In teenstelling met ‘n bakterie het ‘n virus ‘n sel nodig waarin dit kan oorleef en vermeerder.
Infeksies met bakterieë kan gewoonlik behandel en genees word deur voorskrif antibiotika te neem, terwyl antibiotika nie vir virusse werk nie. Daar is wel hier en daar anti-virale middels beskikbaar om die replikasie van virusse te onderdruk. Dink byvoorbeeld aan die anti-retrovirale middels (ARVs) wat vir die behandeling van Menslike Immuunonderdrukkende virus (MIV) voorgeskryf word.
Omdat virusinfeksies so moeilik behandelbaar is, is dit baie beter om mense teen ‘n virus in te ent sodat hulle liggaam ‘n weerstand teen die virus (“vyand”)kan opbou. Kom ‘n persoon dan later in aanraking met ‘n virus kan die liggaam se immuunsisteem (witbloedselle wat soos soldate op ‘n slagveld veg teen die vyand of waak teen invalle) teenoor hierdie, nou bekende virus, reageer en verhoed dat dit replikeer en tot allerhande siektetoestande lei.
Menslike Papilloma virus (MPV), waarvan daar ten minste 190 tipes is, kan velletsels en kankers veroorsaak. Tipe 1 is verantwoordelik vir die vratjies wat kinders en soms ook volwassenes op hulle vingers en hande kan kry. Sowat 40 tipes doen hulle op die ano-genitale area voor. Daar is spesifiek tipes 6 en 11 wat genitale vratte kan veroorsaak en veral tipes 16 en 18 wat verband hou met onder andere kanker van die penis, baarmoedermond (serviks), skaamlippe (vulva), anus en keel.
Vir baie jongmense wat die virus het sal dit na ‘n ruk vanself verdwyn en hulle gaan nie eers weet dat hulle met die virus geinfekteerd is nie. ‘n Persoon kan ook MPV hê, met geen sigbare letsels nie, en die virus nog steeds aan ‘n ander persoon oordra, sonder dat hulle daarvan bewus is. Die virus is gehard teen hitte en uitdroging en is al opgemerk in die vel van die vingerpunte en onder die vingernaels.
Genitale vratte (MPV -6 en 11) word selde kankers, maar dit is lastig en lyk nie goed nie. Mense hoef nie penetrasie seks te hê om die virus aan mekaar oor te dra nie, want dit kan deur enige velkontak met die genitale area gebeur. Twee uit drie mense wat seksuele kontak het met iemand met genitale vratte sal dit dan self ook kry.
MPV tipes 16 en 18, wat met voor-kankers (pre-maligne letsels) en kankers (maligniteit) geassosieer word dring die epiteelselle van die vel en slymvliese binne, om dan die kenmerkende kankers te veroorsaak.
Daar is ‘n entstof beskikbaar wat ‘n mens beskerm teen MPV tipes 6, 11, 16 en 18 (quadrivalent) en dan ook een wat net teen MPV tipes 16 en 18 (bivalent) beskerm. Dit bevat geen lewende of verswakte virusse nie en is daarom baie veilig en effektief om te gebruik. Dit is ‘n “Virus Like Particle” (VPE) entstof. Die Wêreld Gesondheidsorganisasie (WHO) beveel ook inenting teen HPV aan.
Die bivalente entstof word vanaf 9-jarige ouderdom toegedien vir voorkoming van aanhoudende infeksie met en die voorkoming van prekankers en kankers van die baarmoedermond (serviks), skaamlippe (vulva), vagina en anus as gevolg van onkogeniese tipes MPV. Die vaksiene word in die vorm van ‘n binnespierse inspuiting toegedien. In die ouderdomsgroep 9-14 jaar is dit twee inspuiting, waar die tweede 5-13 maande na die eerste gegee word. As die persoon 15 en ouer is, word drie inspuitings gegee. Die tweede een maand na die eerste en die derde 6 maande na die eerste inspuiting.
Die quadrivalente entstof word aanbeveel vir dogtertjies en vroue van 9 -45 jarige ouderdom en seuns en mans vanaf 9 -26 jarige ouderdom. Die beste ouderdom om die entstof te neem is as jy nog nie aan MPV blootgestel was nie en daarom word veral kinders en jongmense geimmuniseer. Alhoewel die entstof wyd gebruik word in dogters en vrouens, gebeur dit nog nie so dikwels in mans en seuns nie. Die mees algemene MPV geassosieerde siekte in seuns en mans is genitale vratte en hulle moet ook beskerm word, teen die optel en oordra van die virus. Vanaf 9-13 jarige ouderdom word die entstof as 2 inspuitings gegee: een op 0 maande en dan ‘n opvolg op 6 tot 12 maande en vanaf 14-26 jarige ouderdom in mans en 14-45 jarige ouderdom in vrouens as 3 inspuitings , op onderskeidelik 0, 2 en 6 maande.
Artikel deur Dr. Etienne L Kok