Ek en my man is al ses jaar lank saam, en vier jaar hiervan getroud. Ons het ook ’n pragtige vierjarige seuntjie. Ons probleme het begin sedert my seuntjie gebore is.

Promosie

My man het op kletswebwerwe begin gaan en pornografiese flieks op sy telefoon begin kyk. Hy sit tot drieuur, vieruur soggens en televisie kyk. Ons gaan lê nooit meer saam nie, hy is getroud met die televisie. Ek het hom al voorheen gelos en hy het my gesmeek om terug te kom. Dit is nie ons enigste probleem nie – my man mishandel my verbaal, só dat die see my nie kan afwas nie. Ek wil nie meer saam met hom inkopies gaan doen nie, want hy sal stilstaan en my verskreeu voor al die mense in die winkel. Hy help nie met ons kind nie en plak hom voor die televisie neer. Ek het al my trouring op die televisie vasgeplak en die ring het daar gebly tot my seuntjie dit gesien het. Elke keer as hy begin baklei, neem ek my kind en ons gaan speel buite of in sy kamer. Is dit verkeerd om te smag na ’n ander man? Ja, my man is goed vir ons, maar ’n mens kan net soveel hanteer. Ons was al talle kere uitmekaar. Ek gril as my man aan my raak. Ek wil hom nie soen nie. Ons het al alles probeer en vir berading gegaan. Ons het “date nights” beproef, asook die 30-dae bedpret-uitdaging. Ons het al speelgoed gekoop en alles, maar ek voel dieselfde. Ek kan hom nie vertrou nie en hy jok alewig vir my oor alles. Hoekom smag ek na ’n ander man wat my weer soos ’n vrou kan laat voel en ’n pa kan wees vir my kind? My man sal uit sy pad gaan om enkellopende vroue te help en met hulle gaaf te wees, maar hy hanteer my soos ’n skroplap.

Kobus en Linda Pauw, verhoudingsafrigters en sprekers, sê:

Dit is nie ’n eenvoudige antwoord nie, maar dit is dalk ’n moeilike een om te verwerk.
Eerstens moet ons dit net duidelik stel dat almal kan smag na ’n verhouding in hulle huwelik waar daar geluk, ondersteuning, vrede, liefde, vrede en veiligheid is.

Promosie

As ons jou verhaal lees, is daar een ding wat baie duidelik uitstaan en dit is dat die probleem begin het met die aankoms van julle seuntjie. Dit blyk ook dat julle dalk nie lank gewag het om met ’n gesin te begin het nadat julle getroud is nie. Hierdie stappe sou ekstra druk op julle verhouding geplaas het en sou ook veroorsaak het dat julle meer op julle seuntjie sou fokus as op julle eie verhouding. Hierdie is ’n baie algemene probleem wat ontstaan in huwelike waar kinders begin deel vorm van die huishouding.

Gewoonlik skuif die aandag van die ma na die kind en sy het regtig nie meer krag of energie aan die einde van die dag om aan haar man te gee nie. Die band wat tussen die ma en haar kind is, is baie sterk en die pa verstaan dit nie altyd nie. Geen pa het al lewe in hom voel groei nie en het nog nooit vir nege maande daardie hegte band gebou met ’n kind soos wat ’n ma bou nie. Die ma se uitkyk op die huweliksverhouding begin dus verander, waar die fokus baie meer op die kind/ers val.

Die probleem is dat die pa nie verander het nie en dat hy nog steeds dieselfde is as wat hy was voor die tyd. Sy verantwoordelikheid het verander, maar sy behoeftes aan aandag en omgee en koestering is nog steeds dieselfde. Die ma het ook hierdie behoeftes, maar die kind kan baie maklik hierdie rol en behoeftes vir haar vervul. Sy voel dus dat die pa na homself kan omsien. Hy is mos groot genoeg om dit te kan doen en hy kan tog sekerlik sien dat die kind meer aandag verg as wat hy nodig het. Vir ’n man is dit egter nie so eenvoudig nie en mans praat nie graag oor hierdie gevoelens van hulle nie, want dan lyk dit asof hulle afhanklik is van iets en “dit kan tog nie”. Hulle voel maklik uitgesluit as hulle nie gevra word om te help nie.

