Uiteindelik het jou skapie die jawoord gevra en daar blink ’n skattige klippie aan jou ringvinger! Jy wil met ’n megafoon deur die strate paradeer, dit op e-pos, Facebook, Twitter, Pinterest en Whatsapp verkondig. Wees opgewonde en deel jou nuus, maar moet asb. nie die volgende 16 dinge doen nie . . .
Dis ’n dol tyd, ons weet. Jy het gedink die dag gaan nooit kom nie en nou dat dit hier is en jy ’n vars geringde dame is, voel dit of daar nie genoeg tyd is vir alles wat gedoen moet word voor die groot dag nie. Skielik is jy opgewonde en benoud en alles deurmekaar! Moet net om hemelsnaam nie:
- . . . ’n nuwe dak soek nie! Tensy dit regtig nodig is, vermy dit om ’n nuwe huis te soek. Jy het nie daardie addisionele stres in jou lewe nodig nie. Dit gaan net jou lewe kompliseer en jou mal maak! En dit gaan ’n goeie teug uit jul begroting neem (wat jy nie in hierdie stadium nodig het nie).
- . . . vinniger praat as wat jou brein kan dink nie. Almal weet troues is duur en uiteraard kan jy nie noodwendig álmal nooi wat jy graag daar sou wou gehad het nie. Vermy dit om oor jou troue te klets met mense wat nie genooi gaan word nie.
- . . . skuld maak nie. Jy droom al oor jou groot dag sedert jy ’n klein dogtertjie was. Onthou, jy kan jou dag ekstra spesiaal maak, selfs op ’n knap begroting. Om derduisende rande se skuld aan te gaan net om ’n swierige troue te hê, is nie die moeite werd nie. Skuld bring stres, veral in ’n huwelik.
- . . . op ’n pre-honeymoon gaan nie. Vergeet van daardie cruise met die cocktails waarop jou vriendinne jou probeer saamsleep. Spaar jou sente! Jou troue gaan jou waarskynlik heelwat duurder kos as waarop jy gereken het – dit doen altyd – en jy gaan elke ekstra paar rand nodig hê.
- . . . ophou date Noudat julle verloof is, raak jy só besig dat daar nie meer ’n minuut oorbly vir jou kêrel nie! Moenie uit die oog verloor dat julle twee steeds in ’n verhouding is nie (al kies jy die kleur, die koek en die DJ!). Om te date terwyl julle verloof is, hou die vonk daar. Onthou dit ook ná julle getroud is!
- . . . mal gaan met jou navorsing nie. Ons weet dit is ietwat verslawend, maar terwyl jy op die Internet surf, lyk die een prentjie mooier as die ander en jy raak só bang dat jy iets mis dat jy voor jy jou oë uitvee tot drieuur soggens voor die skerm sit. Jy het jou beauty sleep nodig!
- . . . jou sensitiwiteit verloor nie. Daar is dalk vriende en vriendinne wat deur ’n moeilike tyd gaan wat verhoudingskwessies of selfs egskeiding aanbetref. Vertel hulle gerus van jou verlowing, maar wees sensitief teenoor dít wat hulle dalk mag deurgaan.
- . . . ’n troeteldierwinkel binnestap nie. Okay, jy is nou al só lank broeis en die gedagte om binnekort ’n baba te hê, raak ’n lieflike realiteit! Moet egter nie enige vorm van lewe in dié stadium aankoop nie. ’n Klein Basset ís oulik, maar wie gaan die klein hush puppy oppas as julle op honeymoon is?
- . . . ophou praat oor die alledaagse nie. Jy voel soos ’n prinses en moet nou glansryke besluite neem, maar moenie die girl next door in jou vergeet nie. Dit is nodig dat jy en jou verloofde steeds oor jul dag gesels. Die klein dingetjies is op die lange duur dít wat saak maak.
- . . . aanhou kyk na rokke as joune in jou kas hang nie. Jy het jou droomrok gekry. Daar sal waarskynlik altyd rokke wees wat vir jou mooier is as dié een, maar as jy verder gaan soek, gaan jy net spyt wees en al minder tevrede wees met jou keuse.
- . . . vergeet julle is twéé nie! Jy dink dalk jou aanstaande se smaak laat veel te wense oor en jý is die queen van hierdie besluitnemingsproses, maar laat hom betrokke voel. Vra hom wat sy non-negotiables is en laat sekere besluite (soos die liedjielys) aan hom oor, en bly in voeling met sy visie vir die troue.
- . . . al jou geheime verklap nie! Ja, daar moet ’n paar verrassings wees. In ’n oomblik van opgewondenheid share jy dalk iets op sosiale media, net om ’n paar oomblikke ná die tyd te besef jy het een van die grootste verrassings van jou troudag vir ’n hele klompie gaste (en jouself) bederf!
- . . . probeer om al jou strooimeisies tevrede te stel nie. Betrek jou maid of honour by jou besluite en vertel die res vriendelik wat jy van hulle verwag om aan te trek. Die oomblik wat jy vra en sewe meisies met verskillende voorkeure en verskillende lywe elkeen hul menings gee, gaan jy spyt wees jy het dit gedoen.
- . . . die nitty gritty-take bly uitstel nie. Jy sal veel eerder daardie tyd wil bestee deur China Town plat te trap op soek na geskenkies vir jou gaste, maar net soos in ’n huwelik is daar ook soms die minder lekker admin wat afgehandel moet word.
- . . . so opgesweep raak dat jy al die pret misloop nie. Dit ís stresvol. Jy is só bekommerd dat jy die verkeerde besluite neem dat niks meer lekker is nie. Jy is só bang dat die familie en skoonfamilie gaan koppe stamp dat jy ’n maagseer ontwikkel. En só benoud dat jy ’n kilogram gaan optel dat jy nie eers proe hoe jou troukoek gaan smaak nie! Ontspan en geniet hierdie tyd . . .
- . . . toelaat dat die stres jul verhouding ’n knou gee nie. Julle is albei op jul senuwees, maar moenie in só ’n Bridezilla verander dat jou aanstaande begin dink hy het die grootste fout in sy lewe gemaak om jou te vra om te trou nie.
En onthou, dit mag dalk die belangrikste en mooiste dag van jou lewe wees . . . maar die dag wat jou eerste kind gebore word, oortref dit gou. En daarna jou tweede kind se geboorte! Moenie die groter prentjie uit die oog verloor nie. Jou troudag duur net 24 uur, jou huwelik is ’n leeftyd lank. Gaan dít waaroor jy jou nou bekommer en nou ’n mini-tantrum gooi steeds saak maak as die laaste gaste by jou troue vertrek?
Addisionele bronne: www.huffingtonpost.com, www.brides.com, www.love.allwomenstalk.com.
Deur Annelize Steyn