Ek en jou seun gaan nou al drie jaar uit en dit klink vir my hy het jou uiteindelik sover gekry om die family stone af te staan sodat hy dit aan my vinger kon steek. (Goeiste, was dit ’n mission! Mens sou sweer dis die Cullinan-diamant daardie.)

Promosie

Persoonlik dink ek dat sodra ons gekerk is, ek ’n bietjie aan die ring gaan laat chop en change. Jy weet, ek is nie juis een vir antiques nie . . . maar dankie anyway dat jy toe nou die ou ringetjie vir hom gegee het. Eintlik wil ek ook net dankie sê vir die mooi manier waarop jy Kerneels grootgemaak het.

Weet jy, hy ken die verskil tussen ’n eierspaan en ’n spaghetti-lepel en dit is al wat tel, want ek kan nie eers toast maak sonder dat die brandweer voor ons huis stilhou nie. (Het hy jou gesê ek het Saterdagaand by hom ingetrek? Ek weet hy wou nie, want hy sê jy het issues met saamblyery, maar ek het vir hom gesê ek weet sommer dit sal cool wees met jou, want jy was mos deel van die hippy generation – ek belowe jou ons protection is in plek.)

Dankie ook dat jy hom geleer het hoe om klere te stryk, want ek doen nie daardie ding nie. Hy is ordentlik, hoor! Hy maak selfs die badkamerdeur toe as ek daar binne is, al sê ek hoeveel keer vir hom ek het nie ’n probleem met nudity nie… ek kom mos eintlik uit ’n hele family vol nudiste (en met my vorige job het ek regtig geleer om my sexuality te embrace).

Promosie

Nou ja, op die punt van family en sexuality, ek dink nie ek en my babes gaan die family do hierdie maand maak nie. Ek is nie juis ’n girl vir sulke goed nie en roughing it is nie my scene nie. Kerneelsie sê die krag gaan partykeer af daar by julle op die plaas en ek love my straightener, so daardie ding gaan nie vir my werk nie. Maar hopelik sien ons julle op die troue of die eerste baby se doop – whichever comes first!

Liefde hier uit Gauteng, jou aanstaande skoondogter, Candy.

NS: Moeksie – kan ek jou maar Moeksie noem? Maybe moet ek daardie ou ringetjie pawn shop toe vat. Ek is ’n bietjie laag op cash vir my nuwe implants, en jy weet, in my lyn het ’n mens hulle nodig om op te beweeg…

Stel jou in jou aanstaande skoonma se skoene

Het jy seuns? Stel jou voor dat jou oudste lieflingkind eendag met ’n Candy huis toe kom wat vir jou só ’n ou epossie skryf? Dit sal jou help om jouself in jou aanstaande skoonma se skoene te stel en vir eers jou beste voetjie voor te sit. Of jy jou skoonouers gaan beïndruk, hang af van hoe jy jouself aan hulle gaan voorstel.

En ja, daar is sommige mense wat vampiere vir skoonouers het en dan is daar ander wat glo hul skoonouers het uit die hemel geval. Hoe dit ook al sy, jy kan ’n ver pad stap met die regte gedrag en stappe om jou aanstaande skoonouers se harte te wen!

Tien wenke vir hoe om jou aanstaande skoonouers te beïndruk

WENK NOMMER 1: Wanneer jy hulle vir die eerste keer ontmoet, los jou biker gear by die huis! ’n Ligte somerrokkie behoort die ding te doen (mits die soom en hals skaflik is). Wees ook versigtig vir té veel grimering wat jou vals kan laat lyk. Los dus die oogomlyner en neusring by die huis en gaan vir die girl next door look.

WENK NOMMER 2: Hou die parfuum aan die ligte kant. Ja, jy wil lekker ruik, maar jy wil nie hê jou aanstaande skoonouers moet jou ruik voor hulle jou sien nie.

WENK NOMMER 3: Onthou die maniere wat jou ma jou geleer het. Sê “asseblief” en “dankie” en “tannie” as jou skoonma-hulle boere van Pofadder is. Komplimenteer die afval en vertel jou aanstaande skoonpa sy mielies is mooi – dan het jy die stryd halfpad gewen!

WENK NOMMER 4: Soek gedeelde belangstellings. Jy dink dalk jy en jou aanstaande skoonouers verskil wêrelde van mekaar, maar let op na dinge in die huis of onderwerpe wat bespreek word en iewers sal jy iets raaksien wat julle deel of waaroor julle saamstem.

WENK NOMMER 5: Dié enetjie is waarskynlik vanselfsprekend, maar hou jou alkohol-inname dop aan die etenstafel. Geen skoonouers sien ’n toekoms vir hul seun as hul skoondogter teen drieuur op ’n Sondagmiddag op die keurig gedekte tafel tussen die Royal Albert-koppies wil ronddans nie!

WENK NOMMER 6: Wys hulle dat jy goed vir hul seun sal sorg. Daar is baie skoonouers wat ’n skoondogter talle klein goedjies sal vergewe, mits hulle weet sy is waarlik lief vir hul kind. So, laat hulle verstaan jy dra sy belange op die hart, dat jy hom sal versorg en so nou en dan sal bederf!

WENK NOMMER 7: Dink só daaraan: Jy steel jou aanstaande skoonma se seun by haar. Wat jy nié wil doen nie, is om dit in te vryf. So, moenie aan hom hang nie. Moenie maak of jy beter weet as sy nie (“Danie is deesdae liewer vir carpaccio as vir skaapboud!”), en as Danie een van die vroue in sy lewe se hulp nodig het vir iets gedurende jul kuier daar, moenie haar probeer voorspring nie.

WENK NOMMER 8: Praat van kleinkinders (dit is nou mits jy kinders wil hê – jy wil hulle nie om die bos lei nie). Elke ma sien ’n skoondogter as die weg na kleinkinders en as jy jou skoonouers wil opgewonde maak oor jou teenwoordigheid, wees opgewonde oor kinders kry!

WENK NOMMER 9: Reg, jy wil beïndruk, maar probeer om dit te doen deur jou warm persoonlikheid en nié deur jou kwalifikasies, jou ouers se wynplaas of jou vermoë om die korporatiewe leer op te klim (ongeag wát-ook-al) nie. Bly nederig.

WENK NOMMER 10: Byt op jou tong met die troureëlings. Hul seun trou en vir seker sal hulle hul mening wil gee. Jy sal by tye geïrriteerd raak, want hulle is van ’n ander generasie! As dit kom by jou eie ma, kan jy reguit praat, maar met jou skoonouers sal jy dalk maar soms op jou tong moet byt. Jou verhouding met hulle is kosbaarder as die feit dat hulle die letters op die plekname grys in plaas van off-white wil hê.

Enige voornemende skoondogter wat meen: “Ek trou met hom, nie met sy familie nie,” was nog nooit getroud nie en sit die pot lelik mis! Ja, julle gaan jul eie lewens lei, maar as jy vir een oomblik dink dat jou skoonfamilie nie ’n rol in jou lewe gaan speel nie, maak jy ’n reuse fout. Hulle is sy bloed en die beste ding wat jy kan doen vir jouself én vir jou aanstaande, is om vir hulle lief te wees – onvoorwaardelik en onbeperk.

Artikel deur Annelize Steyn