Ek was nie eens bewus daarvan dat daar probleme in my huwelik is nie. Toe my man begin het om sy foon op te pas, het ek die vermoede gekry daar is iemand anders. Ek het hom daaroor gevra en daarna het ons onophoudelik begin baklei oor alles. Ek het ook hiper-jaloers geword en alles het agteruit begin gaan.
Dit is my man se beste vriend se vrou. Ek het met haar gaan praat en gesê hoe ek voel oor die feit dat sy altyd met hom speel en dat dit my seermaak. Die volgende aand het my man by die huis gekom en gesê dat hy na hulle toe trek. Ek was verpletter. Ek het bly smeek en soebat, maar hy weier om na enigiets te luister of om my nog ’n kans te gee.
Die dame wat vir ons werk, werk ook vir die vrou en het my vertel dat sy my man al twee keer daar gesien kuier het (daar is moontlik ander kere ook), en dat hulle buite gaan kuier en die deur sluit sodat sy nie weet wat aangaan nie. Ek het hom daaroor gevra en hy het my uitgeskel. Hy het gesê ek moet glo wat ek wil – hy is klaar met my, want my jaloesie het hom weggedryf en my ma het ingemeng deur hom te vra wat tussen hom en die vrou aangaan.
Hy wil met niks of niemand praat nie, en die vriend sê sy vrou en my man sal dit nooit aan hom doen nie. (Sy hét hom al voorheen verkul en het selfs ’n kind by ’n ander man. Sy het meer as een keer geïnsinueer dat dit my man se kind is.)
Ek is verpletter, want ek glo nie aan egskeiding nie, maar ek is in ’n tweestryd. Hy wil my glad nie meer hê nie en hy wil net by hulle wees. Hy wil nie eers met my of ons dominee praat nie. Ons is nog nie eens twee jaar getroud nie. Ek weet nie meer watter kant toe nie, ek kan nie meer die verwerping en vernedering hanteer nie.
Hy het altyd gesê hy sal my nooit seermaak of verneuk nie. My hart is in stukke en ek sukkel om sin te maak uit alles. Maar steeds baklei ek daarvoor – al het hy my seergemaak en al gaan hy net aan asof daar nooit iets tussen ons was nie en asof ’n huwelik glad nie so ’n groot verantwoordelikheid is nie.
Kobus en Linda Pauw, verhoudingsafrigters, antwoord:
Ons is saam met jou hartseer oor hierdie situasie en wil jou bedank vir die opregtheid en openlikheid van jou vraag.
Dit is duidelik dat jy alles in die stryd werp om julle huweliksverhouding te laat werk en dat jy tot groot uiterstes sal gaan om julle huwelik te red. Ons het egter al oor die jare geleer dat dit twee persone neem om ’n huwelik te laat werk.
Jy is besig om alles in die stryd te werp en dit is duidelik dat hy geensins belangstel om hierdie verhouding te laat werk nie. Ons dink ook dat die mense by wie hy bly en die ander vrou hom heel waarskynlik opsteek om nie verder met julle verhouding voort te gaan nie.
Solank as wat hy onder hierdie invloed is en nie bereid is om enige hulp van enige aard te ontvang nie, gaan hy ook nooit sy skuld erken nie. Hy sal in hierdie situasie die skuld op jou projekteer. Jy mag dalk ’n aandeel hê waarvan jy nie bewus is nie, alleenlik omdat hy dit nooit aan jou gekommunikeer het nie. Dit is egter nie die probleem nie, want jy is meer as bereid om hulp te kry en te erken waar jy foute gemaak het.
Om hulp vir julle huwelik te kry, moet jou man ook daardie hulp wil hê. Niemand kan hom in ’n helingsproses in dwing nie. Die probleem is dat die Here dit ook nie doen nie. Hy het ons as mense ’n vrye wil gegee en Hy plaas elke dag twee keuses voor ons neer. Die een van lewe en die ander van dood. Ons het die keuse. As jou man nie die lewe kies nie, kan niemand hom daarin forseer nie. Dit is die slegte deel van die antwoord.
Ons weet en hoor jy wil dit laat werk, maar as hy nie wil nie, stel jy jouself aanhoudend bloot aan vernedering en pyn. Jy moet ook na jouself begin kyk in hierdie situasie.
Ons glo ook dat daar niks is wat vir die Here onmoontlik is nie, so hierdie situasie kan vir seker op ’n bonatuurlike manier omdraai, maar as ons met mense-oë kyk, weet ons nie of hy met die verhouding wil aangaan nie.
Ons voorstel is dat jy moet ophou om hom te vra om deel te neem aan die proses. As jy só aanhou, kan dit vir hom lyk of hy die hef in die hand het en kan maak soos hy wil. Hy sal dan ook nie die negatiewe in sy bestaande situasie raaksien nie en eerder daar wil bly. As hy egter besef dat jy nie meer só aanhou nie, sal hy dalk besef dat hy besig is om iets baie kosbaars te verloor.
Hy sal dan dalk weer dink oor waarmee hy besig is en dan is sy ore dalk net meer oop vir die stem van die Heilige Gees. Wees ook versigtig dat jy dalk nie só in die pad van die Heilige Gees staan dat hy nie die Here kan hoor nie. Jou bedoelings is absoluut suiwer, maar hy kan dalk voel dat jy vir hom preek.
In hierdie geval is daar vir jou twee moontlikhede:
1. Besluit om aan te stap en weet dat jy alles probeer het wat menslik moontlik is om die huwelik te red, maar dat hy teen hierdie proses gekies het.
2. Jy kan besluit om te bly en slegs te bid, en die Here te vra dat jou man se oë sal oopgaan vir die waarheid en dat hy die verkeerdheid van sy paaie sal besef. Hierdie tweede keuse kan egter baie jare neem en jy kan baie seerkry in hierdie proses. Ons glo egter dat die keuse by jou lê.