Fietsry verbrand kalorieë en bevorder kardiovaskulêre gesondheid, maar te veel ure op die saal kan ’n kinkel in jou kabels veroorsaak. Wat moet jy weet oor fietsry en erektiele disfunksie (ED)?

Promosie

Wanneer jy jou ysterperd trap dat dit klap, plaas jy ’n groot persentasie van jou gewig op jou perineum, ’n gebied tussen die skrotum en die anus waar die senuwees en are van die penis loop. Hierdie druk, en ’n smal saal, kan die are en senuwees beseer.

“Die eerste tekens van moeilikheid is gevoelloosheid en tinteling,” sê dr. Irwin Goldstein, direkteur van San Diego Sexual Medicine. Hy reken dat jy nie kompeterend kan fietsry en teen ED beskermd kan wees nie, want as ’n fietsryer het jy daardie drukkende voorpunt van ’n saal tussen jou bene nodig.

Die bewyse is dalk oortuigend, maar moet steeds in perspektief gehou word.

Promosie

“Wanneer ’n man my vra of hy fietsry moet staak as gevolg van die gevare van ED, antwoord ek dat hy ’n 50% kans het om eerder hartsiektes te ontwikkel,” sê dr. John M. Martinez, mediese direkteur by die Coastal Sports and Wellness Center in San Diego. “Dus moet jou primêre fokus op oefening en dieet wees – die twee hoof komponente wat jy benodig om hartsiektes en ED te beveg. Ek sal nie iemand aanbeveel om fietsry te staak uit vrees vir ED nie.”

Gepraat van ’n gesonde dieet en jou hart – neem jy genoeg Omega-3 vetsure in? Dit kom meestal voor in seekosse soos olierige vis of kan as ’n aanvulling geneem word. Dit help onder andere om jou slegte cholesterol (wat verband hou met erektiele disfunksie) te verlaag. Verskeie studies rapporteer dat mense met ’n geskiedenis van hartaanvalle wat gereeld olierige vis (soos salm) eet of vis-olie aanvullings neem, hulle risiko kan verminder tot hart ritme probleme, ’n hartaanval, borspyn en skielike dood.

WAT KAN EK DOEN OM MY RISIKO TE VERMINDER?

“Dit kom voor asof die groot sondebok die vreeslike smal neus fiets-sitplekke is,” sê Dr Wilme Steenkamp, mediese dokter in Potchefstroom. “Dit veroorsaak dat mans die meeste van hulle liggaamsgewig dra op daardie smal strokie op die perineum en spesifiek baie hoë druk op die bloedvate, wat die penis van bloed voorsien, veroorsaak. Mans is nie anatomies ingerig om hierdie drukking natuurlik te hanteer nie.”

Die oplossing? Kry ’n wye, goed opgestopte fiets-sitplek om die impak van die rit te absorbeer, of kry ’n spesiaal ontwerpte sitplek met ’n gleufie. Dr Steenkamp beveel veral die gleufie-sitplekke aan omdat dit ’n man kan help om die druk meer eweredig in sy onderlyf te versprei sodat die crown jewels nie so gewurg word tydens fietsry sessies nie.

Jy kan gerus ook die volgende doen om ysterperd te “tem”:

  • Posisioneer jou stoel só dat dit minimale druk op die perineum plaas.
  • Lig die handvatsels sodat jy relatief regop sit. Dink aan hoe verskillend motorfietsryers van speed bikes sit teenoor ouens wat Harley’s ry. Probeer eerder meer soos die Harley ou as die speed biker sit, want dit kan help om die druk te verskuif na jou boude wat die stremming veel beter kan hanteer.
  • Dra hoë kwaliteit fietsrybroeke vir ekstra beskerming en vervang die broeke sodra hulle begin beskerming verloor.
  • Maak jou oefenprogram gebalanseerd – moenie NET fietsry nie. Wissel dit af met stap, draf of swem. En moenie vergeet van die heel lekkerste oefening ooit: sexercise!

 

Deur Thalia Brüssow
Addisionele bronne: Askdoctork.com en webmd.com