“Ek wil graag weet wat jy sou aanbeveel vir ’n lae libido? Ek het vir bloedtoetse gegaan en daar is gesê dat my testosteroonvlakke laag is. Wat beteken dit? Ek voel nie gemaklik met die inspuit van testosteroon nie. Is daar iets anders wat ek kan gebruik?”
Wilmé Steenekamp, mediese dokter, seksuoloog en sielkundige, antwoord:
Lae libido kan ’n baie eenvoudige oorsaak hê of baie kompleks wees. My gevoel is dat mens nooit jou libido moet probeer forseer nie – dis dalk ’n boodskap van êrens in jou liggaam af waarna jy moet luister en op moet reageer. Hier volg die algemeenste oorsake van ’n lae libido by vrouens:
- Stres/angstigheid of depressie.
- Medikasie, bv. die meeste antidepressante, sommige pynpille en sommige voorbehoedingspille.
- Onderliggende emosionele haakplekke in die verhouding of diep in jouself gebêre.
- Ongemak tydens seks, bv. as jy ’n vaginale ontsteking het, vaginismus, verhoogde spiertonus in jou bekken het of lae estrogeen (met veroudering) het.
Die toediening van testosteroon vir vrouens is nog nie goedgekeur deur die Raad van Voedsel- en Medisynetoediening nie en is beslis nog nie goed genoeg nagevors nie. As jy dit gebruik, sal dit beslis veroorsaak dat jy aknee, harigheid en moontlik ’n dieper stem kry!
Die heel beste raad is om by ’n professionele persoon uit te kom wat al die fasette van die komplekse probleem kan bekyk en ’n pad na herstel saam met jou kan loop. Probeer intussen maats maak met jou eie lyf, hou jou kop reg ingestel en doen jou pelviese spier (kegel)-knypoefeninge.