Vandag leer ons jou hoe om manlief se ywerigste cheerleader te word. Prys hom en moedig hom aan en kyk hoe jou huwelik in tien dae verander…

“Gmf, hoekom moet ék altyd die komplimente uitdeel, terwyl my man níks doen om vir mý te cheer nie?” As dít is hoe jy dink, rus in die wete dat jy beslis nie die enigste leser is nie! Ja, hierdie resep verg ’n skeut onselfsugtigheid en ’n goeie eetlepel onvoorwaardelikheid – soos God inderdaad van ons verwag. Ons word grootgemaak om kritici te wees, skryf Jeanette en Robert Lauer in hul boek Intimacy on the Run (nie meer in druk nie). Hulle vertel dat navorsers die interaksie tussen ouers en hul kinders dopgehou het en gevind het dat heelwat meer woorde van kritiek gelewer word as woorde van aanmoediging. Dit is dus te verstane dat baie mense ’n huwelik binnetree, toegerus om krities te wees, maar met ’n onderontwikkelde idee van wat dit verg om ’n cheerleader te wees. Verander dit vandag nog en kyk hoe jou huwelik verander…

Dag 1: Begin met ’n sterretjie per dag!

Maak ’n prestasiekaartjie vir jou man, waarop jy net sterretjies mag plak elke keer as hy oulik was en ’n prestasie behaal het. Sy “prestasies” kan enigiets insluit: Van sukses by die werk tot ’n nuwe vaardigheid, die manier waarop hy konflik ontlont het of ’n moeilike situasie goed hanteer het. Probeer om elke dag so iets raak te sien, ’n ster te plak en ’n opmerking daaroor te maak. Los die kaart in sy bedkassie se laai. Hou hiermee aan vir jou 22-dae tydperk.

Dag 2: Stel die kompliment-stelsel in werking

Jou man is dalk so selfversekerd dat jy voel hy het nie komplimente nodig nie, maar jou woorde kán die wêreld se verskil in jou huwelik maak. Dag 2 se uitdaging verskil van dag 1 s’n deurdat manlief nie hoef te “presteer” vir jou woorde nie. Hy kan bloot wees wie hy is. Jou komplimente kan iets algemeen wees, soos: “Ek hou van die manier waarop jy ons kinders met soveel oorgawe groet.” Begin vandag met ’n kompliment per dag.

Dag 3: ’n Les in goeie maniere

Namate ’n mens langer getroud is en jou maat as vanselfsprekend aanvaar (en hom soms selfs sien as deel van die meubels!), kan daar tye kom wat goeie maniere deur jou vingers glip. Probeer van vandag af onthou om behoorlik (en sonder om te mompel) vir jou maat “baie dankie” en “asseblief” te sê. Dit wys hom jy respekteer hom en dit sê: “Ek gee om vir jou en ek is sensitief vir jou behoeftes.”

Dag 4: Ondersteun sy ventures

Agter elke man met die gees van ’n entrepreneur, staan dikwels ’n gefrustreerde vrou! Maar wees geduldig, want saam met die geboorte van ’n idee kom ’n gevoel van sukses en dít verrig wondere aan ’n man se selfbeeld. Het jy in die verlede sy stokperdjies afgeskiet? Kanselleer vandag jou woorde deur hom aan te moedig om dit te hervat!

Dag 5: Bederf hom met comfort food

Kook vanaand vir hom sy gunsteling ete (kompleet met poeding en al). Jy sal dit nie glo nie, maar iets so eenvoudig soos spaghetti bolognaise kan jou man die boost gee wat hy op daardie oomblik nodig het. Nie net omdat dit vir hom lekker is nie, maar omdat hy spesiaal voel omdat hy weet jy het dit nét vir hom gemaak!

Dag 6: Spog met hom!

Ons hou nie daarvan om soetsappig te klink nie en en jy wil ook nie heeldag vir mense vertel hoe oulik jou man is nie (want almal wil dit nie hoor nie!), maar dit is belangrik om van tyd tot tyd met hom te spog – terwyl hy jou kan hoor. Bel vanaand sy ma en vertel haar watter oulike seun sy grootgemaak het (terwyl hy binne hoorafstand is).

Dag 7: Bid vir hom

As jy die ondersteuner van ’n span is (hetsy in sport of by die werk of wat ook al), bid jy mos dat jou “span” goed sal doen. Ons is so geneig om “onskuldig” teenoor vriendinne te kerm oor ons mans se geite. Maar as daar iets is wat jou irriteer, vertel dit van vandag af vir God in plaas van vir jou vriendinne. Bid vir onvoorwaardelike liefde.

Dag 8: Vier die goeie tye

Ja, daar gaan kere wees wat manlief gaan presteer en soos ’n wenner sal voel. Maak ’n big deal daarvan! Bak ’n koek, bederf hom in die bed… sorg dat hy weet hoe lekker dit vir jou is om sy vreugdes met hom te deel. En weet jy wat? Soms hoef hy dit nie eers te verdien nie. Vier vanaand die feit dat julle huwelik gespaar gebly het tot nou toe!

Dag 9: Erken sy talente

Elkeen het ’n begeerte om op die een of die ander gebied uit te blink, en dit is gewoonlik waar ons geplaas is om gebruik te word tot God se eer. Jy het só ’n groot mag oor jou maat se hart. Jy kan sy hart vernietig deur hom te ontmoedig en sy vermoëns in twyfel te trek, of jy kan sy talent raaksien en hom help om sy doel op aarde te bereik. Maak vandag daardie kopskuif.

Dag 10: Erken sy pogings

Alles wat hy aanpak, gaan nie altyd suksesvol wees nie. Dit is dalk ook die derde jaar in ’n ry wat jy ’n serp met ’n dieremotief kry… maar waardeer die feit dat hy probeer. Hy gaan baie dinge in sy lewe probeer en hy gaan dikwels in sy lewe misluk (soos die meeste van ons), maar die feit dat hy probéér behoort vir jou meer as genoeg te wees. Sê vanaand vir hom dankie hiervoor.

Kyk na die verandering in jou man wanneer dié tien dae verby is. Is jý sy grootste fan? Is jý die een wat hom soos ’n million bucks laat voel? As jy nie is nie, bid vir insig en kreatiwiteit sodat jy dit kan regkry. ’n Man wat voel asof hy sy vrou se eerste prioriteit is, is ’n gelukkige en dankbare man!

 

Deur Annelize Steyn