Elke huwelik voel soms ’n bietjie . . . olik. Grieperig. Asvaal, groen om die kiewe en futloos. Dis daardie tye wat selfmotivering nie juis help nie en daardie huwelik net onder die lakens wil lê, duvet tot teen die neus opgetrek, en niks doen nie.

Promosie

Blah. Dit is die perfekte woord om jul huwelik die laaste tyd te beskryf. Die energie-tonikum is uitgewerk en, om die waarheid te sê, daar is heeltemal te veel ander “goggas” om aan aandag te gee as hierdie kiem wat jou so onvervuld en ongemotiveerd laat voel dat jy nie eers vir jou maat wil kýk nie (om van vát nie te praat nie!). Ons ken hierdie huweliksgriep maar alte goed, want daar is nie entstof hiervoor beskikbaar nie en elke langtermyn-huwelik is vatbaar hiervoor.

Volgens ’n studie deur Good in Bed is dié griep die grootste bedreiging vir langtermyn-verhoudings, en in die studie is gevind dat 25% van paartjies dit in hul huidige huwelike beleef (ook genoem: verveling). Nog 25% van die paartjies het die kiem voel aankom. Volgens yourtango.com is dié siekte soos ’n aanval op jou huwelik se immuunstelsel en as daardie immuunstelsel eers verswak is, is julle soveel meer vatbaar vir ’n hele reeks siektes. (Sowat 20% van deelnemers was ontrou as gevolg hiervan!)

SIMPTOME VAN HUWELIKSGRIEP

Promosie
  • Jy en jou maat praat die afgelope week net indien dit régtig nodig is. (Die toilet lek, en terwyl jy elke nag met jou pantoffels in die water gaan sit ná jy in ’n toestand van diepe slaap vergeet het hiervan, blyk hy salig onbewus te wees van die probleem. Dán práát jy.)
  • Die kiem het klaarblyklik ’n uitwerking op jou stembande, want wanneer jy wel praat, kom die klanke nie uit soos gewoonlik nie en het jou stem meer volume as gewoonlik.
  • Jou liggaam het ’n mate van sensitiwiteit, want wanneer jou maat snags per ongeluk aan jou raak, gaan staan jou hare regop en weer jy dít wat jy beskou as toenadering (en eintlik net sy arm was wat jou per ongeluk getref het toe hy omgedraai het) af met: “Dié tyd van die nag?! Dink weer!” voor jy omdraai en slaap.
  • Die huwelik funksioneer op lae energievlakke. Julle leef soos skepe in die nag en sien mekaar net in die verbygaan. Op die goeie dae gee julle mekaar ’n piksoen.
  • Julle het alle toetse ondergaan en weet dat hier nie ’n dieper probleem onder die oppervlak is nie, maar bloot ’n tydelike grieperigheid wat sal oorwaai!

VOORSKRIF VIR HUWELIKSGRIEP

Een botteltjie onvoorspelbaarheid: Neem saam met ’n glas wyn wanneer jou maat dit die minste verwag. Julle is getroud en so lekker soos wat gemak, roetine en sekuriteit kan wees, só vervelig kan dit soms wees. Julle ken mekaar deur en deur. Verras jou maat dus met iets wat hy glad nie verwag nie, soos om:

  • ’n Kleur te dra waarin hy jou nooit sien nie (soos rooi!).
  • Iets te kook wat jy nog nooit vir hom gemaak het nie (wat van Coq au Vin?).
  • Hom met die kussings by te dam en ’n kussinggeveg te hou.
  • Op sy skoot te gaan sit en sy aandag te probeer aftrek terwyl hy televisie kyk.

Een naweek weg: Ja, jy is besig en jy is dalk glad nie in die bui vir tasse pak nie, maar ’n naweek weg van die normale kan nuwe woema in jul huwelik blaas. Die geheim is egter om ’n nuwe plek te gaan ontdek waar julle nog nooit was nie. ’n Nuwe gewoonte is die lááste ding wat julle nodig het!

  • Bespreek plek, reël met sy baas en “ontvoer” hom.
  • Indien moontlik, bespreek plek met ’n “geen kinders”-beleid vir romanse.
  • Bestel kamerdiens sodat julle heeldag in jul kamers kan bly.
  • Gaan besoek ’n nuwe plek en gaan skinny dip om middernag saam in hul swembad!

Een tablet verleiding: Dit is maklik om soms te vergeet dat ’n man ook begeerlik wil voel. En wat gaan sy ego méér streel as jy in ’n sexy pakkie wat jou klere lank en stadig en sensueel voor hom uittrek?

  • Leer ’n oulike strip tease van ’n YouTube-video af.
  • Flankeer met hom – heeldag lank.
  • Moenie van die komplimente vergeet nie (lê veral klem op sy manlikheid!).

Een week se fisieke aanraking: Daar is net een ding wat daardie liggaamsensitiwiteit (waarvan ons vroeër gepraat het by die simptome) kan teenwerk en dit is om jou maat doelbewus aan te raak. Gee hom ’n druk, staan teen hom met jou arms om sy lyf, hou sy hand vas en voel hoe daardie hare op jou lyf plat gaan lê!

  • Begin met minstens ’n soen wanneer julle mekaar hallo en totsiens sê.
  • Vlei jou lyf teen syne wanneer jy agter verby hom skuur.

Een pakkie selfliefde: Jy is moeg, uitgeput en leeg getap omdat die eise van alles en almal rondom jou net té veel raak. Sê vir jou maat jy het een af aand nodig om jou batterye te herlaai.

  • Bespreek ’n aand weg in ’n hotel of stuur vir Pappa en die kinders na ouma toe vir ete sodat jy net lank in ’n bad kan lê en jou gunsteling-reeks kan inhaal.
  • Staan voor die spieël en geniet dít wat jy sien. Kyk met ’n sagte oog en waardeer jou vroulikheid.

125ml vokale antibiotika: Die belangrikste wat julle kan doen, is om te praat oor die huweliksgriep. Sodra jy dit by die naam noem, herken julle dat alles nie normaal is nie, dat julle nié gelukkig is met die stand van sake nie en dat julle graag iets daaraan wil doen.

En as praat nie help nie en al die voorskrifte hierbo is nie doeltreffend nie, is die kanse goed dat julle ’n sekondêre infeksie ontwikkel het. Dan is dit dalk ’n goeie idee om julle na ’n spesialis te wend wat kan klaarspeel met hierdie weerstandige kiem . . .

 

Deur Annelize Steyn