Jy is verloof en op die vooraand daarvan om ’n huisverband en begroting met jou maat te deel. Tog is finansiële beplanning láág op menige verloofde paartjies se prioriteitslyste.
Die wolke is van spookasem en die berge is van bubbly (hoewel jy daardie twee dinge nie náby jou lippe durf bring nie). Jy en jou aanstaande droom oor die troudag, die wittebrood en hoe mooi julle cottage-styl huisie gaan wees. Julle vry in die maanlig en jy glo dat niks méér perfek kan wees as nou nie. Jy gril sommer by die gedagte dat julle nou iets so onromanties soos geldsake moet bespreek… maar of jy dit wil weet of nie, dit is broodnodig!
Jou maat mag jou dalk verras…
“Die dag toe ek my heel eerste salaristjek huis toe vat, was daardie tjekkie my declaration of independence!” vertel Angelique, ’n reisagent. “Vir die eerste keer ooit het ek regtig finansiële vryheid ervaar, maar ek was te jonk om mooi te besef waaroor dit gaan.” Maar daardie “vryheid” het aanleiding gegee tot onbeheerste besteding en kort voor lank kon haar salaris nie meer haar leefstyl dra nie.
Voor Angelique haar oë kon uitvee, het sy meer as R30 000 se kredietkaart- en klererekening-skuld gehad. “Die dag toe ek besef in watter finansiële krisis ek myself gedompel het, was dit reeds te laat. Ek kon skaars my paaiemente betaal, om nie te praat van die skuld nie.” Toe Jaco in die prentjie kom, het Angelique haar skuld vir hom probeer wegsteek.
Hulle het later verloof geraak en een dag het hy een van haar rekeninge sien rondlê. Angelique het hom noodgedwonge van haar krisis vertel. “Ek was so bang hy kies die hasepad. Wie wil opgeskeep sit met ’n vrou wat haarself eerstens nie kan beheer as dit by geldsake kom nie en tweedens daaroor jok? Maar Jaco was wonderlik. Hy het by my kom sit en ons het saam ’n plan uitgewerk. Ons altwee het cut-backs gemaak en stukkie vir stukkie my skuld terugbetaal.”
Toe hulle nege maande later getroud is, kon hulle skoon begin en, vertel Angelique: “Ek het soveel meer agting gehad vir hierdie man wat bereid was om op te offer om my uit die moeilikheid te help – selfs nog voor ons getroud was. Dit was letterlik ’n duur les vir my, maar ’n wonderlike toets vir my en Jaco se huwelik, selfs nog voor dit begin het.”
’n Saak van vermyding
Ongelukkig vermy die meeste verloofde paartjies die onderwerp van finansies. Sielkundiges meen dat paartjies oor enigiets sal praat – selfs oor seks – voordat hulle geldsake bespreek. Daar word geskat dat geldsake die dryfkrag agter 90% egskeidings is. Maar meer as die helfte van verloofde pare het blykbaar ’n negatiewe houding wat die bespreking van geldsake met hul toekomstige lewensmaats betref.
Een rede is dat paartjies voel “die liefde oorwin alles” of “ons sal daardie brug oorsteek as ons daar kom”. Verloofde paartjies leef in ’n toestand van euforia, maar die bom bars gewoonlik ná die opwinding van die troue en wittebrood verby is. Dus het jy en jou aanstaande ’n plan nodig om deur kinders (ja, hulle is dúúr), huise (hulle óók!) en aftrede te kom sonder bekommernisse.
Trent Bryson, ’n finansiële adviseur van Long Beach, werk dikwels met jong paartjies en help hulle om hul gevoel van “onuitwisbaarheid” te oorkom. “Twintig- en dertigjariges sien hulself selde as kandidate vir ongelukke, langtermyn siektes of die dood,” verduidelik hy. “Maar as jy jou huweliksmaat en kinders finansieel wil beskerm, moet jy meer vatbaar wees vir die opstel van testamente en die koop van versekering.”
Hoe kan jy en jou verloofde finansieel slim optree?
- Speel oop kaarte. Jy mag dalk dink dat jou skuld of bestedingstyl jóú saak is, maar sodra julle getroud is, sal jy baie gou sien hoe dit julle as paartjie gaan beïnvloed. Lê eerder alles nou op die tafel (en bieg as jy ’n big spender is!) sodat julle ’n plan in werking kan stel. Wys jul kredietrekords vir mekaar en bespreek dit, sonder om te oordeel.
- Hê ’n openlike gesprek oor geldwaardes. Bespreek jul grootwordjare. Was julle armoedig en draai jy vandag nog jou sente om daaroor, of wil jy ekstra hard werk en soms onnodig bestee om daardie gevoel van tekort téén te werk? Wil julle jul kinders eendag na privaat skole toe stuur? Wil julle vroeg aftree?
- Bespreek jul bestedingstyle en bekommernisse. Is jy iemand wat eerder spaar of bestee? Hoe voel jy oor afhanklikheid? As jy altyd baie onafhanklik was, sal dit dalk vir jou vreemd voel om “versorg” te word. En as jy baie bates het, is jy moontlik bekommerd oor jou toekomstige maat se bestedingstyl.
- Gaan sien saam ’n finansiële adviseur. Só iemand neem jul inkomste, leefstyl en doelwitte in ag en help julle om die regte compromises te maak om daardie doelwitte te bereik. Vra die adviseur om julle te help om ’n begroting op te stel.
- Kry ’n ritme wat finansies betref. Dit is natuurlik dat een van julle die leiding sal neem wat jul finansies betref, en dit hang gewoonlik af van jul finansiële ervaring of beroepe. Julle kan elkeen ’n afsonderlike rol speel. As jy detail-georiënteerd is, kan jy die begroting doen. Die ander een kan byvoorbeeld jul portefeulje bestuur.
- Leer om mekaar onvoorwaardelik te vertrou. As julle besluit om afsonderlike rekeninge te hê, sal julle mekaar moet vertrou om nie bo jul vermoëns te bestee nie, nie skuld te maak nie en vrygewig teenoor mekaar op te tree.
Besluit nou reeds om ’n deursigtige verhouding met jou maat te hê. Jul houding oor jul finansies kan ’n goeie toets van vertroue vir jul huwelik wees en dis ook ’n wonderlike manier om nóg ’n faset te ontdek van die maat wat jou skoenlappers in die maag gee!
Deur Annelize Steyn