings College in London het getoon dat opgaardery geneties kan wees. En 2013-navorsing het getoon dat opgaarders ’n drang het om dinge bymekaar te maak vir tye van nood of skaarsheid. Dié probleem kom meer algemeen onder mans as vroue voor, aangesien angs soms opgaardery veroorsaak en vroue nie hul angstigheid sommer op dié manier ontlaai nie.

’n Sielkundige en outeur van die boek Key to Calm, Linda Blair, vertel: “Ek het eens op ’n tyd ’n kliënt gehad wat ’n snykundige was – ’n beroep wat presisie verg, en opgaardery het sy uitlaatklep geraak – ’n manier om morsig en onnet te word en só die druk van sy werk te verlig.”

Dit kan ook gebeur as gevolg van ’n identiteitskrisis, meen Linda. “Besittings is ’n verlenging van jou identiteit. As jy nie selfversekerd voel met wie jy is nie, miskien omdat jy nie toegelaat is om jouself as kind uit te druk nie, kan daardie angstigheid manifesteer in die vasklou aan dinge.”

Wat maak jy as jy saam met ’n opgaarder woon?

Só daar is verskillende grade van opgaardery en ook verskillende redes vir dié probleem. Dit is ’n uitdaging vir enigiemand wat nié ’n opgaarder is nie om ’n huis met ’n opgaarder te deel. Vir ’n minimalis is die uitdaging selfs groter! Só hoe gemaak?

1. Verstaan dat dit ’n proses is. Onthou dat daar dieperliggende redes is waarom jou opgaarder . . . wel, opgaar. Jou maat gaan ook nie oornag verander nie en om te dreig, te raas, kwaad te word of ultimatums te stel, gaan net die saak vererger. Motiveer jou maat egter om klein treë te neem en wees dankbaar vir elke bietjie vordering, al is dit hoe gering.
2. Moenie toelaat dat jul huwelik daaronder ly nie. Dit is makliker gesê as gedaan, maar dit is moontlik. Onthou dat jy iemand anders nie kan verander nie, maar as jy jou kant (en jou kaste) so skoon en gemorsloos as moontlik kan hou, is julle 50% daar en dít is beter as niks.
3. Moenie summier intree en jou maat se persoonlike items sonder sy toestemming verwyder nie. Nee, hy gaan waarskynlik nie sy toestemming gee nie, maar begin minimaliseer deur by jou eie goed te begin. Dikwels sal jou voorbeeld vanself spreek en baie minimaliste kan getuig dat hul maats oortuig geraak het slegs deur te beleef hoeveel makliker dit vir hul maats is om minimalisties te leef.
4. Identifiseer twee areas in/buite jul huis – een waar jou opgaarder-maat na hartelus kan opgaar. Verkieslik is dit ’n motorhuis, tuinhuisie of keldervertrek. Die twee vereistes is dat hier ’n deur moet wees wat jy kan toetrek sodat jy nie hierin hoef vas te kyk nie en dat dit veilig moet wees (en nie ’n brandgevaar mag inhou nie). Die tweede area moet ’n ruimte wees waar jy kan doen nét wat jy wil. En as jy slegs ’n wit bank en ’n glastafeltjie daar wil laat staan, moet jou maat jou laat begaan. Enige gedeelde spasies moet clutter-vry wees.
5. Moenie jou maat vra om “orde in sy chaos” te skep nie. Wees spesifiek en stel voor: “Kom ons kyk ’n bietjie of ons dié naweek jou onderklere-laai kan uitsorteer/plek kan kry vir die gereedskap wat op die kombuisblad lê.” Verduidelik ook aan jou maat hoekom dit belangrik is om orde te skep of te minimaliseer, en watter positiewe uitwerking dit psigologies op julle kan hê.

Die oplossing hiervoor hang af van jou maat se probleem, die graad hiervan en die oorsaak hiervoor. Doen jou navorsing, probeer insien waarom hy so optree en doen jou bes om dinge so ver as moontlik te minimaliseer.

Besef ook dat jou maat nie altyd geneë is met die oop spasies waarna jy streef nie en maklik jou drang na eenvoud kan bestempel as nie-idealistiese perfeksionisme. Jy voel dalk dat jou maat die een met die probleem is, maar soms is die antwoord tog om ’n goue middeweg te vind en mekaar halfpad te ontmoet.

Addisionele bronne: becomingminimalist.com

Artikel deur Annelize Steyn