Aftrede kan ’n stresvolle impak op jou huwelik hê – verandering gaan gewoonlik met stres gepaard.  Dié toetrede bring ook ’n nuwe fase in jou huwelik mee wat jy moet leer hanteer. Die geheim is om dit as jou goue jare te benader en die tyd wat julle saam deurbring, te koester.

Promosie

Hoewel dit ’n baie opwindende tyd in jul lewens kan wees, met nuutgevonde vryheid, kan daar ook ’n paar struikelblokke met aftrede gepaard gaan.

’n Afname in inkomste

Vir werkende mense klink dit dalk heerlik dat ’n mens skielik tyd het om te doen wat jy wil, jou stokperdjies te beoefen, te reis, tyd saam met jou eggenoot en vriende te spandeer, en alles te doen wat jy nog altyd wou, maar daar nooit voor tyd was nie. Dit klink aanloklik en kan beslis die beste jare van jou lewe wees, mits jou beplanning deur die loop van jou loopbaan in orde was.

Promosie

Natuurlik sluit dit die kommunikasiekanale met jou wederhelf in, want aftrede in sy verskillende fasette moet vooraf bespreek word. Volgens Naudine Adaimi, wat huwelikseminare aanbied asook die uitvoerende direkteur van Immergroen Ouerskap is, moet paartjies onthou dat verwagtinge verskil.

Tog bring aftrede groot aanpassings mee as julle mekaar deur die loop van jul huwelik langs die pad verloor het en kommunikasie agterweë gebly het. Van die aanpassings wat met aftrede gepaardgaan, is ’n (moontlike) afname of selfs verlies aan inkomste, ledigheid en spanning as gevolg van die finansiële implikasies of ’n huwelik waar daar nie die nodige kommunikasie deur die jare was nie.

Naudine sê dis belangrik dat paartjies nie net aan stokperdjies en belangstellings aandag gee nie, maar ook mekaar in ag neem en besluit wat hulle sáám gaan doen. Dié avonture sal hul emosionele intimiteit versterk.

Deur ’n mens se lewe werk jy doelgerig aan ’n loopbaan, jy bou dit stuk vir stuk en dan breek die dag aan dat jy die stuur aan iemand anders oorhandig. Indien daar skielik nie meer ’n inkomste is nie, of ’n afname daarvan – wat baie moontlik is in die huidige ekonomiese klimaat – veroorsaak dit geweldige spanning, want ’n mens moet dan skielik afskaal en jou lewenswyse aanpas.

Naudine sê: “’n Groot krisis is nie noodwendig finansieel nie, maar dalk dat die paartjie gister nog doelgerig moes opstaan vir werk en take afhandel. Nou is hulle afgetree en hulle voel dalk hul bestaan is sonder doel of rede, en dit kan depressie meebring.”

Nog ’n moontlikheid is ’n verlies aan selfvertroue omdat jy nie meer werk nie. Dit is soms die dryfveer wat mense benodig – die wete dat jy iets produktief doen, van hulp is en ’n ondersteuningspilaar vir jou eggenoot is. Skielik is jou werkslewe iets van die verlede en alhoewel jy ’n nuwe fase betree, moet jy jou kop ook rondom dié nuwe fase kry.

Die invloed op jou huwelik

Net so belangrik soos jou loopbaan, is jou verhouding met jou maat en jy moet deur die jare aanhou om dié verhouding te versterk. Indien jul huwelik skipbreuk gely het, kan dit ’n enorme struikelblok wees om te oorkom.

Dikwels is huweliksmaats só besig met die ongelooflike pas wat ’n loopbaan vereis dat kommunikasie agterweë bly en voor jy jou oë uitvee, staan ’n vreemdeling voor jou wat jy nie weet wát om voor te sê nie – of wat jy dalk nie meer ken of eers van hou nie.

Dit is ’n enorme ommeswaai om nou ewe skielik konstant in mekaar se geselskap en spasie te wees, en verg juis kommunikasie sodat elke party weet wat  hul nuwe rolle onderskeidelik is. Gun mekaar onverdeelde aandag, bespreek dit eerlik, respekteer mekaar se spasie, privaatheid, gesondheid en geaardhede om op ’n werkbare oplossing vir beide partye ooreen te kom.

“Dit is belangrik wát julle saamdoen. Soms spandeer ’n mens wel tyd saam, maar dit is gevul met frustrasie en ’n gebrek aan kommunikasie,” vertel Naudine.

Elkeen verdien steeds hul spasie, maar ook ’n nuwe rolverdeling sodat julle nie op mekaar se tone trap nie en mekaar ook nie vergeld nie, want dit neem twee osse om die wa saam as ’n span te trek. “Daar moet ’n plan in plek wees ná aftrede. Waar gaan julle betrokke wees of vrywilligers wees? Wat maak dat julle waardevol vir die samelewing voel?”

Natuurlik is gesondheidskwessies ook ’n kwelpunt in jou goue jare en geduld, aanvaarding en empatie met beide huweliksmaats is van die uiterste belang omdat dít iets totaal buite jou beheer is.

Herontdek mekaar

Een van die grootste toetse is die ontdekking – na jare van getroude lewe – dat julle weinig in gemeen het en om moontlik ’n lewe waar onafhanklike lewenstyle gevorm het, weer saam te voeg. Daarom die wysheid dat ’n mens elke enkele dag aan jou huwelik moet werk.

Dit is noodsaaklik om deurlopend ’n eenheid te skep en gemeenskaplike belange te hê. ’n Verhouding wat die toets van tyd deurstaan, bevat gemeenskaplike respek en sensitiwiteit. Die vraag is nou: Hoe gaan julle leer om aanpasbaar te wees?

Dit is noodsaaklik vir albei maats om ’n lewenstyl te vind wat beide partye geniet, gelukkig maak, emosioneel ondersteun en om mekaar se geselskap te geniet sodat dit inderdaad een van die beste fases in jou lewe kan wees.

Ja, soms is dié nuwe fase regtig geen plesier nie en ’n emosionele wipwaentjierit, maar probeer en leer mekaar van voor af ken. Fokus op jul sterk punte en hoekom julle in die eerste plek getroud is. Bou voort daarop eerder as om weg te skram van dié fase en leer om mekaar te akkommodeer in beide se behoeftes.

Die volgende wenke kan dalk die deurslag gee:

  • Neem tyd om gewoond te raak aan jou aftrede. Wees geduldig met mekaar en onthou dat jy nie alles wat jy wil doen binne die eerste maand hoef te doen nie.
  • Hou die kommunikasiekanale oop en bespreek met jou eggenoot wie watter take moet doen en wat julle van mekaar verwag.
  • Bly aktief en betrokke by die wêreld daarbuite deur by klubs aan te sluit, klasse te neem of selfs betrokke te raak in jou gemeenskap.
  • Respekteer mekaar se spasie en skedules, maar spandeer ook gehaltetyd saam. Dis selfs ’n goeie idee om ’n projek of reis saam aan te pak!

Onthou, aftrede is net nog ’n fase in jou lewe en huwelik, maar bespreek dit vooraf sodat dit nie ’n storm ontketen in jul huishouding wanneer dié dag aanbreek nie. Met die regte benadering kan dit ’n geseënde tyd in jul lewens wees.

 

Deur Yolanda Wessels