Jou en manlief se lewens voel dikwels soos ’n wipwaentjie-rit of, nog erger, ’n sneltrein wat net nooit tot stilstand kom nie. Daar is net elke aand “iets” belangriks om te doen. Miskien is ’n “vas” wat jou huwelik nodig het …
As ma pak jy kosblikke, beplan jy etes en help leer jy 12x-tafels. Jou man se selfoon lui saans onophoudelik. Wáár in dit alles maak julle tyd vir mekaar en om saam by God uit te kom? Wees gerus: Julle is beslis nie die enigste paartjie wat voel daar is net nie genoeg tyd nie! Wat julle nodig het is ’n aksieplan, ’n tipe “vas” van minder belangrike dinge in julle lewe sodat tyd saam met mekaar en saam met God weer nommer een kan wees.
Wat beteken dit om te vas?
Om te vas en te bid is een van die kragtigste dinge wat Christene kan doen. Stormie Omartian, gewilde skrywer en kenner op die gebied van gebed, beskryf vas in The Power of a Praying Life as die proses om met opset jouself te weerhou van kos vir ’n spesifieke tyd, sodat jy jou rug kan draai op dit waarna die vlees smag en eerder op God kan fokus. Volgens haar help die vas-proses jou om groter kennis van God te kry en die kragtige werk van die Heilige Gees in jou lewe te vermeerder.
“Wanneer jou lewe buite beheer voel, sal dit help om te vas en te bid en dit só weer onder God se beheer te bring,” skryf Stormie. Dit is ’n geskenk van God en sal elke aspek van jou lewe positief beïnvloed. Sy glo dat as jy ’n las van jou skouers moet afkry of ’n deurbraak nodig het, moet jy vas en bid.
Miskien moet jy en manlief vir ’n maand lank dié dinge wat verwydering tussen julle en ook tussen julle en God veroorsaak, oorboord gooi. Hoewel dit nie so maklik is om alles waarvan jy afhanklik is net stop te sit nie, kan julle sáám werk en mekaar ondersteun ter wille van jul huwelik.
Waarheen gaan ons tyd?
Volgens dominee Frans Burger, studentepredikant by die NG Kerk Bult in Potchefstroom, is dinge soos moegheid, werk, kinders en sosiale geleenthede soos braai saam met pelle, eerder as om alleen te kuier, van die mees algemene goed wat paartjies van mekaar weghou. “Kinders neem ook ’n mens se lewe oor. Ons is baie keer só besig dat ons vergeet om lief te wees vir mekaar en vir God. Ons kla dat ons nie tyd het nie, maar ons sit ure voor die televisie en kyk sport. Daar is genoeg tyd, maar ons is te lui om te werk aan liefde en verhoudings en ook aan ons verhouding met God. Dis scary hoe baie tyd ons mors aan snert en dan wonder ons hoekom lyk ons huwelike en ons lewens só.”
Doktor Isak Burger, president van die AGS, meen die meeste van ons faal om te onderskei tussen “belangrike” dinge en “dringende” dinge. “Dis noodsaaklik dat ons so vroeg as moontlik moet bepaal wat is die rêrige belangrike dinge in die lewe. Die beste manier om dit te bepaal, is om vir ’n paar mense wie se lewenspad einde se kant toe staan, te vra hoe hulle hul lewens sou leef as hulle dit kon oorhê. Met weinig uitsondering sal dit méér en beter tyd met God, hulle huweliksmaat en hulle kinders insluit. Dit is dikwels die druk om onsself te vestig en te bewys in ons loopbaan en die gejaag na materiële dinge wat ons energie en tyd só steel en opneem dat ons die belangrike dinge in die lewe verwaarloos.”
Hoekom ’n “vas” vir die huwelik?
Frans dink ’n vas kan ’n goeie ding wees as al die tyd wat gespaar word aan mekaar gegee word. “Ons kyk net een game Superrugby en nie almal nie. Vir die res is die televisie af en ons gesels. Of ons vas van die kinders en kry gereeld ’n babysitter en gaan uit of bly net rustig by die huis en gee aandag aan mekaar. Ons praat oor ons eie drome en nie net oor die kinders en alledaagse dinge nie,” meen hy. Frans voel sterk daaroor dat wanneer ’n mens meer tyd het, jy ook meer tyd saam met God moet spandeer. “My pa het altyd gesê dat as hy en my ma saam bid, dan sê sy dinge vir die Here wat hy ook sommer moet hoor … dit het hom baie gehelp in die huwelik.
Die huwelik is deur God ingestel en as ons daaraan aandag gee, dan gee ons aan God ook aandag as ek dit so kan sê, want ons werk tevergeefs aan die huwelik as God dit nie bou nie. God is deel van die verhouding, want Hy is liefde.”
