Ou wonde het die lelike geneigdheid om hul kop uit te steek . . . veral as die kinders uit die huis is en nie meer daar is om die aandag hiervan af te lei nie.

Promosie

Skielik (só voel dit) is julle kinders uit die huis uit. Dis nou net julle twee wat oor is in die huis. Dit voel asof julle bymekaar hoort, maar o gits – daar is só baie onopgeloste wonde, bitterheid en verwyte in die ondertone van julle verhouding! Dis dalk hoekom julle soms met so ’n effense grom verby mekaar skuur wanneer julle in die gang af loop. Hoe op aarde takel ’n mens sulke stewig verbinde wonde sonder om die seer weer van voor af te voel? Sê nou ’n mens maak die wonde oop, julle kan die proses glad nie beheer nie en dit maak alles net weer erger?

Moet ons die wonde oopmaak?

Ja, ou wonde gaan nie vanself weg nie, al probeer ’n mens hulle hóé hard toe hou deur hulle stewig te verbind. Hulle vorm ’n stewige litteken wat ondeurdringbaar kan word en julle twee op ’n definitiewe afstand van mekaar af weghou. Hulle het die manier om groter te word en naderhand al hoe moeiliker te raak om te hanteer. Dis nié ’n resep vir ’n goeie eindproduk nie!

Promosie

Wonde kweek dieper of nuwe wonde. As een konflik nooit uitgesorteer word nie, is dit geneig om die ontwikkeling van verdere wonde te veroorsaak. ’n Mens voel ongemaklik oor onopgeloste konflik en is dan huiwerig om te praat oor ’n ander konflikkwessie, vir ingeval die vonke spat en die tweede kwessie die eerste een net weer van voor af oopkrap.

Hoe doen julle dit?

Hê deernis met mekaar – juis vir die feit dat dit moeilik is om oor ou wonde te praat. Erken die nodigheid daarvoor om ’n veilige ruimte te skep waarbinne julle met mekaar oor hierdie kwessies kan praat. ’n Veilige ruimte maak dit moontlik om die verbande van ’n wond sagkens af te trek, sonder om meer skade aan te rig, om mooi te kyk wat binne-in die wond aangaan en om seker te maak albei voel die wond is uiteindelik skoon.

Hoe lyk ’n veilige ruimte?

Dit help om af te spreek op ’n spesifieke tyd vir só ’n gesprek. Albei kan hul beste tyd voorstel. Dit gee die boodskap: “Ek weet hierdie is moeilik. Ek gaan dit probeer veilig hou vir jou en my. Ons is vennote.” ’n Veilige ruimte het reëls om dit veilig te hou. Sonder reëls is ons emosies en jarelange patrone geneig om oor te neem en dan verloor ons die kern van die gesprek.

Die reëls vir ’n veilige ruimte:

  • Een persoon is die spreker en een is die luisteraar.
  • Die spreker mag nie aanval, kritiseer, sarkasties wees, manipuleer of blameer nie. Hy/sy mag net die probleem reguit stel. Dit help om te begin met wat jy voel: “Ek voel steeds gefrustreerd / nog seergemaak oor . . .”
  • Die luisteraar mag aanvanklik net luister en uitvra om genoeg inligting te kry. “Bedoel jy dat jy seergemaak voel omdat . . .” – sonder om sarkasties te wees of insinuasies te maak. Probeer luister sonder om aan ’n reaksie te dink. Dis beter om glad nie te reageer nie en te luister. Vra eerder: “Vertel my meer.”
  • Die spreker kan meer inligting gee en dan sê wat hy/sy graag in die plek sal wil hê van hoe dinge was / wat hulle nodig het. (“Ek sal daarvan hou as jy eerder twee naweke van elke maand net by die huis spandeer en saam met my dinge doen. / Ek het nodig dat jy saam met my een keer ’n maand by my ouers gaan kuier. / Ek het net nodig dat jy moet verstaan hoe ek daaroor voel.”)
  • Die luisteraar kan aanbied om te help of kan ten minste sê dat hy / sy daaroor sal dink of kompromieë aanbied. (“Ek sien kans om een keer in twee maande saam met jou by jou ouers te gaan kuier. Kan ons dit probeer en kyk of dit jou help?”)
  • Indien die luisteraar ook ’n baie sterk mening het oor dieselfde kwessie, kan hy/sy op ’n ander geleentheid of heeltemal ’n ander dag daaroor praat as die spreker. Net een persoon kry ’n beurt op ’n keer – dit hou dinge ook veilig (dit moenie ontaard in ’n wedersydse blameersessie nie!).
  • Indien die spreker vra vir begrip, empatie of woede en verwyte uitspreek, is die volgende gewoonlik nodig:
  • Die luisteraar moet om verskoning vra.
  • Maar hy/sy moet beslis ook empatie uitspreek. “Ek kan verstaan dat jy nog steeds seergemaak voel oor . . . / Ek kan my indink dat dit jou vir lank frustreer het dat . . . / Ek verstaan dat dit vir jou ’n groot behoefte is en dat ek nie daaraan voldoen het nie.” Hierdie is dikwels die heel belangrikste stap van wonde gesond maak. Dit maak onafgehandelde sake baie ligter as jou maat empatie kan wys!
  • Dan moet die luisteraar onderneem om dinge vorentoe anders te doen. “Ek gaan my bes probeer om beter te luister na jou / jou behoeftes hieroor raak te sien / vir jou te wys dat ek ’n les geleer het en dat my verhouding met jou vir my die belangrikste is.”

’n Veilige ruimte kan weer en weer geskep word om selfs oor dieselfde wond te praat, maar altyd met dieselfde reëls en met die basiese uitgangspunt dat julle twee vennote is wat die wond gesond wil sien word, sodat julle nader aan mekaar kan beweeg!

Sommige wonde is baie dieper, het dalk baie dikker lae verbande oor en het baie groter skade aangerig as ander. Solank julle binne ’n veilige ruimte die lagies versigtig aftrek, is daar hoop dat julle diep kan gaan kyk, diep empatie met mekaar kan ontwikkel en dan behoorlik kan skoonmaak. Dis juis die pogings oor jare om oor moeilike dinge te praat buite die veilige ruimte, wat skade aanrig. Doen dit van nou af anders!

 

Deur Wilmé Steenekamp