Met hierdie artikel oor Hooglied kyk ons bietjie na die toenaderingsproses om jou vroutjie met sensitiwiteit en die regte ingesteldheid te benader.
Onthou jy nog die dag toe jy en liefie voorbereiding gedoen het vir daardie besonderse oomblik waartydens julle mekaar plegtig trou beloof het? Sien, mettertyd vergeet mens maklik die emosies, die koestering en die redes vir lief wees. In jou gejaag het jy dalk net alles as vanselfsprekend begin aanvaar. Hooglied lê tog klem op die vrou se verwagting dat ons as manne nie sal vergeet nie… ’n vrou het tog ’n hunkering en groot behoefte na die liefdespel, wat kan lei tot intimiteit.
Onthou tog daardie uiters belangrike spel wat vroegoggend al begin en nie eers wanneer jy tande borsel voor jy in die bed klim nie. Herinner jouself daaraan dat tyd met die kinders en die speel met hulle groot punte tel! Belangrik, as jy kan, SMS’e en WhatsApp’s met hartjies wat volg in jou boodskappies werk beslis goed – maak gerus ’n aantekening, manne… dit werk! Vir ekstra raad, maak daagliks ’n tydjie en vertel vir mekaar van julle dag se gebeure oor ’n lekker koppie koffie – lekker kontak sonder seksuele bedoelings. En dan, wanneer jou vrou lekker veilig gekoester in jou arms lê, volg jy Hooglied se voorspel-reëls. Hier kom hulle nou!
Herken haar kwaliteite. Praat met haar en gee eer waar eer nodig is! Manne, ons vroue het nodig om te hoor hoeveel betekenis en waarde hulle in ons lewens het. Dis nou hier waar jy jou arms om haar lyf sit, haar styf vashou, diep in haar oë kyk en dankbaarheid betoon.
Ag haar as jou waardevolste besitting. Ons is baie gesteld op ons waardevolle voertuie se waarborge, wat onderhewig is aan dienste op die voorgeskrewe tye. Net so kan ons as huwelikspaartjies geen waarborg gee vir ’n gelukkige huwelik as ons nie tyd saam spandeer en ’n naweek per jaar wy aan ’n huweliksverrykingsnaweek nie.
Erken haar moeite met skoonheid. Dalk brom jy oor alle skoonheidsprodukte en behandelings waaraan vroulief geld en tyd spandeer. Glo my, sy doen dit vir jou! Manne, sien dit asseblief raak en gee goeie erkenning aan haar aksies.
Sy het ’n behoefte daaraan om gesoen te word. Toe nou, voor die huwelik moes jy amper keer dat julle mekaar nie ingesluk het nie. Vandag is daardie dae amper vergete! Wakker daardie vermoëns weer aan. Manne, kry julle ou tricks weer uit die kaste, stof hulle af en kry weer daardie tienerdae in jou bed! Jou vrou gaan nie weet wat haar getref het nie, toe nou… Dis die regte ding om te doen, soen haar!
Sy beleef respek deur haar liefdesbelewenis. Dis aanvaarbaar om te weet dat ons as manne ’n liefdesbelewenis het wanneer respek getoon word. Menere, Hooglied lê klem daarop dat vroue ’n intense behoefte het daaraan om deur hulle mans respek te beleef en belangrik, koester haar met onvoorwaardelike liefde! Onthou net, liefde is nie ’n gevoel nie, maar wel ’n keuse! So maak daardie keuse sommer nou in jou hart vas en laat toe dat die Outeur van huwelike jou lei na ’n volgende vlak van intimiteit.
Haar behoefte om versorg te wees. Manne, as ’n Woolies- of enige ander klerewinkel-uitverkoping vír jou is, wie kan teen jou wees? Ja, wees kreatief met jou metgesel en moedig haar aan om iets moois aan te skaf. Onthou, dis sy wat die klere dra en nie jy nie! Gerief, gemak en persoonlikheid kom hier sterk ter sprake! So, wees ingesteld daarop sodat sy versorg voel en waarde beleef van jou kant af. Sy is dit meer as die moeite werd, onthou manne, dis vir jou! Goeie raad, moenie vergeet om komplimente te gee nie, menere. Ons gedagtes is soms vol, maar maak ’n punt daarvan om dit nie te vergeet nie!
Haar behoefte aan vrouwees en toenadering. Sy is ’n vrou en nie noodwendig jou rugbyvriend wat jou harde drukke en swaar arms om sy lyf kan hanteer nie, hoor! Praat, vat en kyk op ’n teer en sagte manier en met eerbied. Hou haar lekker en op ’n veilige wyse vas en laat toe dat sy op geen ander plek in hierdie wêreld meer veilig kan voel as by jou nie. Haar delikate lyfie sal sommer smelt in jou teenwoordigheid as jy hierdie paar Hooglied-riglyne in jou lewe toepas! Laastens, onthou die dag van môre…
Bemin haar en erken jou liefde. Kom nou manne, doen die regte ding sommer vandag nog en stuur jou WhatsApp’s en SMS’e, en wanneer sy op jou boodskappies antwoord… reply altyd met mooi kommentaar!
Deur Stephen Claassens