Hy glo daar is niks fout met suigstokkies voor slaaptyd nie, jy verban dit. Hy glo aan lyfstraf en jy dink dis onmenslik. Hoe hanteer ’n mens verskillende benaderings ten opsigte van dissipline en hoe keer jy dat dit konflik in jou huwelik veroorsaak?
’n Algemeen erkende ouerskapbeginsel is dat kinders grense en dissipline aan die een kant nodig het en onvoorwaardelike liefde en genoeg aandag en erkenning aan die ander kant. Ons hoor gereeld hoe belangrik dit is dat ouers in terme van dissipline ’n gesamentlike front moet voorhou. Maar uit die aard van die saak stem ouers nie altyd saam oor dissipline nie en dikwels het hulle selfs totaal verskillende ouerskapstyle. Uiteraard skep hierdie verskillende benaderings tot kinderopvoeding dikwels konflik binne die huwelik. Dit is ’n uitdaging om suksesvol oplossings hiervoor te vind, maar dit is nie onmoontlik nie.
- Bespreek en hanteer verskille in opinies ten opsigte van dissipline in privaatheid en moenie voor die kinders verskil of baklei nie. Ondersteun jou maat dus onvoorwaardelik voor die kinders. Wees ’n verenigde front, maar bespreek konflik hieroor later. Fokus daarop om ’n middeweg te vind en nie noodwendig om in te gee of jou maat te oorreed nie. Gestel byvoorbeeld pa wil saam met sy dogter inkleur, maar dit is slaaptyd. Ma kan reageer deur te sê: “Dit is nie nou ’n goeie tyd vir inkleur nie. Dit is slaaptyd en sy het haar slaap nodig.” ’n Beter reaksie sou egter wees waar onderhandeling en respek as vaardighede ook gewys word. “Kom ons bad jou gou en maak reg vir die bed, dan kan jy en pappa dalk vinnig vyf minute inkleur voor slaaptyd, en dan kan julle môre verder inkleur.” Natuurlik kom groot verskille in opinies soms voor, soos hoe kinders gestraf word of presies watter reëls gevolg moet word. Soms is die enigste uitweg om die hulp van ’n vertroueling of professionele berader in te win.
- Die oorweging moet altyd wees wat julle groter plan of doel daarmee is. Ons wil gebalanseerde, onafhanklike en gelukkige volwassenes van ons kinders maak. Besluit saam wat is die waardes en lewensvaardighede wat julle jul kinders wil leer en dan besluit julle hoe julle dit gaan regkry.
- Onthou, hoe jou ouers jou grootgemaak en gedissiplineer het is nie noodwendig die regte manier nie, of nie noodwendig die regte manier vir jou kind met sy unieke temperament en persoonlikheid nie.
- Die huwelik, soos die lewe, gaan oor onderhandeling. Dit is ’n goeie vaardigheid om aan jou kinders oor te dra. So mens mag soms onderhandel voor die kinders.
- Mens mag ook ooreenkom om te verskil ten opsigte van sekere dinge.
- Die belangrikste is om ’n paar basiese reëls te hê waarop julle ooreenkom en dan natuurlik ook wat die gevolge gaan wees indien daardie reëls verbreek word.
- Konsekwentheid is die goue draad wat deur alles moet vleg.
Vier moontlike ouerskapstyle:
Dikwels is dit baie sinvol om jou te vergewis van die verskillende ouerskapstyle en die uitkoms daarvan. Só bereik mens makliker ’n kompromie.
- Outoritêre ouerskapstyl
- Vaste reëls en regulasies.
- Geen onderhandeling.
- Gehoorsaamheid word afgedwing deur straf.
Dit kan tot gevolg hê dat kinders magteloos voel, woede onderdruk en selfs aggressief of depressief raak. Hierdie kinders het dikwels ’n swak selfbeeld en swak sosialiseringsvaardighede.
- Permissiewe ouerskapstyl
- Klem word gelê op die verhouding tussen ouer en kind.
- Die kind se geluk en gevoel van liefde word vooropgestel.
- Ouers maak opofferings ten koste van hulself.
Sulke kinders is gewoonlik nie gelukkig nie en ervaar nie genoegsame sekuriteit nie. Hulle ervaar probleme met outoriteit en vaar nie so goed op skool nie.
- Onbetrokke ouerskapstyl
- Ouers gee nie regtig om oor die kind se welstand nie en is onbetrokke.
- Ouers is krities en veroordelend.
- Min emosionele bystand.
- Min tyd en fisiese kontak van ouer na kind.
Hierdie kinders ervaar dikwels erge trauma en dra die letsels vir die res van hul lewens. Hulle raak ook dikwels aggressief of soek ontvlugting in alkohol en dwelms.
- Demokratiese/gebalanseerde ouerskapstyl
- Daar is reëls en regulasies en die verwagting is dat kinders dit sal gehoorsaam.
- Die ouerskapstyl is egter demokraties en daar word na kinders se opinie en gevoelens geluister en erkenning word daaraan gegee.
- Ouers luister na kinders se vrae en het ’n oop kommunikasiekanaal.
- Ouers is meer koesterend en ondersteunend wanneer kinders foute maak –dit gaan oor die lesse wat geleer word. Kinders moet foute maak: Dit is hoe hulle leer.
- Ouers lei en ondersteun eerder as om net te straf.
Hierdie kinders toon ’n hoër vlak van funksionering en ’n algemene gevoel van sekuriteit en aanvaarding. Hulle sosiale vaardighede is ook beter omdat hulle die vaardighede van onderhandeling, luister, respek en doeltreffende kommunikasie in die ouerhuis aangeleer het.
Bespreek dus jou en jou maat se ouerskapstyl en die ouerskapstyl uit jou gesin van herkoms en besluit wat die ouerskapstyl is wat julle graag in julle huishouding wil volg. Dit is nie net in die belang van julle kinders nie, maar ook in die belang van julle huwelik!
Deur Elmari Mulder-Craig, seksuoloog en verhoudingskenner