Jy het dit beslis al van manlief gehoor: Seks is góéd vir jou! Dit help met byna alles onder die son, van ’n gesonde hart, beter slaap en minder spanning tot om die vetjies af te skud en beter oor jouself te voel. Voeg sommer vandag nog seks by die winkellysie van appels, wortels en ander gesonde produkte en sorg dat jy lidmaatskap by die slaapkamergimnasium verkry…

Promosie

Hier is ’n paar gesondheidsvoordele van slaapkamerstoei waarvan jy dalk nog nie weet nie:

  1. Minder a-a-atiesjoee!

Gewoonlik gryp jy na vitamien C, inspuitings en knoffel. Weens die toename in immunoglobien A, ’n teenliggaam wat infeksie bestry, kan jy sowaar minder verkoues kry wanneer julle meer aktief in die slaapkamer is. En as een van julle eers verkoue het, gaan daar nie sommer gekafoefel word nie, so moet eerder nie eens die kans waag nie. Voorsorg is die beste geneesmiddel.

  1. Kry Raponsie se hare, vel en naels

’n Natuurlike toename in estrogeen sal die voorkoms van jou hare, vel en naels verbeter. Julle albei se vel sal ook gloei (heel waarskynlik omdat jy ook sommer gelukkiger is). Reg gehoor, dit is nie net die dames wie se velle bevoordeel word nie, maar dit is ook van toepassing op die manne (metro of te not). Dit verlaag ook jou kans dat meneer Puisie of ’n veluitslag sal kop uitsteek. Dit is twee vir die prys van een, want dit sal jou laat smag na nóg meer seks. Kolskoot! Sommer ’n libido-inspuiting ook.

Promosie
  1. Koebaai hoofpyn!

Niks meer verskonings van hoofpyn nie. ’n Studie by die Southern Illinois Universiteit het gevind dat byna die helfte van vroue wat sukkel met migraine beter gevoel het ná ’n orgasme. Skuif vir eers maar die koue asynlappe en hoofpynpille opsy en “oefen” daardie verskriklike migraine weg. Waag die kans, jy kan dalk net beter voel. Wat het jy om te verloor?

  1. Geld vs seks? Seks wen loshande!

Om gereeld seks te hê, maak mense gelukkiger as blou note in ’n spekvet beursie. Net nog ’n bewys dat geld nie geluk kan koop nie, dit is eintlik gratis beskikbaar in die slaapkamer. Vergeet van jou bankbestuurder en lottokaartjies en fokus eerder op jou sexy maat.

  1. Méér semen = verhoogde vrugbaarheid

Verskeie studies het al getoon dat mans wat gereelde aksie tussen die lakens het, ’n hoër volume semen het as mans wat minder seks het. Dit verhoog die kwaliteit én die kwantiteit van ’n man se sperm. Dit kan ook ’n paartjie se vrugbaarheid verhoog.

  1. Van gesond na nóg gesonder

Mense wat reeds gesond leef, het oor die algemeen ’n meer gesonde sekslewe. Wanneer jou liggaam fiks en viets is, is jou bloedsirkulasie en senuweegeleiding beter en dit verseker beter seks en ook dat dit langer behou word.

  1. Asem nou diep in…

Nou praat ons van die hyg in hygroman. Seks kan jou asemhaling verbeter. (Genugtig, jy is soms só kortasem dat jy dit skaars kan glo.) Om ordentlik asem te haal, is noodsaaklik vir ’n goeie vlak van gesondheid. Deur asem te haal, voorsien jy jou selle van broodnodige suurstof. Vars lug sal jou liggaam help om voedingstowwe te absorbeer en gifstowwe te vernietig. Sowat 90% van ons energie kom uit suurstof. Tydens seks is diep asemhaling een van die sleutels om langer en meer intense orgasmes te kry.

  1. Die laaste sien van Bak en Terie

Winter of somer, goeie seks laat jou swéét. Jou vel is die grootste orgaan in jou liggaam en elimineer 30% van die gifstowwe in jou liggaam. Jou liggaam se temperatuur styg ook tydens seks, wat die groei van bakterieë en virusse sal beperk. Kook daardie kieme dood!

  1. Krul jouself soos ’n pretzel

Jy het al dikwels gehoor dat seks veroudering teenwerk, maar dit help jou ook om meer buigsaam te wees. As jy die volgende dag ’n dowwe pyn het op plekke (en spiere!) wat jy nie eens geweet het bestaan nie, sal jy wéét dat jy jou buigsaamheid weer op die proef gestel het. Hoe ouer jy word, hoe kosbaarder gaan beter buigsaamheid vir jou gesondheid wees.

  1. Speel-speel met jou verbeelding

Hier moet jy nou leer om buite die vervelige (kondoom) boksie te dink. Seksspeelgoed verbeter nie net jou sekslewe nie, maar gee jou verbeelding ook vrye teuels. Ewe skielik is jy nie meer Skaam Sarie nie, maar Waagmoedige Wilma! Daar is ’n wye verskeidenheid interessante speelgoed op die mark, soos kerse wat smelt totdat dit masseringsolies is.

 

Deur Lize Groenewald
Addisionele bronne: articles.mercola.com, rodale.com, beeld.com, fitandsexed.com, webecoist.momtastic.com