Isak beklemtoon dat dit van die grootste belang is dat ’n mens se motief eerbaar en korrek is wanneer jy vas. “Eerstens gaan dit nie daaroor om jouself as martelaar te sien en jou as’t ware self te wil straf of folter nie. Tweedens moet daar ook gewaak word dat dit nie subtiel gebruik word om iemand te manipuleer deur ‘martelaar’ te speel nie. Derdens moet ons besef dit gaan nie oor ’n ‘eetstaking’ om sodoende iets van God te eis nie. Wanneer ’n mens besef dat dit ten diepste oor verootmoediging en gefokusde toewyding aan God gaan, kan die uiteindelike uitkoms van só ’n vas- en gebedstyd geseënde gevolge hê.”
Dokter Chrisna von Gericke, ’n mediese dokter van Windhoek, bied gereeld saam met haar man Dawie Fourie, wat betrokke is by die African Leadership Institute, huwelikseminare aan. Chrisna glo dat ’n man en vrou vir seker saam of individueel kan vas in die huwelik, maar dan moet die vas spesifiek wees om meer tyd saam met God deur te bring en nie saam met mekaar nie. Die fokus moet op God val. “Vir die huweliksverhouding om te groei, moet ons dikwels sekere dinge doelbewus doen, maar ook – soos vas – sekere dinge doelbewus los, sodat ons meer tyd saam as man en vrou kan deurbring. Só ’n verhouding is dan tot eer van God se Naam,” gee sy raad.
“Die dinge wat dikwels klein jakkalsies is wat ons tyd en ons alleenwees steel, moet beslis geïdentifiseer word en doelbewus geadresseer word. Ek sou dit nie noem dat ons daarvan moet vas nie, want dan kan dit die idee skep dat dit net van tyd tot tyd nodig is. En vas se doel is om op God te fokus, nie op mekaar nie. Nee, ek sou dit eerder neerskryf en sê dat sekere gewoontes ’n móét is in die huwelik om die verhouding te laat groei. Dis ’n doelbewuste, voortdurende ‘veg’ vir tyd alleen. Dan is die fokus op mekaar, jul lewe saam en daarom ook op God.”
Hoekom wil jy “vas” van tyd-boewe?
Dit is belangrik dat julle as paartjie moet vasstel wat julle wil bereik in jul huwelik en in jul verhouding met God. Eers dan kan julle bepaal hoe julle dit gaan doen en waarmee julle dan julle tyd gaan vul. Frans stel voor: “Dalk kan julle commit om elke dag vir ’n maand lank ten minste een keer per dag langer as 40 sekondes te soen of elke dag ten minste saam Bybel te lees en te bid. Om weer te soek na die dinge wat ons lank terug na mekaar toe aangetrek het, verlief gemaak het, wat ons dalk vergeet het.”
“As die regte gesindheid aanwesig is, herinner die vas ’n mens gedurig aan die rêrige belangrike dinge waaroor die lewe gaan – beginnende by ons verhouding met God. Dit stel jou voor God in groter afhanklikheid, broosheid en ontvanklikheid. Wanneer ’n egpaar besluit om dit gesamentlik te doen, sal dit waarskynlik nie net lei tot groter intimiteit met God nie, maar ook ’n nader beweeg aan mekaar,” gee Isak raad.
Hoe werk ’n vas?
“In die Bybel was daar eintlik net twee vorme van vas: Eerstens om alle voedsel uit te sny en net water te drink. Tweedens ’n radikale vas deur geen voedsel of water in te neem nie. Laasgenoemde moenie vir langer as drie dae gedoen word nie, aangesien dit ernstige nierskade en selfs die dood tot gevolg kan hê. Daniël se ‘vas’ van groente en water was eintlik ’n spesiale ‘dieet’, verduidelik Isak.
“Daar is deesdae verskillende vorme van vas wat beoefen word – dikwels as gevolg van werk-verantwoordelikhede of as gevolg van medikasie wat nie op ’n leë maag geneem kan word nie. Só ’n vas kan daaruit bestaan dat net rou kosse – vrugte en slaai – geëet word of dat net vloeistowwe gedrink word. Sommige beskou enige ‘opofferings’ soos die opgee van koffie, televisie-kyk of enige ander persoonlike ‘plesiertjie’ as ’n vorm van vas. Miskien is sommige sulke ‘vaste’ eintlik maar net ’n stukkie selfdissipline. Vir die oorweldigende meerderheid mense sal ’n dag of meer sonder kos (veral wanneer koffie of ander eet- en drinkgoed met nadelige inhoud uitgesny word) gesondheidsvoordele inhou. Wanneer daar egter tydens die vastyd opreg gefokus word op ons verhouding met God en met mekaar, sal die geestelike betekenis en waarde ook nie uitbly nie.”
Doktor Bennie Mostert, ’n kenner op die gebied van gebed, sê hy voel persoonlik ongemaklik met die woord “vas” in hierdie konteks. “As jy vir ’n periode van hierdie goed vas, wat doen jy ná die tyd? Jy doen weer dieselfde goed wat die probleem help veroorsaak het. ’n Mens sal eerder moet dink aan langtermyn alternatiewe. ’n Mens ‘vas’ nie van klein jakkalsies nie, jy roei hulle uit.”
