“My man het geen mediese probleem nie, maar sal nooit die eerste stap neem as dit kom by seks met my nie. Hy het egter glad nie ’n probleem daarmee om te masturbeer nie. Waarom sal hy eerder wil masturbeer as om seks met my te hê?”

Promosie

DR ELNA RUDOLPH, ’N MEDIESE DOKTER, SEKSUOLOOG EN KLINIESE HOOF VAN MY SEXUAL HEALTH, ANTWOORD:

Om in ’n verhouding nooit self seks te inisieer nie en altyd van jou maat te verwag om dit te doen, is baie selfsugtige gedrag (of blote luiheid!). Dit kom nie so maklik vir almal om daardie stap te neem nie. Sommige mense is skaam en voel ongemaklik om dit te doen, maar dis ’n vaardigheid wat almal moet aanleer.

Een van die grootste redes wat ek in die praktyk sien vir ’n gebrek aan die inisiasie van seks, is depressie. Onthou, mans met depressie lyk baie anders as vroue – hulle sit nie in ’n hoekie en huil nie, maar ’n verlies aan libido is ’n baie groot rede daarvoor. Masturbasie is minder moeite as seks, so hulle mag dalk daarmee aanhou.

Promosie

’n Mens kry ook mans met narsistiese neigings, wat verslaaf is aan die kick wat hulle daaruit kry as hul vroue toenadering tot hulle soek, maar dit is nie ’n verskoning nie.

In terapie reken ons dat, indien dinge nie spontaan gebeur nie, ’n mens beurte behoort te maak om seks te inisieer. Kommunikasie is natuurlik baie belangrik. As jy dit al duidelik aan hom gekommunikeer het dat dit vir jou belangrik is dat hy ook seks moet inisieer en hy verander nie, sal julle iemand moet sien. Daar is miskien diepliggende sielkundige probleme wat hom terughou.