1. Meer as een orgasme

Promosie

“Hoe kan ’n vrou (of wat kan ’n man doen sodat ’n vrou) veelvuldige orgasmes kry?”

DR ETTIENNE KOK, ’N MEDIESE DOKTER, SEKSUOLOOG, PSIGOTERAPEUT EN HUWELIKSBERADER, ANTWOORD: 

Daar is vroue vir wie ’n orgasme nie vanselfsprekend is nie en dan weer ander wat die potensiaal het om veelvoudige orgasmes te ervaar. Dit beteken nie dat elke vrou die behoefte aan meer as een orgasme het nie en dat sy dit elke keer wil ervaar nie. Baie vroue is meer as tevrede met een orgasme, en voel bevredig en vervul daarna.

Promosie

’n Man moet dit dan ook nie sien as ’n teken dat sy vrou nie seks ten volle geniet of dat daar iets met sy tegniek of hulle huweliksverhouding verkeerd is, as sy nie ’n behoefte het aan meer orgasmes nie.

Kenners verskil van mening daaroor, maar sê gewoonlik as ’n vrou een orgasme kan ervaar, het sy die vermoë of potensiaal om ook meer te kan ervaar gedurende dieselfde geleentheid van liefde maak. Amper die helfte van alle vroue het al in hul lewens veelvoudige orgasmes ervaar en bykans alle vroue het die potensiaal daarvoor.

Vir dié wat wel meer as een orgasme per geleentheid wil ervaar, begin dit by ’n ingesteldheid van: “Ek kan en wil meer as een orgasme ervaar.” ’n Orgasme is in wese om beheer oor jou liggaam en emosies te verloor, in jou huweliksmaat se teenwoordigheid, met sy fisieke en emosionele hulp.

Dit maak jou baie kwesbaar en vereis daarom ’n ruimte gevul met liefde, vertroue en respek. As jy daarin veilig voel, kan en wil jy dit waag om meer en dieper te gee en nog meer en ook weer te ervaar! Jy moet jouself toelaat om emosioneel en seksueel werklik intens opgewek te word, en ’n “honger” te ontwikkel wat nie met een orgasme alleen gestil of bevredig kan word nie.

Dit is ook belangrik om te onthou dat ’n man binne drie tot sewe minute van penetrasie-seks ’n orgasme sal ervaar en ook sal ejakuleer, terwyl dit vir ’n vrou tussen 10 en 20 minute kan neem. Verder is dit ook nie vir die gemiddelde vrou met net penetrasie alleen moontlik om ’n orgasme te kry nie.

Voorspel is baie belangrik in dié verband. As jou man jou klitoris met sy mond, tong en vingers stimuleer, kan dit jou al baie sterk opwerk en aanleiding gee tot ’n eerste orgasme. Daarna kan die stimulasie na ander plekke op jou liggaam beweeg, waar streling of aanraking vir jou lekker is, en dan kan hy jou ook penetreer.

Dit sal jou weer ’n stappie hoër en verder neem, wat ’n tweede orgasme en nog meer kan meebring. Terg en uitstel kan tot die intense opbou van emosies en behoeftes lei, wat dan lei tot ’n begeerte vir meer bevrediging of orgasmes.

Jou maat gee jou nie ’n orgasme nie. Dit is eerder soos “doodgaan” – jy moet dit self doen. Iemand kan jou “help” doodgaan deur jou op die regte plek met ’n geweer te skiet of met ’n mes te steek, maar die “laaste asem uitblaas” is jou eie verantwoordelikheid. Jy moet dus in die oomblik wees en bly, en jou maat toelaat om vir jou die prikkels of stimulasie te gee wat jy nodig het om jou “dood” (orgasmes) lekkerder, meer en meer intens te maak.

Wat hiertoe kan bydra, is die gewilligheid en behoefte om beheer te verloor, variasie in wyses van stimulasie en seksuele posisies, sametrekking en ontspanning van die bekkenvloerspiere en geen inhibisies nie. Die golwe van emosie, passie en genot moet onbepland en onbeheerd gery word, want dan sal jy nie anders kan as om veelvoudige orgasmes te ervaar nie.

 

2. Is pyn na meer as een orgasme normaal?

 “Is dit normaal om drie tot vier orgasmes per sessie te hê? Ek het egter seer die dag na seks – soos ’n vol gevoel. Is dit normaal?”