Hulle sal hulself ook nie noodwendig op die terrein van die ma en kind begewe nie. Baie pa’s voel byvoorbeeld dat hulle nie die baba kan bad nie, want netnou maak hulle die baba seer. Só hulle onttrek hulself uit die area waar die ma en kind is. Hy moet teruggetrek word in hierdie area en moet deel voel van wat daar aan die gang is. Die probleem is egter dat al gebeur dit dat hy ingetrek word, bly sy onaangespreekte behoeftes nog steeds staan en sal dit nie verdwyn as hy nie daaroor praat nie.

Die behoeftes raak meer en as die spasie tussen die man en sy vrou nou nog boonop onveilig geraak het omdat daar geen gesprek of kommunikasie meer is nie, sal die man onttrek. Hy sal dan sy behoeftes wil aanspreek op ander plekke en op ander maniere. Hy sal plekke en selfs mense soek om hierdie behoeftes aan te spreek. Daar is verskeie maniere hoe dit gedoen kan word. Voorbeelde is om jouself in werk of stokperdjies in te gooi, of dan ook in meer ongesonde dinge soos pornografie of om vriendskappe met ander mense van die teenoorgestelde geslag aan te knoop, soos wat jou man gedoen het.

Dis interessant dat die man baie keer nie weet hoe om hierdie behoeftes te kommunikeer nie, en dan begin hy sy negatiewe ervarings en emosies op sy maat projekteer. Só hy sal dan verbaal afbrekend raak en op maniere optree wat jou glad nie aanstaan nie of jou dalk sal seermaak. Die gedagte agter hierdie optrede is egter die teenoorgestelde as waaraan hy uiting gee. Hy soek eintlik ’n konneksie met jou, maar weet nie hoe om dit vir jou te vra op die gewone mooi manier nie, want dit het vir ’n ruk nie gewerk nie. Nou doen hy dit op ’n destruktiewe manier, want daar is dan wel ’n konneksie met jou, of dit nou sleg is of nie.

Sy onderbewussyn sal hom oortuig dat in hierdie destruktiewe kommunikasie die moontlikheid opgesluit lê dat julle weer ’n konneksie kan hê soos in die begin. Alhoewel dit moontlik sy optrede kan verduidelik, moet ons dit tog duidelik stel dat afbrekende optrede en verkleinering in die openbaar en privaat nooit geregverdig kan word nie. Dit wat hy aan jou in die openbaar doen, is onaanvaarbaar – dit maak nie saak hoe ’n goeie verduideliking hy daarvoor het nie.

Die dinge wat jy probeer het om julle intieme lewe aan te spreek was goed, maar ons is van mening dat sy behoefte dalk eerstens emosioneel is en dat die intieme seksuele verhouding vir hom kan leeg voel as daar nie ’n emosionele konneksie is nie. Dit is dalk hoekom dit nie gewerk het nie. Ons raad is dus om dalk net te besef dat jou man nie met jou alles gedeel het wat hy ervaar het nie en dat hy nie weet hoe om dit te kommunikeer nie. Hy wil met jou praat, maar het geen idee hoe om dit te doen nie en daar is nie veiligheid tussen julle wat dit vir hom maklik maak om dit te kan doen nie.

Maak ’n afspraak met hom, en verduidelik dat jy hom dalk vir baie lank nie raakgesien of sy behoeftes raakgesien het nie. Vra hom om saam met jou iemand te gaan sien om hieraan te werk sodat julle mekaar kan hoor. Ons glo dat die man wat jy soek in jou verhouding alreeds met jou getroud is. Julle moet mekaar net weer ontdek.