Alan en Ivy Sutton het mekaar byna vier dekades gelede ontmoet as studente. Ivy, met haar Engelse agtergrond en gebore in die destydse Rhodesië, en Alan, gebore en getoë in Pretoria, het van meet af die vlammetjie tussen hulle voel brand…

Promosie

Hulle is in 1981 getroud. Vandag, 37 jaar later, kyk hulle terug met ’n vonkel in die oog na ’n uiters opwindende en vervullende lewensreis.

Vergeet van verskille en vier die mooi
Maar wat blyk die geheim te wees? Dit is die vraag wat hulle al dikwels probeer antwoord het. Elke keer ontdek hulle redes wat soms ongesiens by baie paartjies verbygaan. Alan en Ivy sê: “Dit is dalk een van die groot redes hoekom baie paartjies opsien na die huwelik asof dit een groot stryd is wat hulle moet stry om uiteindelik dit net te kan maak, dan praat ons nie eers van totale lewensvervulling nie.” Mense is geneig om soms soveel fokus te plaas op die verskille tussen hulle en vergeet te maklik van al die mooi dinge tussen hulle en wat met hulle gebeur. “Ons het vroeg in ons huwelik ’n doelbewuste besluit geneem om nie gekompliseerde individue te wees nie. Ons het tog met mekaar getrou omdat ons mekaar regtig liefhet, en daarom sou dit geen sin maak om die lewe vir mekaar en vir onsself moeilik te maak nie.”

Dek ’n tafel vir mooi herinneringe
Die kuns vir ’n goeie, vervulde huwelik lê daarin dat twee gelukkige en vervulde individue hulle uniekheid celebrate en dit gebruik om opwinding, varsheid en lekker oomblikke te skep. “Vir ons is dit belangrik om elke dag sulke oomblikke te skep en te geniet. Dit dek die tafel vir kosbare herinneringe wat ons saam met ons kan neem op ons lewensreis.” Paartjies moet nooit hulself en die lewe té ernstig opneem nie. Dié egpaar glo ongetwyfeld in ’n lewensfilosofie van: “Life is not a problem to be solved, but a gift to be enjoyed.” Ivy voel sterk daaroor om ’n vreedsame teenwoordigheid in hul huis te wees en nie ’n “probleem wat Alan of hul kinders moet oplos” nie. “Gekompliseerde mense is dreinerende mense en my roeping is nie om die lewe te dreineer uit my geliefdes nie, maar om ’n vreugde en aanwins te wees in hul lewens.”

Promosie

Skep ’n geïntegreerde eenheid
As gelowiges wat al sedert 1977 op ’n voltydse basis vir die Here werk, is dit belangrik dat hul huwelik nie net ’n “Christelike” huwelik sal wees nie, maar dat dit waarlik Christus-gesentreerd sal wees. “Christus is nie vir ons net iemand wat op ’n lessenaar iewers in die Bybel woon nie. Hy is die groot rede vir dit wat ons in ons huwelik kon opbou. Ons glo en verstaan dat die genade van Christus vir ons altyd genoeg sal wees.”

In al die jare wat hulle in gemeentelike bediening staan, glo hulle dat hulle mooi sinergie tussen hulle kerklike en huislike lewe kon kry. Hierdie twee wêrelde het in harmonie ontmoet en het gesorg dat hulle alles wat met hulle gebeur het in een groot prentjie kon sien. “Miskien moet paartjies vandag so ’n bietjie minder kompartemente in hulle wêrelde skep en poog om as heel mense gemaklik die lewe saam as ’n geïntegreerde eenheid aan te pak. Alle fasette van die lewe, of dit nou sosiale oomblikke, werk, geestelike belewenisse of seks is, mag nie in spanning teenoor mekaar staan nie, maar moet afsonderlik en as geheel geniet en waardeer word.”

Maak tyd om te connect
Dit is vir hulle albei baie belangrik om tyd te maak om te connect. “Paartjies mis mekaar te veel en lewe maklik by mekaar verby. Ons het gereelde afsprake met mekaar en hou baie van lekker koffie.” Hulle geniet hulle huis in Centurion, waar hulle die Raslouw-gemeente van Doxa Deo bedien. Hulle maak seker dat hulle mekaar dikwels in die oë kyk, aan mekaar raak en hulle harte vir mekaar oopmaak. Hulle is mekaar se grootste vertrouelinge en ondersteuners.

Geniet mekaar en ware intimiteit
Ivy, met haar “Geniet jou man”-praatjies, praat met ’n vonkel in die oog oor die belangrikheid van “playful creativity” in die huwelik. Ivy sê: “Die lekkerste oomblikke van saamwees hoef nie ’n fortuin te kos nie. Met ’n bietjie kreatiwiteit kan die wonderlikste herinneringe geskep word.” Hulle het ’n passie daarvoor om ’n vars Bybelse perspektief op seksualiteit te bring en glo dat seks tussen ’n man en vrou ’n baie lekker uitdrukking is van ’n warm, passievolle verhouding. Seks moet verstaan en waardeer word voordat dit werklik heilsaam kan wees vir die huwelik. Dit is nie net ’n fisiese aktiwiteit nie, maar is seker die diepste uitdrukking van ware intimiteit.

Vir Alan en Ivy is hulle kinders en kleinkinders net een groot vreugde. Familie-wees kom vir hulle gemaklik en hulle kuier graag saam. Hulle meen daar is min dinge wat huwelike só negatief raak as gebroke familieverhoudings. Paartjies moet hard werk en mekaar liefhê sodat familie-wees huwelike kan stimuleer. Soos hulle tereg glo: “Keep the main thing, the main thing.”

Artikel deur Yolanda Wessels