Bennie glo dat die mees algemene dinge wat paartjies weghou van mekaar en van God te min tyd vir God is. “Of jy het nog nie ’n finale keuse gemaak dat God alleen jou lewe bepaal en die middelpunt daarvan sal wees en jy alles gaan doen om dit in plek te hou nie. God is nóóit ’n prioriteit nie. God is of die rede vir my bestaan of Hy is nie. In hierdie sin kan God nooit ’n prioriteit wees nie. ’n Tweede ding is doodgewoon dat ons sonde doen, dit ander name noem en dit nie bely en laat staan nie.
Deur hierdie twee goed reg te stel, kan mens al baie ver kom,” verduidelik hy. “Vas is vir my iets anders as om my net van ’n aantal dinge te weerhou. Dit is nie vas nie – dit vervlak vir my die betekenis van die woord. Dan word enige ding ‘vas’ en dan het dit geen betekenis nie. As ons wil praat oor dinge wat ons vir ’n periode wil los of uitsny, is dit reg, maar maak dan seker dit is nie juis hierdie goed wat deel van die probleem was nie.”
Aksieplan!
Bennie sê: “Daar is honderde goed wat ’n mens kan noem. Dit sal goed wees om eerder drie tot vier (nie meer nie) vrae te vra – die paartjie moet sit en dit self antwoord. In ’n gesprek met mekaar en nie met ’n berader tussenin nie. Wat maak dat ons nie by mekaar uitkom nie – is dit tyd? Of is daar ’n ander probleem? Watter sonde is daar in elkeen van ons se lewens wat blokkasies vorm teen kommunikasie en eenheid? Derdens: Wat is daar wat ek doen waarvan jy nie hou nie of wat jou irriteer – laat hulle dit eerlik met mekaar bespreek en daaraan werk. ’n Vas van kos is ’n moontlikheid – dan moet julle met mekaar saamstem om dit te doen (vir ’n dag tot drie) en dit is dan om God se aangesig te soek vir oplossings en antwoorde.” Hier is nog ’n paar idees:
1. Skryf elkeen die top vyf dinge neer wat die meeste van julle tyd opneem. Kyk na mekaar se lysies en vul mekaar se lysies aan indien julle ooreenstem oor nog moontlike tydvrate.
2. Bepaal hoe julle hierdie dinge vir ’n maand kan uitsluit of verminder. Wees realisties, maar moenie net dit vat wat jy wéét jy lag-lag sal kan los nie.
3. Stel vir julle ’n plan op. Byvoorbeeld: Geen TV vir hierdie hele maand nie. Ons gaan geen uitnodigings aanvaar om by enigiemand te gaan braai nie. Bid saam daaroor.
4. Neem daardie “ekstra” tyd en “dagboek” dit amptelik as afsprake vir jou en manlief as tyd waarin julle saam kan bid en Bybelstudie doen, saam kan lag en saam kan droom. Gebruik hierdie tyd veral ook om nader aan God te kom.
5. Dit gaan geen piekniek wees om sommer net skielik op te hou met dit wat voorheen baie van julle tyd opgeneem het nie. Help mekaar, ondersteun mekaar! Sê ook eerlik vir mekaar: “Dis vir my baie maklik om sonder ‘a’ oor die weg te kom, maar ek sukkel vreeslik sonder ‘b’ en ‘c’.”
6. Wat maak julle ná ’n maand? Kyk hoe julle doelbewus kan voortgaan om minder belangrike goed in julle lewe te verminder sodat julle eerder aan julle huwelik kan bou.
7. Eet een ete per dag as volle gesin saam om ’n tafel, met geen TV in die agtergrond nie. Só word die gesin gebou, en kan die kinders ook sien hoe ma en pa met mekaar gesels en inligting deel. “Gebruik die tyd ook om die dag se bedrywighede te bespreek,” meen Chrisna.
8. Sy sê ook ’n man en vrou moet weekliks een aand opsy sit vir alleen saam kuier. “Dit kan ’n date night wees soos om alleen uit te gaan vir ete en te gesels. Of dit kan couch time wees – alleen in die sitkamer, kinders in die bed of agter lessenaars en die TV af, kuier en gesels op die bank (nie in die bed in die slaapkamer nie). Die idee is juis om te gesels – nie om net inligting te deel nie, maar ook gevoelens.”
Chrisna stel ook voor dat ’n paartjie drie keer per jaar alleen weggaan vir ’n naweek (of ten minste een naweek-aand). “Een van die drie geleenthede moet verkieslik ’n ‘leergeleentheid’ wees, soos die bywoon van ’n huweliksverrykingseminaar. Só ’n naweek is nét vir man en vrou. Jy is nie ’n slegte ouer as jy jou kinders vir ’n naweek onder die sorg van iemand betroubaar los nie! Inteendeel, jy versterk juis die huweliksverhouding, wat vir jou kinders belangrik is.”
Artikel deur Ernalize du Toit