DR ELMARI MULDER CRAIG, ’N SEKSUOLOOG, VERHOUDINGS- EN HUWELIKSTERAPEUT, PSIGOTERAPEUT, KLINIESE HIPNOTERAPEUT EN OUTEUR, ANTWOORD:

Sommige vroue is multi-orgasmies en kan meer as een orgasme in dieselfde sekssessie bereik. Vroue het al enigiets van twee tot 35 en meer orgasmes gerapporteer. Dit is egter normaal as jy net een orgasme kan bereik of nie elke keer multi-orgasmies is nie.

Die “vol” gevoel is waarskynlik omdat jou bekkenvloer oortyd gewerk het en die bekkenvloerspiere sterk saamgetrek het. Ons praat van ’n hiperaktiewe pelviese vloer. Dit is amper soos styfheid nadat jy intens in die gimnasium geoefen het.

Jy is gelukkig as jy multi-orgasmies is, maar as die vol gevoel jou pla, stel ek voor dat jy ’n seksuoloog of een van die bekkenvloer-disfunksie fisioterapeute in my span gaan sien.

 

3. Is ’n tweede kans my beskore?

“Ek is ’n geskeide ma van twee kinders (onderskeidelik vyf en sewe jaar oud). Ek het onlangs ’n man ontmoet wat my op die hande dra en ek weet ek het ’n tweede kans op geluk, maar daar is soveel skuldgevoelens wat hiermee gepaard gaan. My kinders het my nodiger as ooit – dit voel of ek moet kies tussen my kinders en die nuwe liefde. Hoe nou?”

KOBUS EN LINDA PAUW, VERHOUDINGSAFRIGTERS EN SPREKERS BY DIE VERHOUDINGSBEDIENING CONNECTION IMPACT, ANTWOORD:

Dankie vir jou vraag. Eerstens wil ons sommer net ons opgewondenheid met jou deel oor ’n tweede kans. Ons Here is ’n Here van tweede kanse en Hy is dikwels só prakties rondom dit.

Dit is heeltemal verstaanbaar dat jy voel soos jy voel. Die skuldgevoelens kan uit verskillende hoeke beoordeel en ondersoek word. Dit kan wees dat jy voel dat jy deel was van ’n verhouding wat nie gewerk het nie en dit is die verhouding waaruit hulle gebore is, so die skuld kom omdat jy hulle van hierdie verhouding ontneem het.

Die tweede rede kan wees dat jy nou die tyd wat jy saam met hulle het met iemand anders deel. Só hulle tyd saam met jou raak minder. Jy kan selfs skuldig voel omdat jy voel dat jy nou iemand in die plek van hulle pa het. Al hierdie gevoelens is geldig en hoef nie ontken te word nie.

Ons is egter van mening dat jy hierdie gevoelens met jou vriend moet bespreek, en ook moet praat oor jou en sy verwagtings in ’n verhouding met kinders.

Jy is ook geregtig op geluk en dit kan dalk vir jou kinders baie beteken as hulle weer sien dat hulle ma geluk by iemand gevind het. Dit is egter ook belangrik dat die kinders nooit moet voel dat hulle ’n las is of dat hulle in die pad is nie.

Hulle is en bly deel van jou lewe en vir seker ook van enige nuwe verhouding waarin jy betrokke raak. Dit is van die uiterste belang dat hulle ook goeie, gesonde en sterk verhoudings moet bou met die nuwe man in jou lewe, en dit kan nie anders gebeur as met  direkte betrokkenheid in hulle lewens nie.

Jou eie geluk saam met hierdie man sal volkome wees as jy seker is van die feit dat jou kinders ook vir hom net so belangrik is soos wat hulle vir jou is.

Om dit vas te stel, vereis diep bewustelike gesprekvoering en ook die bespreking van scenario’s wat in die toekoms kan voorkom. Behoeftes en verwagtings moet duidelik gekommunikeer word. Dit is egter van die uiterste belang om dade by woorde te voeg. Gee die verhouding tyd en kyk of voldoen word aan dit waaroor gepraat is. Praat ook met die kinders en kry hulle idees en gevoelens. Moet hulle nie uitsluit nie.

As alles uitwerk soos wat jy hoop, sal die gevolg hiervan wees dat die skuldgevoelens sal verdwyn, en sal die kinders en jyself op ’n  baie goeie plek van heling en ’n nuwe begin wees.

Die antwoord lê dus in oop, eerlike en deursigtige kommunikasie, en ook die implementering en evaluering van dit wat bespreek is. Hiervoor is tyd nodig. Moenie oorhaastige besluite neem nie, daar is niks wat jou jaag nie. Jou en jou kinders se geluk hang van die implementering af.

Baie sterkte op die pad vorentoe.